So werk sonskade
Die berugte UVB-strale bestraal die buitenste laag van die vel en veroorsaak sonbrand. (Onthou: B staan vir brand.) Hul UVA-eweknieë dring weer deur die vel se lae en veroorsaak skade wat lei tot plooie, vlekke en verslapping. (Onthou: A staan vir agteruitgang.) Saam kan die strale yslike velskade aanrig.
Verbeel jou dat jou vel soos ’n tent is. Die kollageen en elastienvesels is die onderliggende ondersteuningstrukture. As hulle beskadig word en mettertyd verswak weens langdurige sonskade, sal die hele “tent” begin wankel en uiteindelik inmekaarsak en diep plooie veroorsaak.
Benewens die feit dat die son jou vel kan uitdroog, kan UVA- en UVB-strale ook DNS-afwykings binne die vel se selle veroorsaak, wat kan lei tot verskillende soorte velkanker. Slegte nuus, dus. Dis hoekom dit so belangrik is om ’n sonskerm met UVA- en UVB-beskerming te gebruik.
Die spektrum van sonskade
Nuusflits: Ongeag jou natuurlike velkleur, kan (en sal) die son nog steeds skade aanrig. So werk dit...
Ligte velle: Sommige mense dink ’n donkerder vel is meer bestand teen sonskade. Dis nie waar nie. Dis eerder die geval dat mense met ligter velle dikwels gewaarsku word om uit die son te kom – deur ’n brandende sensasie wat veroorsaak word deur die verbruining van die pigment melanien in die velhuid. Die ironie is dus dat ’n ligte, sonsensitiewe vel 'n mens inderwaarheid beskerm teen oormatige blootstelling en UV-skade. Nogtans is dit 'n feit dat iemand met 'n ligte vel baie minder tyd veilig in die son kan deurbring. (Sien “Vind jou blootstellingsbalans".)
Medium velle: Mense met olyfkleurige en donkerder velle wat nie die UVB-strale onmiddellik aan hul vel voel of die uitwerking daarvan sien nie, bestee dikwels meer tyd in die son. Die gevolg is dat hulle blootgestel word aan meer UVA-strale wat die vel dieper binnedring, veroudering veroorsaak en die vel op ’n sellulêre vlak affekteer.
Donker velle: Navorsing net gewys dat al meer mense met donker of swart velle met melanoom gediagnoseer word. Die probleem is dat vroeë waarskuwingstekens soos ’n misvormde moesie of sonskade dikwels nie so duidelik op 'n donker vel wys nie. Boonop kom melanoom meer dikwels by mense met donker velle voor op areas wat nie so gereeld blootgestel word nie, soos die binnekant van die mond, die binnekant van die neus en tussen die tone. Dit kan dalk aangebore wees en dis ook nie duidelik waarom dit juis die onblootgestelde dele is wat geraak word nie – die probleem is egter dat dit dikwels eers opgespoor word wanneer dit te laat is. Dra dus steeds sonskerm en nou ’n ogie oor moesies.
Vind jou blootstellingsbalans
Veilige en beperkte blootstelling aan die son hou wel ontsaglike voordele in vir jou gesondheid. UVB is die sneller vir 'n kettingreaksie wat die liggaam help met die vervaardiging van vitamien D wat beengesondheid bevorder en osteoporose help voorkom. Sonskyn help ook om ’n donker gemoedstoestand en die simptome van seisoenale gemoedsteuring te verlig. Die geheim is om te sorg dat jy nie in die son bak en dan verbrou nie, maar eerder ’n gesonde balans vind.
Volgens die gerespekteerde Harvard Health Letter is die “geheim van sonblootstelling om 'n middeweg te vind – moenie ’n sonaanbidder wees nie, maar moet ook nie ’n sonfobie ontwikkel nie.” Dié middeweg word bepaal deur jou vel se kleur en reaksie op son.
Bleek velle: Vyf minute sontyd voor 11:00 is ’n gesonde maksimum vir tipe 1-velle (brand aftyd, sonbruin nooit, dikwels vergesel van bleek gelaatskleur, rooi hare en sproete) en tipe 2-velle (brand maklik, sonbruin minimaal met ligte velle en blou, groen of grys oë).
Donker velle: Aan die ander kant van die spektrum is tipe 5- (bruin vel wat selde brand en goed tot donker verbruin) en tipe 6-velle (die minste sensitief, baie pigment, brand omtrent nooit), wat moontlik tot 20 minute sonblootstelling sal kan hanteer.
Die tussenin-soorte vel moet hul sonblootstelling binne dié twee uiterstes van die spektrum hou.
Al die tye hierbo neem ook in ag hoeveel tyd jy nodig het om genoeg vitamien D te absorbeer om daaruit voordeel te trek.
Begin vroeg
Ouers moet verantwoordelikheid neem vir hul kinders se sonbeskerming. Moenie dit los tot dit te laat is nie – begin sonskerm aansmeer reeds wanneer jou kind ses maande oud is. Voor dié ouderdom moet babas glad nie in die son kom nie.
Moenie die moesies mis nie
Sekere moesies moet gereeld ondersoek word – die onreëlmatige moesies wat effens soos gebakte eiers lyk,” sê die dermatoloog dr. Mohamed Docrat. Dié ‘displastiese’ moesies het ’n hoë risiko en moet met ’n moesie-kartering (’n rekenaargebaseerde evaluering) gemonitor word.”
Gaan ook vir ’n gereelde velondersoek en –skandering indien jy:
- altesaam meer as vyftig moesies het
- vyf of meer onreëlmatige moesies het
- enige nabye familie het met melanoom.
Anders as wat
mense dink, is die groter en meer opmerklike moesies – dié wat effens uitstaan –
minder geneig om gevaarlik te wees. “Moesies wat die meeste dui op melanoom is
klein, plat en donker,” sê die dermatoloog dr. Rowena McKenzie van Kaapstad. Dié soort
moesie sit plat teen die vel en lyk soos baie donker sproete. Hoewel die feit
dat die moesies hul verskyning gemaak
het, nie dui op gevaar nie, kan ’n verandering in die moesies se voorkoms ’n
gevaarteken wees.
Die boodskap hieragter? Wees paraat. Gaan vir ’n
moesie-kartering by jou dermatoloog en laat jou moesies gereeld ondersoek. Meet
die klein, plat en donker moesies jaarliks om te kyk of hulle enigsins van
grootte verander. As die buitenste kante van die moesie oneweredig raak of
enigsins van voorkoms of vorm verander, gaan praat met jou dokter.
Deur Sylvie Hurford