Share

Melléta praat oor die vrees van verandering en onsekerheid

accreditation
Miskien moet ek begin by die woord “verandering”. Die meeste van ons vrees verandering en onsekerheid. Ons wil binne parameters van vaste sekerhede, onwankelbare waarheid en knus gemaksones lewe - ons wil nie “gerattle” word deur dinge wat ons nie kan voorspel nie, en waarvoor jou sorgvuldige daaglikse “to-do” lysie nie deug nie. Die meeste van ons verkies netjies voorspelbare dae met presiese roetines, een waar jy in beheer voel, waar dinge loop soos jy dit beplan…

En dan op ‘n dag- so gewoon soos al die ander- verander jou wêreld. Die voorspelbare word onvoorspelbaar. Die toekoms nie meer so seker. My reis met die Groot K begin op die 16de April 2003 toe ek om 3h00 ‘n mammogram by Dr. Anette Goosen by kamer G06 Grondvloer, Panorama hospitaal laat doen. Niks ernstigs, net ‘n effense knoppie (so effens dat dit my verbeelding kon wees).

My dag van 16 April is ook volgepak met nog baie ander “to-do” dinge: 10h45 tandarts-besoek; loopbaan-uitstalling in Paarl Stadsaal om my inligtingstukke vir my toetsing van leerders aan te vul; bel vriendin Ronel Roux oor naweekreëlings by Hangklip; werk my stukkende stoepblinding vas; bel Betina se koshuisouers in Potchefstroom; sien ‘n Ou-Mutual konsultant vir ‘n polis; gee huisplante H2O en les bes; 7h30 nm ‘n seminaar in die VGK kerk oor die “Jesus” debat. So gewoon was my dag…

My daaropvolgende 9 maande-reis deur operasies, chemoterapie en bestraling word terselfdetyd ‘n reis na binne (‘n uiterlike en innerlike reis). Ons lewens kan so maklik vasval bloot by die uiterlike - die “things to do” dinge. Ons kan so besig raak dat ons nooit uitkom by die reis na binne nie. In ‘n wonderlike boek oor die lewensreis merk die skrywer James Hollis op dat gedurende hierdie reis ons gekonfronteer sal raak deur twee groot vrae: Die eerste vraag het te doen met sekuriteit, sosiale aanvaarding en om aan die eise van ouers, werk en samelewing te voldoen. Die vraag is:

“What is the world asking of me?”
Konkreet gesien, het dit eintlik maar te doen met “pleasing others”- wel ‘n baie belangrike en legitieme taak in die eerste helfte van ‘n mens se lewe. Maar iewers, hetsy spontaan of dikwels as gevolg van ‘n krisis, begin daar ‘n tweede vraag hier aan die binnekant klop.

“What does the soul ask of me now?”
Hierdie vraag het nie te doen met jou status in die gemeenskap, jou uiterlike wêreld van werk, plig en plesier, jou kinders, huis en tuin nie. Om met hierdie vraag te worstel, dwing jou om diep in jou eie siel af te kyk. Dit vra waagmoed om jouself to konfronteer om enige voorgee, valsheid en pretensie in jou eie lewe en in jou intieme verhoudings in die oog te kyk. Om jou ware en kwesbare self te omhels en nie skaam te voel vir sy tekortkominge en swakhede nie, vir jou siel se hunkeringe na meer as wat jou “outer life” jou bied nie. Hierdie vraag konfronteer jou met die misterie van jou lewe, die sin en betekenis daarvan, die eindigheid daarvan.

Die diagnose van Kanker, verspreid na van my kliere het hierdie tweede vrae na die oppervlak van my bewussyn gestoot. Saam met die uiterlike reis van naalde, bloed, operasies, chemo, bestraling, pille en weer en weer naalde het my innerlike reis ook homself afgespeel.

Wat het ek op my innerlike reis in 2003 geleer?
‘n Reis waarop ek steeds is en wat vir my ‘n groot avontuur geword het, omdat dit my al gebring het benewens plekke van twyfel en van vrees ook by pleke van misterie, persoonlike groei en ‘n sin van hoop om nog lank te kan meemaak.

  • Eerstens dat ons, ons vrees vir verandering en onsekerhede moet laat vaar. Dat ons veranderinge en onsekerheid as konstante gegewens en normale verskynsels in ons lewens sal verwelkom, selfs in ons lewens sal innooi! (As ons dit regkry, sal min dinge werklik ‘n krisis wees.)
  • Tweedens dat ons sal leer om te ontspan binne en te midde van die spanningsvolle gebeure. Want is die proses wat ontvou, nie tog maar in die finale instansie ook maar net deel van my Skepper se volmaakte plan met my lewe nie? Is dit nie deel van die ontvouende misterie van my lewe hier op aarde nie? Dit is juis hierdie wete wat maak dat ek kan rus (binne die onrus en die onsekerheid) - Camus: “In the midst of winter I realized there lie within me an invincible summer.”
  • Derdens, weet dat die proses van jou lewe volmaak is, en dat jy die ontvouende proses maar kan vertrou (wat ook al die uitkoms). Jy kan rustig terug sit en doen wat jy moet en kan. Jy hoef nie om te wroeg, en te sweet en naels te kou nie.
  • Laat die fase vir jou lewe sy loop onversteurd gaan. Kyk rustig daarna van op ‘n afstand. Dinge wat in jou lewe gebeur (insidente, ingrype) is nie gefragmenteerde, losstaande voorvalle nie. Negatiewes is nie doelbewus op jou spoor om jou te benadeel nie, en goeies is nie toevallig nie. Daar bestaan nie iets soos terloopsheid nie. Alles is ineengeskakel om uiteindelik in die belang van die groter prentjie ‘n positiewe rol te speel.
  • Stukkies van legkaarte is dikwels eers net ‘n spatsel kleur, ‘n ongeordende beeld, ‘n onverstaanbare patroon. Dis eers algaande, selfs dekades later, dat daar ‘n patroon begin ontvou, en dat jy elke legkaartstukkie begin verstaan…(soms bly dit maar ‘n dowwe spieël waarin die beeld raaiselagtig bly- maar ook daarin mag ons maar berus en rus vind - want eendag sal ek wel ten volle ken, soos God my ten volle ken.)
  • Vierdens glo ek aan die heelmeester van tyd. Dit is nie nodig om die horlosie aan te draai en die sekondewyser vinniger te stel nie. Laat tyd toe om sy eie gang te gaan en oor jou te spoel. Met tyd en geduld word die moerbei sy.
  • Vyfdens glo ek dat jy jouself moet oopstel vir die hulp en ondersteuning van ander. Hulle is deur die Groot Regisseur in die toneelstuk van jou lewe ingeskryf, en deur hulle eenkant te skuif, of alles self te wil doen, ontneem jy jouself van hulle rykdom van gee. En moenie wag vir hulp nie, vra vir hulp. Kom weg van valse bevoegheidswaan!
  • Laastens, wees iets van ‘n avonturier op hierdie onbekende, ongekarteerde weg. Weier om soos ‘n slagoffer slegte dinge wat jy weet moet kom in te wag. Spring sommer eerder die slegte ding voor en haal hom in voordat hy jou nog kan inhaal.

Byvoorbeeld, ek het my hare self afgeskeer voordat dit uitgeval het. En hoede, lapblomme en serpe het ‘n hele nuwe en kreatiewe aantrekstyl geïnspireer - ek het trouens mooier gevoel as ooit vantevore!

Op Woensdag 3 Desember 2003 het ek die laaste bestraling ontvang.

Op daardie selfde dag sien ek op my daagboeklysie het ek ook Pick&Pay toe gegaan, die Burger betaal, tandarts-afsprake gereël vir twee kinders, klere by die droogskoonmakers gaan haal, en reëlings begin tref vir die plaaswerkers se kerspartytjie op ons plaas in die Sandveld…!

En nou gaan my avontuurlike reis met onsekerheid voort, en elke nuwe dag, jaar is ‘n geskenk. Ek is dankbaar vir ‘n verskerpte bewussyn van alles rondom my, en ook van my innerlike self, my sielstem wat al duideliker praat.

Dit is ‘n geskenk wat my reis met die Groot K aan my gegee het…En so kan ek vandag met ‘n diep gevoel van ontspanning sê: “U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae is in U boek opgeskryf, nog voordat ek gebore is” (Ps. 139:16), en wanneer my tyd om te vertrek eenmaal aanbreek, sal dit wees “soos ‘n gerf wat op sy bestemde tyd na die dorsvloer gebring word” (Job. 5:26).

Dr Melléta Louw is 'n kliniese sielkundige en studentevoorligter by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE