advertisement

Heart Health

12 March 2014

Seun ondergaan kits-hartoperasie

Dit is nie noodwendig die einde van die wêreld as jou kind ’n hartprobleem het nie. Vra gerus vir Faeza Cassim – haar seuntjie het ’n dag ha ’n kritieke hartprosedure gespeel asof hy nog nooit eens siek was nie.

0

Die Cassim-egpaar van Johannesburg het altyd geweet “iets kleins” skort met hul 6-jarige seuntjie Ameerud-Deen. Maar die pediater her hulle verseker dis niks om oor bekommerd te wees nie en hulle her toe maar aangeneem hul japsnoet het ’n hartruising soos die wat baie kinders ontgroei.

Ameerud-Deen (6) is een van ’n tweeling. Sy boetie se naam is Azeemud-Deen en die tweetjies en hul ouboet, Alaaud-Deen (10), is die op en wakker spruite van Faeza Cassim, Huisgenoot se kantoorbestuurder in Johannesburg.

Allermins sieklik en swak

Faeza en haar man, Mohammed, was altyd onder die indruk dat Ameerud-Deen net so gesond soos sy boeties is. Hy was allermins sieklik en swak, vertel Mohammed, ’n bestuurder by ’n bankgroep. “Daar was geen reken dat hy iets makeer het waarvoor hy ooit ’n operasie sou nodig hê nie.”

Maar toe hul pediater aftree en sy praktyk aan ’n jonger dokter verkoop, was die nuwe dokter minder gelukkig met die situasie en her hy die Cassims verwys na dr. Jeff Harrisberg, ’n kinder-hartspesialis by die Sunninghill-hospitaal in Johannesburg.

Jeff her verskeie toetse laat doen, waaronder X-strale en ’n hartsonar. Hy het bevind dat die seuntjie met ’n vernoude hartklep gebore is.

“Namate hy groter geword het, her dit al meer vernou,” vertel Faeza.

Die spesialis her vir die Cassims gesê hul seuntjie sou in die een of ander stadium wel ’n operasie nodig hê, maar dat hy die toestand eers ’n ruk lank wou monitor.

“In Junie verlede jaar was Ameerud-Deen weer daar vir ’n opvolg-ondersoek en Jeff het bevind die klep het nog verder vernou en ’n operasie kon nie meer uitgestel word nie,” sê Faeza.

Die operasie sou op 21 Oktober plaasvind en Ameerud-Deen sou nog ’n nag in die hospitaal bly. Hieroor was Faeza nogal verbaas. “Ek het tog maar twee weke verlof geneem, vas onder die indruk dat my kind omtrent nie sou kon beweeg na die operasie nie,” vertel sy.

Ballon-prosedure

Ameerud-Deen moes ’n ballon-prosedure ondergaan. Jeff her ’n klein snytjie in Ameerud-Deen se lies gemaak en ’n kateter – ’n dun plastiekbuisie met ’n ballon-vormige punt – al met die aorta langs tot by die hart ingedruk. Die teater is toegerus met ’n spesiale X-straalmasjien met ’n monitor wat deurentyd foto’s van die proses neem en vir die dokter wys presies waar in die aar die kateter is.

Sodra die punt van die ballon op die punt van die vernouing is, word dit herhaaldelik op- en afgeblaas om die klep te rek. So kan die bloed weer normaalweg deur die klep na die hart vloei. Daarna word die ballon verwyder en die pasiënt word wakker gemaak.

Faeza en Mohammed was uiteraard baie bekommerd oor hul seuntjie en oor die prosedure. “Ons was baie bang ons kind sterf,” vertel Faeza. Die verligting was dus groot toe hulle skaars ’n uur nadat die operasie begin het, hoor hul kind is reeds in die nasorg-kamer.

Die Cassims kan nie uitgepraat raak oor hoeveel meer energiek Ameerud-Deen feitlik dadelik was nadat hy van die narkose wakker geword het nie.

Mohammed beskryf dit as “ ’n golf van energie groter as enigiets wat ons nog ooit by hom gesien het”.  Faeza onthou dat hy, tipies seun, binne ure na die operasie honger was en sommer ’n hele hamburger opgeëet het.

Tien keer meer woema

Jeff het Ameerud-Deen die volgende oggend ondersoek en verklaar dat die operasie ’n sukses was. “Tien minute later kon hy loop en ’n klein rukkie daarna het hy die hele wêreld vol gehardloop,” vertel Faeza.

“Dit was asof hy tien keer meer woema gehad het as voorheen. Die groot verskil in sy energievlak het ons in daardie eerste paar dae heeltemal verstom.”

Ameerud-Deen kon inderdaad die lewe met nuwe durf aanpak en is einde verlede jaar aangewys as sy kleuterskool se sportman van die jaar. Hy is vanjaar saam met sy boetie Azeemud-Deen in gr. 1.

Dor die toekoms is die Cassims filosofies. Daar is ’n moontlikheid dat Ameerud-Deen later in sy lewe ’n hartoperasie of klepvervanging sal nodig hê, maar tot dan geniet hulle net sy nuutgevonde energie en gesondheid.

Het hulle raad vir ander ouers in ’n soortgelyke posisie? “Kry ’n tweede opinie en selfs ’n derde een as jy onseker is oor jou kind se gesondheid,” sê Mohammed.

“Onthou, hulle is ons kinders en ’n mens kan geen risiko’s bekostig nie. Dit gaan hier oor ’n kind se lewe.”

 Is alles pluis met daardie gedruis?

Kinders met hartklepprobleme word dikwels sonder enige simptome gebore, sê die Johannesburgse kinderhartspesialis dr. Jeff Harrisberg.

” 'n Hartruising en kwaai moegheid is dikwels die enigste aanduiding."

Die toestand kan mettertyd vererger en kan tot hartversaking lei as dit nie behandel word nie.

As jy dink jou kind se hart ruis, neem hom liewer dokter toe. Net 'n dokter kan vasstel of die geluid dui op 'n ernstige probleem, soos met 'n klep of 'n bloedvat.

Hartklepprobleme by kinders is gelukkig nie baie algemeen nie: Jeff sê in sy praktyk kom hy sowat ses gevalle per jaar teë.

"Die ballon-prosedure is allermins ’n nuwe tegniek. Dit word al sedert die 1990's suksesvol in Suid-Afrika ingespan en kan ook gebruik word om die bloedvloei na die longe te verhoog."

Daar is vier kleppe in die hart – die aortiese, pulmonêre, mitrale en trikuspidale klep. Die kleppe reguleer die bloedvloei tussen die verskillende hartkamers en is noodsaaklik vir die doeltreffende werking van die hart en vir gesonde bloedsomloop.

Elke klep sit by die uitgang van 'n hartkamer. In Ameerud-Deen se geval was sy aortiese klep in die linkerventrikel van sy hart vernou.

" 'n Ballonprosedure word meestal gebruik om die aortiese, pulmonêre of mitrale klep te herstel en word gewoonlik aanbeveel as 'n kind nie op ander behandeling soos medisyne reageer nie," sê Jeff.

Probleme met vernoude hartkleppe is nie noodwendig oorerflik nie. Dit kan tydens die fetus se ontwikkeling ontstaan, maar kan ook die gevolg wees van 'n siekte soos rumatiekkoors en kan selfs ná die ouderdom van 40 ontwikkel.

Ander simptome by kinders is hartversaking en bloeddruk-afwykings. Volwassenes kan kortasem wees, sukkel met ’n onreëlmatige hartklop en bloeddruk-afwykings en borspyne en selfs floutes beleef.

Het jy geweet?

1 jaar – Die ouderdom van die jongste kind wat in Suid-Afrika op ’n hartoorplanting wag.

1984 Die jaar waarin die eerste suksesvolle hartoorplanting op ’n baba in Amerika gedoen is. Elizabeth Craze was toe twee jaar oud.

90 – 120 – Soveel keer klop ’n kind se hart per minuut, teenoor ’n grootmens se 70 slae per minuut.

8 – Soveel babas uit elke 1 000 word met ’n hartafwyking gebore.


Ilse Salzwedel

 

 

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.