Share

Raad vir menopouse

“Ek kook,” kla my middeljarige buurvrou by ons vriendin se vyftigste verjaardagteeparty en waai haar met ’n tydskrif koel. “Ek kan skielik nie slaap nie en rol heelnag rond,” kla nog een.

“Ek skrik weer papnat gesweet wakker. En almal in my huis moet deesdae koes. Ek weet nie wat met my aangaan nie – ek staan vrolik op, maar teen middagete voel ek mistroostig en huil sommer uit die bloute.”

Dit gons om die teetafel. Die meeste van my vriendinne is in hul menopouse, maar die verjaardagvrou is komkommerkoel.

“Ek kan nog nie kla oor mý middeljare nie, maar my man! Dis asof ek saam met ’n vreemdeling leef. Nuwe motor, nuwe haarstyl, nuwe klere, maar in die bed is daar niks van hom oor nie.”

Verwarring oor behandeling

Almal se klagtes oor die menopouse verskil.

Dié stortvloed van klagtes laat my besef wat dalk my voorland is. Ek gaan steek by ’n paar dokters kers op – nie net om voorbereid te wees op wat vir my voorlê nie, maar ook om te verstaan wat met my vriendinne (en vriend!) aan die gang is. Daarby is daar soveel verwarring oor die behandeling van menopouse dat ek hulle behoorlik met vrae bestook.

“Menopouse” en “hormoonterapie” (HT) is twee woorde wat middeljarige vroue bykomende golwe warm gloede besorg omdat daar soveel wanopvattings en verwarring oor albei begrippe bestaan, stem die dokters saam. Voeg daarby manlike andropouse en dit raak ’n prutpot.

My vrae is aan dr. Tobie de Villiers, ginekoloog en bestuurslid van sowel die Suid-Afrikaanse Menopousale Vereniging as die Internasionale Menopousale Vereniging.

HG-Pols: Wat is die beste behandeling vir al die simptome?

TdV: Die enigste behandeling wat alle simptome dramaties laat verbeter, is hormoonterapie (HT), wat estrogeenhormoonterapie (EHT) alleen, of ‘n kombinasie van estrogeenen progesteroonterapie (EPT) insluit.

Alle vroue is nie eenders nie, maar geen vrou hoef weens haar simptome te ly nie, want estrogeenbehandeling – hetsy alleen of saam met progesteroon – werk werklik. Jou warm gloede en nagsweet (dis eintlik nagtelike warm gloede) behoort binne veertien dae te verdwyn. Daarby sal jy weer beter slaap, minder buierig voel en jou lewensgehalte sal sommer verbeter.

Hormoonbehandeling sal ook die gevaar van osteoporose en hartsiektes verlaag as jy dit so gou moontlik ná menopouse begin gebruik.

Omdat warm gloede en ander onaangename simptome van menopouse gewoonlik nie langer as vyf jaar duur nie, sal jou dokter die behandeling ná vyf jaar onderbreek om te sien of jy dit nog nodig het.

As HT gebruik word om osteoporose te behandel of te voorkom, kan die behandeling langer as vyf jaar duur met die goedkeuring van ’n kundige, maar verkieslik word hormone vir vroue ouer as sestig jaar deur middel van ’n velplakker, wat ’n laer dosis vrylaat, toegedien. As jy ’n geskikte kandidaat vir EHT is, is die uitwerking beter hoe gouer jy dit begin gebruik. Dit is beskikbaar in pilvorm, as plakkers en allerlei jels.

HG-Pols: Moet alle menopousale vroue dan voor die voet hormoonvervangingsterapie kry?

TdV: Nee! Eerstens is net een tot twee uit vyf menopousale vroue se simptome so erg dat behandeling nodig is, en tweedens is alle vroue nie geskik vir HT nie.

Dit is belangrik om te onthou dat die menopouse dalk ongerieflik is, maar nie ’n siekte is nie. Dis net ’n fisiologiese werklikheid wat alle vroue ondervind. Baie vroue sê hulle voel rustiger, wyser en meer tevrede met hulself as die ongerieflike deel net eers agter die rug is.

Omdat hormoonterapie gevaarlik vir sommige vroue kan wees, moet ’n vrou eers deeglik deur ’n ginekoloog ondersoek word voordat sy as ’n kandidaat daarvoor beskou word.

Menopouse is ’n uitstekende geleentheid vir vroue om aandag aan hul algehele gesondheidstoestand te skenk. Kyk ’n bietjie na jou eetgewoontes en liggaamsmassa. Raak fikser en stres minder. Laat doen die toetse wat die dokter voorskryf. Dit sluit gewoonlik ’n cholesterol- en bloedsuikertoets in (nadat jy volgens voorskrif gevas het). ’n Mammogram, tiroïedfunksie- en beendigtheidsbepaling is ook op die lysie van moet-toetse.

HG-Pols: Waarom verander dokters elke paar jaar hul deuntjie oor hormoonterapie? Is dit veilig of nie?

TdV: Vergeet van navorsers se vertolking van die bevindings van die Women’s Health Initiative (WHI). Die WHI-skrywers skuld die wêreld se vroue en dokters ’n verskoning vir die verwarrende boodskap wat hulle die wêreld ingestuur het. Hulle het die gevare van HT oordryf.

Hormoonbehandeling is baie veilig, mits dit reg gebruik word.

Só verander jou risiko’s:
’n Geringe verhoogde risiko (47 uit 10 000 vroue pleks van 45 uit 10 000) van borskanker met verloop van tyd, maar net in gevalle waar estrogeen en progesteroon saam gebruik word (dis noodsaaklik as jy nog jou baarmoeder het). Dit kom nie voor by vroue wat net estrogeen gebruik nie.

Die risiko van bloedklontvorming by pasiënte ouer as sestig jaar raak hoër – van 16 uit 10 000 vroue tot 34 uit 10 000 vroue. Die risiko is klein en verhoog met ouderdom, maar is op sy hoogste in die eerste jaar van behandeling.

Daar is ook ’n klein verhoogde risiko van beroerte as jy ná sestig met HT begin; 29 uit 10 000 pleks van 21 uit 10 000. Anders as met bloedklontvorming verander die risiko nie ná die eerste jaar van behandeling nie.

Die verhoogde risiko’s stop sodra die behandeling ophou, maar die beskermende uitwerking teen osteoporose en dikdermkanker stop ook dan.

HG-Pols: Wat van natuurlike middels en kruiemiddels?

TdV: Anders as HT, hoef alternatiewe middels nie aan die streng vereistes van die SA Medisynebeheerraad te voldoen voordat hulle op die rak beskikbaar is nie. Dat HT werk, en góéd werk, is bo alle twyfel met deeglike, beheerde navorsing bewys. Dit kan ongelukkig nie van kruiemiddels gesê word nie.

Sommige navorsers reken dat plantestrogene in die kruid swart kohosh en in soja (maar nie sojapille nie) wel kan help om warm gloede te verlig. Hoewel sommige vroue sweer dit werk, het ’n nuwe Amerikaanse studie deur die National Institutes of Health pas opnuut bewys dat plant-estrogene niks meer as troosmedisyne is nie.

Mense neem dikwels aan dat medisyne wat van plante kom, noodwendig veilig is, maar daar is nie bewyse dat dit wel die geval is nie. Sommige kruiemedisyne kan ernstige newe-eff ekte hê en selfs jou lewer beskadig, of inmeng met die werking van jou ander medikasie. Gesels met jou dokter voordat jy kruiemiddels begin gebruik.

Dit is ironies dat almal wat natuurlike middels wil gebruik, wegskram van EHT, terwyl alle estrogeen wat dokters voorskryf, van natuurlike oorsprong (plant of dier) is. Dit word effe aangepas sodat dit presies ooreenstem met die estrogeen wat natuurlik deur die liggaam vervaardig word. Dis so natuurlik dat die vrou se liggaam nie kan onderskei tussen haar eie estrogeen en estrogeenbehandeling nie.

Tydens menopouse word estrogeenproduksie vanaf die eierstokke totaal gestaak, maar voorloper hormone vanaf die bynier bly in die bloedstroom sirkuleer. Dié hormone word in vetselle omgeskakel tot estrogeen, wat verduidelik hoekom oorgewig vroue met baie vetselle langer meer estrogeen het as maer vroue.

HG-Pols: Wie mag dan nie HT gebruik nie ?

TdV: Hormoonbehandeling sal gewoonlik nie oorweeg word vir pasiënte met ’n eie of familiegeskiedenis van bloedklonte, beroerte of borskanker nie. Hormoonbehandeling behoort ook nie vir die eerste keer gebruik te word ná sestig nie.

Daarby word vroue met ’n baarmoeder behandel met ’n kombinasie van estrogeen en progesteroon. Hoewel estrogeenbehandeling alleen effe veiliger is as die kombinasie- behandeling, is kombinasie-behandeling ook baie veilig en doeltreffend as dit nie langer as vier jaar volgehou word nie, en nie vir vroue ouer as sestig gegee word nie.

Dit is beslis nie die moeite werd vir ’n vrou om ’n histerektomie te ondergaan net sodat sy die minimale voordeel van estrogeenbehandeling (sonder progesteroon) kan smaak nie.

HG-Pols: Wat kan ’n vrou doen as sy nie HT of kruiemiddels wil gebruik nie?

TdV: Probeer eers jou simptome met eenvoudige gesonde verstand verlig (sien kassie langsaan). Dis net wanneer dié soort praktiese benadering nie help nie dat mediese behandeling oorweeg word. Dié raad sal ook help vir die vroue wat nie HT wil gebruik nie, omdat hulle lastige newe-effekte ervaar, want sommige vroue swel op van HT, hul borste voel teer en hul emosies ry wipplank.

Hier is ’n bietjie raad

Warm gloede
Dis die algemeenste simptoom: tussen 75 en 80 persent van menopousale vroue ervaar dit. Dit duur meestal minder as vyf minute, maar sommige vroue word elke vyftien minute deur ’n gloed getref. Dis erger laat in die middag, as dit warm is, en nadat jy warm koffie of tee gedrink het of warm of sterk-gegeurde kos geëet het of gestres is. Dit word ná so twee jaar algaande minder.

Dis wys om verskeie lae klere aan te trek wat jy na gelang van jou hittevlaag kan uit- en aantrek.

Sit voor ’n waaier by jou huis of kantoor. Vermy warm drankies, kerrie- en ander spesery-kosse en drink lekker koue water. Hoewel jy ’n warm gloed kan kry terwyl jy oefening doen, kan gereelde oefening help teen die gloede en om slaaploosheid te verlig. Dis ook interessant dat lae dosisse van spesifieke antidepressante ook warm gloede kan verlig.

Nagsweet
Slaap in ligte slaapklere. As jy jou sopnat sweet in die nag, spring maar op en gaan stort vinnig.

Slaapprobleme
’n Halfuur se oefening per dag kan baie help vir slaaploosheid, solank dit nie laatmiddag of in die aand is nie. Vermy rook, groot maaltye, koffie en alkohol ná vieruur die middag, en moenie laat in die aand werk nie. Maak seker dat jou kamer donker en koel is.

Gemoedskommelings
Veral vroue wat premenstruele buie en nageboorte- depressie ervaar het, kan sukkel met buierigheid. HT sal help vir dié gemoedswisselings. Onthou, dis nie dieselfde as depressie nie.

Droogheid
’n Nie-voorskrif inwendige smeerroom (soos KY® Jelly) of estrogeenroom kan baie help.

Vergeetagtigheid
Moenie alleen voel as jy voel jou denke is “wollerig” nie. Dit sal weer weggaan. Sorg dat jy genoeg slaap kry en elke dag oefening doen.

As gids is dit goed om te onthou dat hormoonbehandeling nie vir almal geskik is nie. Maar vir dié wat dit wel mag gebruik, is dit nie nodig om met die menopouse lewensgehalte in te boet nie, aangesien HT ’n veilige opsie is wat werk. Daarby het elke pasiënt die reg om ’n ingeligte besluit daaroor te neem. Maar dis gewis nie iets wat as “fontein van voortgesette of ewigdurende jeug” beskou moet word nie.

Menopouse in ’n neutedop

Menopouse, uit Grieks vertaal, beteken letterlik “die laaste stonde”, maar in die volksmond verwys die term meer algemeen na die oorgangsfase nadat ’n vrou die heel laaste keer gemenstrueer het.

Die gemiddelde ouderdom waarop die menopouse begin, is wêreldwyd 51 jaar, maar dit kan enige tyd tussen 45 en 55 jaar intree. ’n Klein groepie vroue sal premature of vroeë menopouse voor dié ouderdom beleef. Dit is nie normaal nie en word anders hanteer.

Die aanloop tot die menopouse (die perimenopousale fase) kan ná 45-jarige ouderdom begin. Maandstondes wat onvoorspelbaar wegbly en kom, is ’n kenmerk van dié fase. Behandeling in hierdie fase is meestal nie nodig nie.

In die ou dae
Teen die einde van die negentiende eeu was die aanvangsouderdom vir die menopouse, ook soos vandag, 51 jaar, maar die gemiddelde lewensverwagting van vroue was veertig. Vroue het dus gesterf voordat hulle hul menopouse bereik het, maar vandag is die lewensverwagting van ’n vrou in die Eerste Wêreld diep in die tagtig.

Wat gebeur in jou lyf?
Maandstondes hou gewoonlik op omdat die eierstokke (ovaria) nie meer maandeliks eiertjies vir bevrugting vrystel nie. Dit veroorsaak dat die produksie van die vroulike hormoon estrogeen vir alle praktiese doeleindes ophou. In normale omstandighede vind dié sogenaamde ovariële versaking plaas wanneer die kwota eiertjies waarmee ’n vrou gebore word, opgebruik is of die gehalte daarvan onvoldoende is.

Wat is die simptome?
Die skielike afwesigheid van estrogeen het ’n reuse uitwerking op die liggaams- en gemoedstoestand.

Een van die eerste dinge wat erg deurmekaar gekrap word, is die temperatuur-beheersentrum in jou brein, wat jou skielik warm kan laat kry. Aan die begin is warm gloede, nagsweet (nagtelike warm gloede), slaaploosheid, emosionele wisselvalligheid en gewrigspyne die algemeenste simptome. Later volg sowel verdunning van die vaginale wand wat tot seksuele ongemak lei, as ’n groter risiko vir hartvatsiektes, osteoporose en vergeetagtigheid. Jou vel raak ook geleidelik dunner en plooierig en jou hare dunner, en die kans dat jy ’n vet magie ontwikkel, raak al groter.

Deur Mariëtte Crafford

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE