Share

Maak een aanpassing ter wille van jou hart

accreditation

"Een Wêreld, Een Tuiste, Een Hart." Dit is die tema vir Wêreld-hartdag op 29 September 2011. Die Hart- en Beroertestigting van Suid-Afrika (HBSSA) daag alle Suid-Afrikaners uit om net een ding te doen om die gesondheid van hulle hart in September gedurende Hartbewustheidsmaand te verbeter.

Hoeveel van ons dink enigsins aan die gesondheid van ons hart? Hoekom omgee vir jou hart? Jy dink heel moontlik eers daaraan wanneer jou hart jou in die steek laat. Kardiovaskulêre Siekte wat hartsiekte en beroerte insluit, is die wêreld se grootste oorsaak van sterfgevalle. 'n Oorweldigende 80% van hierdie sterftes vind plaas in lae- en middel-inkomste lande – en Suid-Afrika is een van hierdie lande. Die meerderheid van hierdie sterfgevalle kan egter verhoed word deur 'n gesonde dieet gereelde fisiese aktiwiteit en die vermyding van rook.

Dr. Vash Mungal-Singh, uitvoerende hoof van die HBSSA lewer kommentaar: "Na twee jaar se fokus op hartgesondheid in die werkplek doen die HBSSA hierdie Hartbewustheidsmaand 'n beroep op individue om hulle eie en hul familie se risiko vir hartsiekte te verminder deur meer te leer oor die stappe wat gedoen kan word om hartgesondheid by die huis te verbeter en hierdie kennis met ander te deel. Dit is nooit te vroeg of te laat om hiermee te begin nie. Eenvoudige aanpassings kan 'n enorme verskil maak en daar is bewyse dat dit 'n mens se risiko vir hartsiekte verlaag."

"Elke individu moet beheer neem van hul eie en hulle familie se hartgesondheid en tuisvoorstaanders van 'n gesonde lewenstyl word. 'n Voorraad gesonde kos-opsies in die huis, genoeg fisiese aktiwiteit, minder "stoelpatat" gedrag, die verbanning van rook in die huis en motor (d.w.s. jou familie word nie aan tweedehandse rook blootgestel nie) sal baie help om jou familie se hartgesondheid te verbeter. Ek wil veral sien dat ouers net soveel aandag aan hulle kinders se gesondheid gee soos aan hulle opvoeding, veiligheid en finansiële sekuriteit."

'Moenie 'n slagoffer van onkunde wees nie'

Dr. Vash beklemtoon hoe belangrik dit is om nie 'n slagoffer van onkunde te wees nie: "Ons is gelukkig genoeg om in 'n tyd te leef waar 'n hartaanval nie dodelik hoef te wees of gestremdheid hoef te veroorsaak nie. Vinnige optrede en die korrekte behandeling kan lewens red! Leer meer oor die simptome van 'n hartaanval, die risikofaktore en hoe om jou risiko te verlaag, asook wat om in 'n noodgeval te doen indien daar tuis 'n ongeluk gebeur," sê sy. "Laat jou bloeddrukcholesterol en glukose toets en maak seker jy ken die noodtelefoonnommers of het dit byderhand in jou huis."

Globale aandag word op die oomblik op kardiovaskulêre siektes gefokus met die Verenigde nasies (VN) se Hoëvlak Spitsberaad oor Nie-kommunikeerbare Siektes (NKS) wat net voor die Wêreld-hartdag in September vanjaar plaasvind. Nie-kommunikeerbare siektes bestaan uit kardiovaskulêre siektes, diabeteskanker en chroniese asemhalingsiektes, waarvan kardiovaskulêre siektes die grootste oorsaak van sterftes is. Kommerwekkend is die feit dat die oorgrote meerderheid van hierdie siektes voorkombaar is – tot 80% – en dat die meeste daarvan aan lewenstyl-verwante faktore toegeskryf kan word.

Globale spitsberaad

Vir die eerste keer ooit hou die VN se Algemene Vergadering 'n spitsberaad oor nie-kommunikeerbare siektes waarby Staatshoofde betrokke is. Dit vind in September 2011 plaas om die bedreiging aan te spreek wat NKS vir lae- en middel-inkomste lande inhou, waarvan Suid-Afrika een is. Hierdie besluit om die spitsberaad te hou, is eenparig deur die VN se Algemene Vergadering geneem.

Die VN NKS Spitsberaad van Staatshoofde bring regeringsverteenwoordigers van dwarsoor die wêreld bymekaar om oplossings vir die groeiende gevaar van NKS te vind en te besluit watter stappe geneem moet word. Daar was nog net 28 sulke spitsberade in die geskiedenis van die VN, wat die belangrikheid van die besluit en die skaal van die probleem beklemtoon.

Die behoefte vir so 'n globale spitsberaad word beklemtoon deur die feit dat die vier groepe siektes – kardiovaskulêre siekte, diabetes, kanker en chroniese respiratoriese siektes – jaarliks vir 35 miljoen sterfgevalle verantwoordelik is, waarvan 80% in lae- en middel-inkomste lande plaasvind. Die WGO skat dat globale sterftes as gevolg van NKS oor die volgende 10 jaar sal aanhou styg en dat Afrika relatief gesproke die hoogste styging sal beleef (27%). 'n Toenemende aantal bewyse toon dat die impak van NKS op individue, gemeenskappe en lande die ontwikkeling in lae- en middel-inkomste lande, wat so dringend nodig is, ondermyn.

1 uit 3 mans, 1 uit 4 vroue

In Suid-Afrika toon die nuutste beskikbare sterftesyfers vir 2008 dat NKS ná MIV/vigs die tweede grootste oorsaak van sterftes is en dat kardiovaskulêre siektes bo aan hierdie lys is. In 2008 was die aantal aangemelde sterftes as gevolg van hartsiekte en diabetes ongeveer 72 000, meer as twee keer die aantal sterftes weens kanker. Die hartsiektesyfer sluit in sterftes as gevolg van hartversaking, hartaanvalle en hipertensie-verwante hartsiekte. Meer as die helfte van hierdie sterftes vind vroegtydig plaas by werkende mense, dikwels met afhanklike families, wat ’n aktiewe rol in die ontwikkeling van die betrokke land sou kon speel.

Dit is nie verbasend nie as ons in ag neem dat ons in hierdie land 7.7 miljoen volwassenes het wat rook, 6.3 miljoen met hipertensie, ongeveer 8 miljoen met hoë bloed-cholesterol, ongeveer 1 miljoen met diabetes en 9 miljoen wat oorgewig of vetsugtig is. So 'n hoë aantal mense met risikofaktore vir hartsiekte sal noodwendig tot hoë siektevlakke en sterftesyfers as gevolg van hierdie toestande lei.

Dr. Vash sê verder: "Dit beteken vir Suid-Afrikaners dat 1 uit 3 van ons mans en 1 uit 4 van ons vroue geraak word. Verder word daar verwag dat vroegtydige afsterwe wat deur kardiovaskulêre siektes by ons werkende mense (35-64 jaar) veroorsaak word teen 2030 met 41% sal styg. Die negatiewe ekonomiese impak hiervan sal enorm wees op beide families (hierdie is die broodwinner-ouderdom) en op die land as geheel. Hierdie siektes kan alle Suid-Afrikaners affekteer, ongeag ras, geslag of sosio-ekonomiese status. Dit is hoekom dit so belangrik is dat ons as ’n nasie saamstaan en mekaar help. As elke persoon wat hierdie artikel lees na een ander Suid-Afrikaner met ’n hart-gesondheid-aanmaning kan uitreik, en elk van hierdie mense dieselfde doen, kan ons alle Suid-Afrikaners bereik en uiteindelik mense dwarsoor die wêreld. Dit is nogal iets om te oorweeg."

Vier Hartbewustheidsmaand deur een positiewe ding te doen om jou hart se gesondheid te verbeter. Onthou, net een klein veranderinkie kan ’n groot verskil maak – en ’n lewe red!

*Laat jou hartgesondheid hierdie September by Clicks Clinics assesseer. Vir meer inligting, besoek die Hartstigting se webwerf by www.heartfoundation.co.za

(Die Hart- en Beroertestigting van Suid-Afrika – persvrystelling)

- (Health24, September 2011)

Lees verder:

Rook en hartsiekte
Dieet-oplossings vir hartsiekte
Oefening die sleutel tot ’n gesonde hart

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE