advertisement

First aid

Updated 06 March 2014

Gits, dis giftig!

Die regte optrede is van kardinale belang as jy of jou kind gif inkry. Hier is raad.

0

Die regte optrede is van kardinale belang as jy of jou kind gif inkry. Hier is raad.
Deur BETINA LOUW

Die ammoniak waarmee jy jou dreine skoonhou, kan in die verkeerde handjies 'n gevaarlike ding word. Die meeste huishoudelike skoonmaakmiddels is giftig en as nuuskierige snuiters dit beetkry, kan die gevolge selfs noodlottig wees. Die meeste gevalle van vergiftiging gebeur in die huis en kinders jonger as vyf jaar is meestal die slagoffers.

Goed 80 persent van alle kinders wat elke jaar vergiftig word, is onder vyf jaar oud, sê dr. Joy Veale van die Tygerberg-gifinligtingsentrum by die Tygerberg-hospitaal in Bellville, Kaapstad. "Hulle sluk enigiets van skoonmaakmiddels, paraffien, terpentyn en motballetjies tot rotgif."

Kinders kan natuurlik ook jou medisyne of selfs plaagdoders in die hande kry. Jou huis en tuin is omtrent 'n mynveld en meestal kom jy eers agter jou kind het dalk Ouma se pynpille gesluk nadat die medisyne in die bloedstroom opgeneem is. Gifstowwe soos insekdoders en ander plaagdoders kan brandmerke in of rondom die mond, naarheid, maagkrampe, braking, diarree, asemhalingsprobleme, duiseligheid, lomerigheid of selfs stuipe veroorsaak.

Plaagdoders kan ook deur die vel geabsorbeer word. En sure soos swembadsuur of alkalië soos ammoniak kan die vel en oë beskadig. Die vel kan rooi, geswel of gebrand wees en blase vorm, en die oë kan rooi en geïrriteerd word en traan. Of 'n giftige insek kan jou kind byt.

Die regte behandeling

Die meeste mense glo 'n gifslagoffer moet so gou moontlik braak, maar dis nie altyd waar nie. Sommige gifstowwe bevat bytsure wat die keel kan brand en produkte met 'n petroleumbasis kan in die longe beland, wat dan 'n chemiese longontsteking veroorsaak. Hier verduidelik on swat jy moet doen as jy of jou kind enige van dié gifstowwe inkry:

Gifstof: Alkohol – alle soorte; Deodorant; Gom (kontak of ander); Kalamynroom; Mercurochrome; Parfuum; Plante; Sjampoe; Skoonheidsprodukte; Spiritus (chirurgiese en brandspiritus); Vitamien-aanvullings

Wat om tuis te doen:

  • Moenie die pasiënt laat opgooi nie.
  • Gee hom of haar 'n klein bietjie water of melk, maar nie meer as 'n halwe koppie nie, want te veel water kan hulle laat braak.
  • Bel 'n gifinligtingsentrum of neem die pasiënt so gou moontlik na 'n kliniek of hospitaal.

 

Gifstof: Ammoniak; Batterysuur; Bleikmiddel; Bytsoda; Chloor (swembaddens); Dreinskoonmaker; Fluoriedpille; Haargolfmiddel; Haarkleurstof; Haarprodukte soos versteilers wat hare reguit maak; Kleursel (hare of tekstiel); Kunsmis; Onkruiddoder; Oondreiniger; Ruitwasmiddel; Sement; Skottelgoedwaspoeier; Swembadsuur; Toiletreinigers; Verfverwyderaar (bytmiddel); Wasgoedversagmiddel; Waspoeier; Wassoda; Waterstofperoksied.

Wat om tuis te doen:

  • Moenie die pasiënt laat opgooi nie.
  • Jy kan hom of haar 'n klein bietjie water – nie meer as 'n halwe koppie nie – gee om te drink.
  • Moenie die pasiënt iets gee om te eet nie.
  • Bel 'n gifinligtingsentrum of neem die pasiënt so gou moontlik na 'n kliniek of hospitaal.

 

Gifstof: Aspirien; Medisyne – van pille tot strope; Motgif-balletjies; Parasetamol; Pille; Rotgifpilletjies; Sampioene – as jy ná ses uur of meer vanself begin braak, is die sampioene moontlik uiters giftig; Vitamiene + yster; Ysterpille.

Wat om tuis te doen:

  • As die pasiënt wakker is en dit is binne 'n uur ná inname, word braking aanbeveel. Dit kan gedoen word deur die pasiënt 'n glas lou water in te gee en jou vinger of ’n lepel se steel in sy keel te druk.
  • Bel 'n gifinligtingsentrum of neem die pasiënt so gou moontlik na 'n kliniek of hospitaal.

 

Gifstof: Battery – gesluk, soos 'n plat horlosiebattery; Bensien (droogskoonmaakmiddel); Insek-afweermiddel; Kanferolie; Metaalreiniger/poleerder; Naellak-verwyderaar; Ontsmettingsmiddel; Paraffien; Petrol; Plaagdoders; Slakgif; Terpentyn (mineraal); Verf (olie); Verfverdunner (thinners); Verfverwyderaar (oplossingsmiddel); Vernis; Vuuraansteker.

Wat om tuis te doen

  • Moenie die pasiënt laat opgooi nie.
  • Moenie die pasiënt iets gee om te eet of drink nie.
  • Bel 'n gifinligtingsentrum of neem die pasiënt so gou moontlik na 'n kliniek of hospitaal.

BYTPLEKKE

As 'n slang of spinnekop jou gebyt of 'n skerpioen jou gesteek het, bel 'n gifinligtingsentrum of neem die pasiënt so gou moontlik na 'n kliniek of hospitaal. Probeer die soort spinnekop of slang identifiseer (of neem 'n foto) en neem dit in 'n houer saam na die kliniek of hospitaal.

AANRAAKVERGIFTIGING

  • As 'n gifstof met die oë in aanraking kom, kan jy die oop oë 15-20 minute lank liggies met water bly spoel. Haal kontaklense eers uit.
  • As 'n gifstof met die vel in aanraking kom, was dit met seep en water.
  • Verwyder klere wat in aanraking met die gifstof was. Wees versigtig om nie daaraan te raak nie.
  • Neem die houer of 'n voorbeeld van die middel of gifstof, plant of ander materiaal saam met die pasiënt na die kliniek of hospitaal.

NOODNOMMERS

  • Vir raad enige tyd van die dag of nag skakel die Tygerberg-gifinligtingsentrum by 021-931-6129
  • Health24 se lys van Suid-Afrikaanse gifinligtingsentrums en hul nommers
  • Netcare: 082-911
  • ER 24: 084-124
  • Staatsambulans- en brandweerdiens: 101-77
  • Alle noodgevalle: Bel 112 op jou selfoon

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.) – Herfs 2010

 

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.