Share

Hoe gemaak met nierprobleme?

accreditation

 

Die tweelingbroers Hugo en Kobus Pienaar was van kleins af geheg aan mekaar. Hier is hulle as kleuters, min wetend dat hul bloedband later Hugo se lewe sou red.

Niersiektes kan enigeen tref. Sommer net so. Stilweg, maar dodelik. Jy kan vandag springlewendig en gesond wees en oor ’n paar jaar kan jou lewe van ’n nieroorplanting afhang.

Een enkele kwaai keelseer, een sarsie malaria is genoeg om jou niere só te beskadig dat hulle kan versaak. Dit kan geleidelik oor ’n tydperk van maande, dalk jare gebeur – of skielik.

Die ontstellendste is dat die eerste simptome van nierversaking dikwels eers verskyn wanneer jy al 60 tot 70 persent van jou nierfunksie verloor het; wanneer jou niere al kwaai beskadig is en daar nie meer geneeskans is nie.

Nierontsteking

En as jy al een keer in jou lewe nierontsteking gehad het, het die proses van nierskade dalk al begin. As jy meer as een keer nierontsteking gehad het, moet jy bewus wees dat dit jou niere kan beskadig.

“Dit is ’n internasionaal aanvaarde riglyn dat jy dan ’n uroloog of nierspesialis behoort te raadpleeg vir verdere toetse,” waarsku dr. Hendrik Viljoen, ’n Johannesburgse nefroloog (nierspesialis).

Hugo Pienaar (50) van Johannesburg was ’n sterk en gesonde skoolseun toe hy in matriek ’n keelinfeksie gekry het. Hy het gedink dis net ’n kwaai keelseer soos wat almal maar gereeld en veral in die winter kry. “Maar die kiem wat my keelseer gegee het, het my niere aangetas en later laat ingee.”

’n Keelinfeksie wat deur ’n streptokokkusbakterie veroorsaak word, is maar een van die kieme wat ’n mens se immuniteitstelsel kan belemmer en jou organe kan aanval. Malaria, diabetes, baie anti-inflammatoriese pille en ander siektes kan dit ook doen. Dié vreemde immuunreaksie kan eers tot een keer se nierontsteking lei, wat dan herhaalde ontstekings word, en dan word dit chronies. Dan rig die aanhoudende ontsteking uiteindelik sulke groot skade aan die niere aan dat hulle glad nie meer werk nie, verduidelik Hendrik.

Dis presies wat met Hugo gebeur het. Die eens gesonde jong man het begin siek word. “Ek het dwarsdeur my twintigs gesukkel met chroniese nierontsteking, wat gepaardgegaan het met hoë bloeddruk, hoofpyn en waterterughouding wat my bene en lyf laat swel het.”

Hy was baie bewus van sy swak gesondheid en het nog harder gewerk om uit te blink bo ander mense van sy ouderdom om dit te vergoed. Hy het ondanks alle terugslae aan sport deelgeneem en S.A. kleure in judo en tennis verwerf, en sy regstudies met mening voortgesit.

Lewensbedreigend

Maar teen die ouderdom van 29 was die skrif aan die muur: Sy niere het versaak. ’n Mens kan oorleef met een gesonde nier, of al funksioneer jou twee niere saam nie heeltemal nie. Maar as jou niere minder as 30 persent werk, word dit lewensbedreigend. Hugo se nierfunksie was soos dié van ander mense wie se niere versaak: nul.

Hy moes met dialise begin net om te oorleef.

Selfs wanneer ’n nierpasiënt drie of vier keer per week ure lank aan ’n dialisemasjien gekoppel is, kan die masjien net ’n skrale 5 persent van die funksie van die niere verrig. Dis net voldoende om genoeg gifstowwe uit die liggaam te filtreer om ’n mens aan die gang te hou tot die volgende dialise.

Soos ander dialise-pasiënte het Hugo die elf maande dat hy van dialise afhanklik was maar voortdurend moeg en sleg gevoel. Sy toestand het verswak. Hy kon nie eet nie en was gelerig van al die ureum-afvalstof wat in sy lyf opgehoop het. Mense op dialise se lewensgehalte is baie laag en hul lewensverwagting baie laer as dié van mense met gesonde niere.

’n Nieroorplanting is al langtermynuitweg vir mense met nierversaking. Die keuse is eenvoudig: óf ’n oorplanting wat jou ’n kans van 70 tot 85 persent gee om langer as vyf jaar te leef, óf om binne ’n paar jaar een van die land se nierstatistieke te word. Want jaarliks sterf meer as 10 000 Suid-Afrikaners aan niersiektes of nierversaking.

Hugo se nie-identiese tweelingbroer, Kobus, het sy nier aangebied, want ’n gesonde mens kan met een nier lewe – mits die skenker en ontvanger se weefsel ooreenstem. Ál meer nieroorplantings word uitgevoer waar die skenker ’n lewende familielid is omdat die 160 nier oorplantings wat jaarliks in die land gedoen word met niere van brein dood skenkers hopeloos te min is om die duisende nierpasiënte te help.

’n Nuwe lewe

Soos Kobus gaan daar elke jaar sewentig tot tagtig mense oor tot dié onbaatsugtige stap om ’n nier aan ’n familielid te skenk. Die oorplanting kan tussen broers plaasvind soos Kobus vir Hugo sy nier geskenk het, en Kevin Snyman vir sy broer, die radioman Evert Snyman. Of ’n ma kan haar een nier vir haar dogter skenk soos Alfreda Arendse van Kaapstad vir haar enigste kind, Keren-Leigh. Of die skenking kan van suster tot broer plaasvind, soos toe Ellen Husselman van Durbanville aan haar broer Bertie ’n nier geskenk het.

Wat vir die skenkers narkose en ’n operasie van sowat ’n uur beteken – en die lyfseer en ongerief wat so ’n week ná die operasie grootliks iets van die verlede is – beteken vir die ontvanger letterlik ’n nuwe lewe. Skenkers se risiko’s is minimaal: Hulle behou altyd die beste nier, want die filosofie is dat die skenker nooit ná die operasie slegter daaraan toe moet wees as vooraf nie. As die skenker ooit self nierontsteking kry, tas dit buitendien albei niere aan.

Soos die meeste lewende skenkers het Kobus nie veel oor sy besluit getob nie, maar dit beskou as iets wat hy vir sy ouer broer – hulle is vyf minute uitmekaar gebore – móés doen.

Nie Hugo of Kobus sal 25 April 1988 sommer vergeet nie. Dit was net twee dae voor hul dertigste verjaardag, maar vir Hugo was dit die begin van ’n nuwe lewe. Kobus se skenkernier het onmiddellik ná die oorplanting begin werk, en Hugo het dadelik beter begin voel. Daardie selfde aand kon hy aan ’n skaaptjop smul nadat hy byna ’n jaar lank gesukkel het om kos in sy lyf te kry.

Vandag is Hugo Pienaar, die man wat sonder die geskenk van sy broer nie sy dertigerjare sou oorleef nie, vyftig jaar oud, ’n hoogleraar en konsultant in handels- en arbeidsreg aan die Noordwes-universiteit, en die pa van drie pragtige kinders.

’n Normale lewe

Hy sal Kobus se onbaatsugtige skenking nooit vergeet nie. “Dit het vir my ’n nuwe lewe gegee, en ook die kans om nog twee keer daarna pa te word. Hy het beslis vir my die grootste geskenk gegee wat ’n mens vir iemand anders kan gee. Ek sou dood gewees het.”

Hy lewe sy “tweede lewe” voluit en “absoluut normaal”, al moet hy vir die res van sy lewe medikasie gebruik om te keer dat sy liggaam die skenkernier verwerp. Hy hou steeds nie van groente nie, maar ná die operasie het sy hare begin krul en sy broer s’n het reguit geword – so asof dit ’n uiterlike teken moet wees dat een iets van die ander gekry het.

Ook Kobus lei ’n normale lewe. Hy is ’n suksesvolle sakeman van die Vaaldriehoek, sy enigste dogter is ná die skenking gebore, en in die afgelope twee dekades het hy nog geen gesondheidsprobleme ontwikkel nie, al het hy net een nier.

“Dis eintlik nie eens iets waaraan ek dink nie. Ek lewe voluit, en is byvoorbeeld ’n 4×4- geesdriftige wat gereeld op ekspedisies in die Kalahari en Namibië gaan. Ek kan jou verseker ek sou dit nie kon doen as ek nierprobleme gehad het nie.

“Ek ry nie eens met ’n nierbelt motorfiets nie,” vertel Kobus. “Dis hoe normaal my lewe is, al het ek aan my broer ’n nier geskenk.”

Hoe voel hy oor die ongewone geskenk wat hy vir sy broer gegee het? “Dit was ’n lewensverrykende ervaring om dit vir Hugo te kon doen, veral omdat hy so ’n wonderlike mens is.”

Hugo lewe al twintig jaar lank met sy nuwe nier, en meer lewende familieoorplantings word nou gedoen as twintig  jaar gelede – met nóg groter welslae.

Broer-tot-broer-oorplanting

Die bekende radiopersoonlikheid Evert Snyman (53) was jare lank onbewus daarvan dat hy aan ’n nierafwyking ly.

’n Uiters seldsame siekte, fibrillêre glomeropatie (daar is net vyf geïdentifiseerde gevalle in Suid-Afrika), is gediagnoseer kort nadat hy in die winter van 2006 ’n dokter besoek het omdat hy moeg was en sy bene geswel het.

Vroeg in 2007 het Evert se niere versaak. Hy moes ’n nuwe nier kry. Evert en sy broer Kevin (50) se weefsel het ooreengestem en hy was ’n geskikte skenker.

Vir Kevin was dit nie ’n moeilike besluit nie. “As ek dit nie gedoen het nie, sou hy nie kon bly lewe nie. En die skenking het glad nie my lewe beïnvloed nie. Ek leef presies soos voorheen.”

Op 20 Julie 2007 is die twee broers geopereer – die een om lewe te ontvang, die ander om dit te gee.

Al moet Evert voortaan lewenslank daagliks immuunonderdrukkers, antibiotika, steroïede en cholesterolpille drink om sy nuwe nier ten beste te laat funksioneer en te beskerm, vind hy dit ’n klein prys om te betaal vir ’n tweede lewe.

Ma-tot-dogter-oorplanting

Alfreda Arendse (47) van Kaapstad het in November verlede jaar ’n nier aan haar dogter, Keren-Leigh Arendse (21), geskenk. Keren-Leigh was dertien jaar oud toe sy begin kla het van keelseer en rugpyn, maar nierprobleme is ongelukkig eers jare later gediagnoseer.  ’n Uiteindelike biopsie het gewys haar niere is beskadig. Ná verskeie behandelings wat nie wou help nie, het haar nefroloog vroeg verlede jaar ’n nieroorplanting voorgestel. Alfreda het nie ’n oomblik geweifel om haar nier te skenk nie. “Dis amper asof ek van voor af begin lewe,” sê Keren-Leigh.

Suster-tot-broer-oorplanting

Ellen Husselmann (46) van Durbanville, Kaapstad, het haar regternier aan haar broer Bertie de Beer (48) van Hopefi eld geskenk. Hy het polisistiese niersiekte van hul ma geërf – soos al sy ander broers en susters behalwe Ellen, wat ál gesinslid is wie se niere nie aangetas is nie. Gelukkig stem haar weefsel met syne ooreen en kon die oorplanting gedoen word. Die oorplanting is in die Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad uitgevoer, waar minstens een nieroorplanting per week gedoen word. Bertie se nuwe nier het begin werk nog voor die operasie afgehandel is. “Ek kan nie glo dat ek soveel beter voel nie. Ek sien weer kans vir dinge,” sê hy.

Het jy ’n groter kans op nierversaking?

As jy “ja” antwoord op enige van dié vrae, moet jy ekstra bedag op nierversaking wees. Raadpleeg liefs ’n uroloog of nefroloog vir nog toetse. Nierprobleme kan vroeg opgespoor word met ’n GFR-toets wat bepaal hoeveel afval die niere uit die bloed kan verwyder (die sg. glomerular filtration rate).

- Ly jy aan diabetes?

Sowat 35 tot 50 persent van alle gevalle van nierversaking kom onder diabete voor.

- Ly jy aan hoë bloeddruk?

Sowat 20 tot 25 persent van nierversaking volg weens swak beheerde hoë bloeddruk.

- Het jy meer as een keer nierontsteking gehad?

As glomerulonefritis nie noukeurig behandel en deeglik gemonitor word nie (soos in baie ontwikkelende lande) kan dit tot ’n vyfde van alle gevalle van nierversaking veroorsaak.

- Ly jy aan ’n oorerflike niersiekte

Byvoorbeeld IgA-nefropatie, polisistiese niere of nierkanker. Gee ekstra aandag aan jou gesondheid.

- Gebruik jy heeltyds ’n kateter?

Wees versigtig vir nierinfeksies en laat dit gou en deeglik behandel.

- Gebruik jy elke dag, al vir baie jare anti-inflammatoriese middels vir pyn, inflammasie of koors?

- Is jy so oorgewig dat jou bloeddruk hoog is?

- Is jou cholesterolvlak baie hoog?

- Asem jy gereeld baie lood- of kwikdampe in?


Só werk jou niere

Niere is boontjievormig en die filters van die liggaam. Hulle ruim die liggaam se afvalstowwe op, vervaardig onder meer die ensieme en hormone wat noodsaaklik is vir normale bloeddruk en vir die vervaardiging van rooibloedselle, en beheer jou bloedvolume en -samestelling en die pH-balans van die liggaam.

Hulle beheer die liggaam se kalsium- en ander mineraalvlakke wat noodsaaklik is vir ’n gesonde skelet en gewrigte en vir die gesonde funksionering van die brein, hart en ander organe. Gevaarlike chemiese stowwe (soos medisyne, dwelms en selfs gif) en stowwe wat die liggaam nie meer nodig het nie, soos die afvalprodukte van proteïene, word ook in die niere afgebreek en saam met die urine uitgeskei.

Gesonde niere vervaardig elke dag 150 liter urine, waarvan sowat 148 tot 149 liter bruikbare stowwe, soos proteïene, weer deur die liggaam geabsorbeer word. Ongeveer twee liter urine word uiteindelik daagliks uitgeskei.

As jou niere nie behoorlik werk nie, bou gifstowwe op in jou liggaam en kan jou hele liggaam aangetas word. Jy kan nierprobleme van jou ouers erf of jy kan dit opdoen as komplikasie of gevolg van verskeie siektes.

Die uiteinde van chroniese nierprobleme is gewoonlik nierversaking.

Nierversaking kan óf stadig en stilweg oor maande en jare plaasvind, óf baie skielik.

Die ontstellendste van nierversaking is dat ’n mens in die geval van chroniese nierversaking eers bewus word van die eerste simptome as jy al 60 tot 70 persent van jou nierfunksie verloor het.

’n Nieroorplanting is al blywende oplossing. Dialise help net om ’n mens tydelik aan die lewe te hou. Voorts haal sowat vier uit vyf mense met nierversaking wat van staatsgesondheidsdienste afhanklik is, nie eens ’n dialiselys nie en sterf bloot omdat daar nie genoeg geriewe in die land is nie.

Word ’n orgaanskenker

Dis maklik. Skakel net 0800-22-66-11, of kliek op www.odf.org.za

Jou organe kan ná jou dood vir iemand anders nog ’n kans op lewe of sig gee!


Nierontsteking

Die siekte wat enigeen kan tref

Nierontsteking, bekend as glomerulonefritis, ontstaan nie in die nier nie, maar volg ná ’n ander siekte wat die immuunstelsel aantas. ’n Streptokokkus-keelseer, diabetes, hoë bloeddruk tydens swangerskap, malaria, Hepatitis B, MIV, sifilis, lupus, long- of limfklierkanker, en klierkanker en langdurige gebruik van anti-inflammatoriese middels of dwelms soos heroïen kan nierontsteking en uiteindelik nierversaking veroorsaak.

Glomerulonefritis is die sambreelterm vir nierontstekings waarvan nefrotiese sindroom en immunoglobulien A (IgA)-nefropatie van die algemeenste is. IgA-nefropatie is dikwels geneties en gaan dikwels gepaard met ’n seer keel en pyn in die bekken. Dit is ’n baie algemene vorm van glomerulonefritis, en sowat ’n twaalfde van alle nierversakings kan hieraan toegeskryf word.

Nefrotiese sindroom word gekenmerk deur ’n hoë proteïenvlak in die urine, en ’n lae proteïenvlak in die bloed. Swelling, veral om die oë, voete en hande, en hoë cholesterol is nog simptome. Die toestand kan behandel word deur proteïen in die urine te verlaag deur ’n korrekte dieet en medikasie, asook deur gepaardgaande simptome by volwassenes soos hoë cholesterol en hoë bloeddruk te verlaag. As volwassenes dit kry, is dit dikwels ’n aanduiding van ernstiger nierprobleme en is ’n nieroorplanting dalk later nodig, soos in 2004 vir die All Black-vleuel Jonah Lomu.

Maar nie alle niersiektes eindig in nierversaking nie. Meer as 80 persent van kinders met nefrotiese sindroom kan gesond word.

Die onderliggende siekte kan baie suksesvol met kortisoon behandel word. Danksy vroeë diagnose en noukeurige behandeling is Skye Phillips (8) van Kirkwood in die Oos-Kaap ’n lewenslustige graad 2′tjie. Die proteïenvlak in dié rooikoppie se urine word gereeld getoets en sy ontvang onmiddellik behandeling as daar net die geringste aanduiding is dat haar niere swaartrek. Onder die wakende oog van ’n Kaapse kinder-nefroloog en ’n kinderarts van Uitenhage is sy gesond. Daar is baie kinders soos sy wat gesond gedokter kan word.

Moet nooit dié simptome ignoreer nie

’n Groot verskeidenheid simptome kan aanduiders van nierprobleme wees. Dit is belangrik om so gou moontlik aandag aan enige van dié simptome te skenk omdat simptome van nierversaking eers na vore kom wanneer net sowat 30 of 40 persent van die nierfunksie oor is.

  • Slaaploosheid (’n vroeë simptoom)
  • Swelling, veral van die voete, bene, hande en om die oë weens waterterughouding
  • Bloed in die urine of urine wat rokerig of Coke-kleurig is
  • Meer urine-uitskeiding in die nag as vroeë simptoom, maar later ál minder vervaardiging van urine
  • Lusteloosheid en moegheid
  • Swak eetlus
  • Hoofpyne
  • Lyfpyne en spierpyne (weens die chemiese wanbalanse)
  • Hoë bloeddruk (wat veroorsaak of vererger word as water ophoop)
  • Bloedarmoede (omdat die niere nie meer ’n hormoon produseer vir die maak van rooibloedliggaampies nie)

In gevorderde gevalle is kortasem, onreëlmatige hartklop, geen seksdrang en ’n bleek en gelerige velkleur weens die opgehoopte ureum waarneembaar. ’n Verstand wat nie meer so helder is nie en ’n gehik is simptome wat in ’n gevorderde stadium voorkom.

Deur Ilse Salzwedel

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE