Share

Hartvatomleidings - altyd die beste?

accreditation

Meer as 8400 hartvatomleidingsoperasies word jaarliks in Suid-Afrika gedoen. Dit word meestal gedoen om pyn te verlig, maar verleng in slegs ‘n klein persentasie van gevalle lewe. Word te veel te maklik te gou gedoen?

Word te veel hartomleidings te maklik gedoen? Het ballonne/veertjies of cholesterolverlagende middels nie dié operasie oorbodig gemaak nie? Dié artikel is ‘n uittreksel uit ‘n volledige verslag wat in die Junie 2005-uitgawe van die meningstydskrif Insig verskyn.

Amerika en Suid-Afrika
Meer as 600 000 hartvatomleidingsoperasies word jaarliks in Amerika gedoen, en dié industrie beloop $100 miljard. ‘n Amerikaanse hartchirurg verdien jaarliks gemiddeld $1miljoen uit hartvatomleidings. Na raming is sowat 8400 hartvatomleidingsoperasies verlede jaar in die land gedoen - die meeste in die private sektor.

Een uit elke drie verwesterde mans en een een uit elke vier verwesterde vroue in Suid-Afrika sal voor hulle sestigste verjaarsdag ‘n hartaanval kry. Elke jaar kry meer as 50 000 Suid-Afrikaners ‘n hartaanval. ‘n Kwart van dié - sowat 12000 - sterf onmiddellik. Net Skotland, Finland en Noord-Ierland het ‘n groter voorkoms van hartsterftes as Suid-Afrika, volgens die Hartstigting van Suider-Afrika.

Hartvatsiekte
‘n Pasiënt met hartvatsiekte (waar die kroonare gewoonlik oor ‘n lang tydperk verstop) se siekte kan op een van drie maniere aan die lig kom.

Die pasiënt kan sonder enige simptome wees. Gesond en springlewendig. Dan, met ‘n versekerings- of roetine mediese ondersoek, toon die inspannings-EKG (nadat ‘n pasiënt oefening gedoen het) dat ‘n kroonaar of twee op een of meer plekke verstop/vernou is. Die pasiënt kon reeds stil hartaanvalle gehad het waarvan hy onbewus is, maar wat skade aan sy hartspier veroorsaak het.

Die pasiënt kry angina, ‘n borskaspyn, veral as hy aktief is. Hy sit ‘n pilletjie onder die tong en die pyn bedaar. Maar as die pyn te veel word, en die angina te dikwels plaasvind, raak die risiko vir ‘n hartaanval groter.

Die oënskynlik gesonde pasiënt kry summier ‘n hartaanval. Hy sterf onmiddellik, of hy oorleef die hartaanval, afhangend van watter kroonare waar afgesluit is, watter deel van die hartspier nie meer bloed ontvang nie, en hoe groot die deel van die hartspier is wat bloedloos bly. Alle hartaanvalle gee hartspierskade.

Al drie dié gevalle verg mediese behandeling en aandag. Die behandeling - hetsy medikasie, die oopdruk van ‘n kroonaar met ‘n ballon of veer, of ‘n hartvatomleiding - hang af van die plek van die kroonaarverstopping, en die omvang en deel van die hartspier wat bedreig word of beskadig is.

Volgens prof. Helmuth Weich, voormalige hoof van die departement kardiologie van die Tygerberg-Hospitaal en die Universiteit van Stellenbosch en nou in private praktyk, word die meeste hartvatomleidings gedoen om pyn te verlig, en nie soseer om lewe te verleng nie.

Operasie of pille
Drie groot studies het nou getoon dat wat oorlewingsyfers betref, daar min verskil is tussen hartvatomleidings en behandeling met pille. Die persentasie pasiënte wat tien jaar ná ‘n hartvatomleiding lewe is byna dieselfde as dié wat bloot met pille behandel is. Die grootste voordeel van die operasie was pynverligting. Voorts is die koste van ‘n omleidingsoperasie (wat tussen R60 000 en R100 000 in Suid-Afrika kan beloop) dikwels laer as die koste van angina-pille vir 10 jaar.

In sekere gevalle was ‘n hartvatomleidingsoperasie wel lewensreddend en -verlengend, het die studies ook getoon.

Dit kan ‘n lewe red as die pasiënt:

  • ‘n vernouing het in die linkerhoofstam-kroonaar;
  • twee tot drie letsels het, waarvan sommige in die proksimale afdalende kroonaar, of as die pasiënt twee tot drie letsels het saam met ‘n verswakte linkerventrikelfunksie, sê prof. Weich.

‘n Belangrike indikasie vir ‘n hartvatomleiding is borskaspyn. Die pasiënt het pyn omdat die hartspier nie voldoende bloed en suurstof ontvang nie, en in nood is.

Suksessyfers
Die gemiddelde suksessyfer vir hartvatomleidings is 98%. Vir sommige pasiënte met groot hartspierskade en ernstige kroonaarverstopping is die risiko groter. Selfs in die beste hande sal sowat 2 % van pasiënte tydens die operasie sterf. Dit blyk dat in baie gevalle swak hartspierfunksie wat ná ‘n hartaanval volg, verbeter ná ‘n omleiding. Die goeie bloedvoorsiening laat dikwels ‘n hartspier wat verswak was, weer goed saamtrek.

Ballonne, veertjies en pille
Baie meer hartpasiënte se verstopte kroonare word nou met ballonne en veertjies kardiologies en sonder operasies oopgemaak. Terselfdertyd word meer hartvatomleidings nou op ouer pasiënte gedoen, en wel op ouer pasiënte sonder ander risikofaktore soos onder meer nierprobleme, suikersiekte of hoë bloeddruk.

Volgens prof. Weich het ballon-tegnologie die afgelope 15 jaar baie verbeter, het die risiko’s verlaag en die suksessyfer baie verbeter, maar kan ballonne en veertjies nie vir alle pasiënte gebruik word nie.

Dit is nou ‘n gegewe dat pille en ‘n veranderde lewenstyl beslis bydra om hartvatsiektes uit te stel, en om die toe-slik van omleidingsvate uit te stel. Volgens die drie studies het die cholesterolverlagende middels die voorkoms van hartaanvalle in ‘n studiegroep met 40% verlaag teenoor ‘n kontrolegroep sonder dié middels.

Die mens verhaas die toeslik van sy eie of oorgeplante hartvate deur te rook, ‘n dieet met baie vet (en meer as 3 gram vet per 100 g voedsel word as vetryk gereken) te volg, en min oefening te doen, en nie cholesterolverlagende of bloeddrukverlagende middels te neem as dit aangedui is nie, en vertraag dit deur die teenoorgestelde te doen.

Kontaknommers:

  • Die Hartstigting van Suider-Afrika,
  • Spreek jou dokter vir bloeddruk- en bloedcholesterolmetings of oor gevaartekens vir vroegtydige verwysing na ‘n kardioloog.

- (Mari Hudson, Health24, Oktober 2005)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE