Share

Eerste kunshart in SA oorgeplant

accreditation

Suid-Afrika se eerste kunshartoorplanting is in die vroeë ure van Sondagoggend op ‘n 61-jarige man gedoen.

‘n Span spesialiste van die City Park Hospitaal onder leiding van hartchirurg dr. Willie Koen, het Sondag in die vroeë oggendure in ‘n marathon-operasie in die pasiënt oorgeplant. Die operasie is inderhaas gedoen nadat spesialiste besef het die pasiënt sal sonder die kunshart moontlik nie die nag oorleef nie.

<>
‘n Berlyn-kunshart is uitwendig op die pasiënt se maag in die tien uur lange operasie op die man oorgeplant. Die operasie het so lank geduur weens die bloedingsrisiko nadat teenstollingsmiddels voor-af aan die man toegedien moes word. Die kunshart neem die volle werking van die man se regter- en linkerventrikels oor, en kan tot sowat twee jaar lank die man aan die lewe hou.

Woordvoerders van die City Park Hospitaal het vandag – skaars 24 uur ná die operasie – die man se toestand as stabiel bestempel. Hy word in die chirurgiese waaksaal versorg.

Oorplanting was enigste kans op oorlewing
Die pasiënt se naam is op aandrang van die familie, nog nie bekend gemaak nie. Dit het aan die lig gekom dat hartchirurge reeds twee jaar gelede aanbeveel het dat die pasiënt ‘n hartoorplanting ondergaan. ‘n Hartoorplanting sou sy enigste kans op ‘n oorlewing wees. Hy het toe nie kans gesien om op die hartoorplantingswaglys geplaas te word en ‘n hartoorplanting te ontvang nie. Sy reeds swak hart het algaande verder verswak en teen Saterdag het die kardioloog gevrees dat die man nie nog 24 uur sou lewe nie. Met geen skenkerhart beskikbaar nie, was ‘n kunshartoorplanting al uitweg.

Hoewel verskeie pasïënte in Europa reeds so lank as twee jaar met die Berlynhart oorleef, is die kunshartoorplanting slegs ‘n oorbruggingsmaatreël en bly die oorplanting van ‘n skenkerhart steeds die beste opsie. Dokters hoop dat sodra die pasiënt goed herstel het, en sy ander orgaanfunksies ook weer goed op dreef is, hy oor sowat ‘n maand op ‘n waglys vir ‘n geskikte skenkerhart geplaas sal kan word.

Hoe werk die kunshart?
Die Berlynhart bestaan uit twee hartkamers. Die kunshart van harde deursigtige poli-uretaan, word met rubberbuisies met dakron (sodat die liggaam se selle daaraan sal heg) aan die buitekant en silikon binne aan die pasiënt se hart geheg.

Dit word só gekoppel dat bloed wat vanaf die pasënt se liggaam terugvloei na die pasiënt se regterventrikel, deur buise na die kunshart se regterventrikel vloei. ‘n Draagbare lugdrukstelsel laat die hart ritmies pomp. Die bloed word uit die regterventrikel na longslagare na die longe gepomp. Die bloed keer met suurstof gevul van die longe terug na die linker-atrium van die pasiënt se eie hart, vanwaar dit met ‘n buis na die kunshart se linkerventrikel vloei, en vandaar na regdeur die pasiënt se linkerventrikel tot in die aorta gepomp word sodat dit deur die hele liggaam kan sirkuleer.

Dr. Willie Koen is bygestaan deur dr. Otto Thanning, dr. Susan Vosloo, narkotiseurs dr.Anton Ferreira en dr. Lesch Horak, teatersusters en ‘n perfusietegnoloog . Die hospitaal se oorplantingskoordineerder en maatskaplike berader staan die man en sy familie by.

Die Berlynhart is by die Berlynse hartsentrum ontwikkel. Die eerste kunshart is in 1982 in Amerika oorgeplant. Baie navorsing word in verskeie sentra in Amerika en Europa gedoen om beter kunsharte te ontwikkel. – Mari Hudson

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE