Share

Plan teen rugpyn

accreditation
iStock

Vyftig  jaar lank het die bekende Kaapstadse juwelier Olga Goodman konstant in pyn geleef. Op ses jaar is sy met ernstige skoliose gediagnoseer, in haar geval ’n sywaartse ruggraatkromming van 45 grade wat haar skouers skeef getrek en haar een been 4 cm korter as die ander gelaat het. Buiten ’n ingrypende operasie om ’n staalstok teen haar ruggraat vas te skroef, was daar niks aan te doen nie.

Olga het balletklasse geneem om haar postuur te probeer verbeter, maar dit het niks gehelp nie. Haar skewe heupe het konstant heupjig veroorsaak, met pyn wat in haar bene afskiet.

Vandag kan sy die pyn skaars onthou. In 2005 het Olga op aanbeveling van haar Pilates-instrukteur met geïntegreerde liggaamsterapie-behandelings begin.

Stadig maar seker het haar heupjig opgeklaar. Haar skewe rug het met die weeklikse behandelings minder skeef geword. Haar postuur het verbeter. Haar skouers het gelyk geword. Haar bene is ewe lank.

“Ek staan nou op albei voete. Dis iets wat die gemiddelde mens as vanselfsprekend aanvaar en ek nog my hele lewe begeer! Nou kan ek vir die eerste keer deur ’n fliek sit sonder om ineen te krimp van die pyn. Ek voel fantasties,” sê sy.

In Duitsland bekendgestel

“Ons is 95 persent suksesvol,” sê Victo Luies, wat geïntegreerde liggaamsterapie (of Integrated Bodywork) sedert 2004 beoefen en mense die afgelope vyf jaar ook oplei in hierdie uniek Suid-Afrikaanse terapie. Victor lei ook tans in Duitsland vyf studente op.

Die sukses van sy terapie het Henriette Letzner, ’n Berlynse Pilates-instrukteur, tydens ’n besoek aan Suid-Afrika so beïndruk dat sy help reël het dat Victor en een van sy vorige studente, Simone Sittig, dit verlede jaar in Duitsland bekendstel. Dit het groot belangstelling en ook erkenning onder fisioterapeute, masseerterapeute en ander in die Duitse gesondheids-en-welweesbedryf ontlok.

Simone, ’n biokinetikus en sportwetenskaplike, het in 2006 vir Henriette gehelp met heup- en rugpyn. “Sy het in daardie stadium reeds verskeie terapieë ondergaan, en het onder meer ’n fisioterapeut en ’n chiropraktisyn besoek, maar sonder sukses. Sy was besig om vir die Argus-fietstoer te oefen en het dringend verligting gesoek. Na ’n behandeling van 30 minute het sy baie verbaas sonder pyn opgestaan,” sê Simone.

Simone het self as mededingende atleet danksy geïntegreerde liggaamsterapie verligting van ’n rugprobleem ondervind nadat sy met konvensionele metodes niks kon bereik nie.

Oor drie maande, terwyl sy steeds geoefen het, het die behandelings haar gehelp en selfs haar sportprestasie verbeter. “Ek was geweldig beïndruk en het besluit om dit te studeer. Nou gebruik ek die behandelings as deel van my praktyk"

Die pyn gaan nie weg nie

“Die hedendaagse medisyne is baie beperk wanneer dit kom by die oplossing van rugpyn. ’n Dokter of ortopeed kan ’n rugprobleem diagnoseer met die hulp van X-strale en MR-skanderings, maar hulle bied min oplossings in terme van rehabilitasie en die verligting van pyn. Die beste wat hulle voorskryf, is rus of pyn- en anti-inflammatoriese pille. In die meeste gevalle bied dit nie ’n oplossing nie en die rugpyn gaan of nie weg nie of kom terug,” sê sy.

Met geïntegreerde liggaamsterapie klaar die meeste akute beserings en pynsimptome binne een tot drie behandelings op, sê Victor. Die aantal behandelings wissel van mens tot mens na gelang van wat hulle makeer.

“Na een behandeling kan ’n mens ongelooflike resultate hê, maar ’n 50 jaar oue rug met verslete kussinkies is nog steeds 50 jaar oud en sal langer neem om verbetering te toon. Net so sal iemand met ’n rug wat lank gelede beseer is ook nie so gou verligting kry nie.”

Victor, wat ’n meestersgraad in die skone kunste het, het op 21 sy eerste rugkrisis ervaar. Op hoërskool in Pinelands in Kaapstad en aan die Universiteit van Kaapstad het hy aktief aan kontaksporte soos sokker, rugby en krieket deelgeneem en ook ligapluimbal gespeel. “Ek het konstant rugpyn gehad en alles probeer, maar niks het blywend gehelp nie,” vertel hy. “Maar van al die verskillende behandelings wat ek probeer het, het dié wat mense soos Ulrich Meggersee gedoen het, my die meeste geïnteresseer.”

Nie meer rugpyn nie

Ulrich het in 1994 die terapie Body Stress Release studeer en in 1999 ’n stigterslid van Directed Pressure-Point Technique geword, ’n behandelingsmetode wat hy steeds toepas.

Victor het goeie kennis van die liggaamspostuur en het in 1989 ’n toekenning by die Design for Living-uitstalling gewen vir ’n postuurvriendelike stoel en tekentafel. Die wye kennis wat hy oor die jare opgebou het, het hy toe gebruik om sy eie behandelingsmetode, geïntegreerde liggaamsterapie, te ontwikkel. “Ek het gevind my eie metodes gee beter resultate.”

Vandag het hy nie meer rugpyn nie. “Ek maak wel seker van my studente en/of afgestudeerdes behandel my gereeld!” Hy het al drie groepe studente opgelei en is saam met Simone besig met ’n eerste opleidingskursus in Duitsland. “Daar is nie ’n behandelingsmetode oorsee wat vergelyk kan word met geïntegreerde liggaamsterapie nie,” sê hy.

Wat is geïntegreerde liggaamsterapie?

Dis ’n terapie wat die liggaam op alle vlakke in sy natuurlike helingsproses help om pyn, veral rugpyn, en ongemak effektief te verlig, te verminder of heeltemal weg te vat. So sê Lindsay Catlin, een van die mense vir wie geïntegreerde liggaamsterapie weer nuwe moed gegee het: “Dit is werklik ’n wondertegniek wat verpligtend behoort te wees vir almal wat met pyn leef.”

Die kliënt bly ten voile geklee terwyl die terapeut aan die hand van waar die pyn is die liggaam met spesifieke ligte handbewegings stimuleer om te ontspan. Hy of sy gebruik spesiale tegnieke om die areas in die liggaam waar spanning en styfheid voorkom, te identifiseer.

Die behandeling help die liggaam om styfheid en drukking wat oor jare of selfs dekades opgebou is, te laat ontspan. Soms weet jy nie van die styfheid of spanning in jou lyf nie en gaan jou rug in ’n spasma wanneer jy net buk om ’n blom in die tuin te pluk.

Baie simptome word verbind met stres en spanning in die ruggraat en elders. Rugprobleme is ook die oorsaak van baie sekondêre beserings soos knie-, heup- en enkelprobleme.

Victor se terapie gee goeie resultate met hoofpyn, alle soorte rug- en nekpyne, heup-, skouer-, knie- en enkelprobleme, spierpyne en enige “naalde-en-spelde”-gevoelens. Dit help ook vir moegheid, rustelose bene, sinus, allergieë, sooibrand, hardlywigheid, menstruasieprobleme, hartkloppings, slegte slaappatrone en angsaanvalle.

Die meeste beserings veroorsaak ’n spierpynreaksie omdat die spiere rondom die besering styf trek vir beskerming. Die pyn wat met gewrigsontsteking of artritis gepaardgaan, is byvoorbeeld baie keer toe te skryf aan die beskermende spiersametrekking rondom die ontsteekte gewrig en die terapie help artritislyers dus met pynbeheer deur die spiere te help ontspan.

Hoe werk geïntegreerde liggaamsterapie?

Eenvoudig gestel, die liggaam is ’n skelet wat deur spiere bymekaargehou word. Die spiere verbind die bene en as ’n spier chronies styf is weens byvoorbeeld lang ure agter ’n rekenaar sit of lang tye bestuur, kan dit later nie meer  heeltemal ontspan nie en bly dit aanhoudend die bene of werwels na mekaar trek.

Die brein reguleer spierspanning deur boodskappe na die spiere te stuur en terugvoer daarvan te ontvang via die senuweestelsel. Spiere kan ook beseer of styf wees omdat die senuweeboodskappe na die brein geblokkeer of onderbreek is.

Ongeag die oorsaak kan sulke verstyfde spiere later tot inflammasie en slytasie lei, maar die brein registreer nie die ongemak nie, omdat dit geleidelik begin en oor ’n lang tyd vererger. Die gevolg kan uiteindelik verwering en/of vernouing van die kussinkies wees, en dit kan op sy beurt lei tot geknypte senuwees, verskuifde werwels en heupjig.

Die tegniek van geïntegreerde liggaamsterapie help, om die senuwee-boodskappe te heraktiveer en terugvoering te stimuleer sodat die liggaam weer in balans kan kom. Kortom, dit help om die kommunikasie van die brein na die liggaam te herstel.

Die oorsake van blokkasies en stres in die liggaam is gewoonlik alledaagse dinge soos nuwe of ou sport- en ander beserings, slegte sitposisies, swak postuur, te moeilike oefeninge, te swaar goed verkeerd optel of emosionele stres.

“Geïntegreerde liggaamsterapie werk met die liggaam. Die liggaam vertel ons wat om te doen en waar om te help. Ons diagnoseer nie en kyk nie na die simptome nie, net na wat die liggaam vir ons sê. En ons kry die resultate – ons kliënte glimlag!” sê Victor.

My eie ervaring

Jare al sukkel ek met my rug, die gevolg van ’n perdry-ongeluk waarin ek op my kop geval het en verskeie motorongelukke waarin my nek vorentoe geruk het met die stopslag.

Vandat ek maar kan onthou, besoek ek ai chiropraktisyns en fisioterapeute en masseerterapeute. Hoewel dit alle tydelike verligting bring, het niks nog tot ’n langdurige en permanente verandering gelei nie.

Ek het joga studeer, my maagspiere versterk, meer gestap, maar steeds is ek die hele tyd bewus van my rug. Ek slaap met ’n kussing tussen my knieë, ek sit op 'n spesiale rugstoel by my rekenaar, ek buig my bene as ek klippe optel vir die labirinte wat ek bou, ek stap met ligter rugsakke in die berge.

Die X-strale wys degenerasie van die kussinkies tussen van die werwels in my nek en laerug. Ek is dus gesnoeker – ek aanvaar 'n probleemrug is my lot vir die res van my lewe.

Die lewe vloei terug

Die feit dat ek elke aand my regterhand verslaap het en dat ek destyds sommer deur die dag ook naalde en spelde daarin ervaar het, het my verder bekommer. Dit was geweldig irriterend en met tye pynlik, maar namate ek gewoond geraak het daaraan, het dit ook laer af op my prioriteitslys afgeskuif . . .

Tydens my eerste behandeling by Victor Luies kon ek duidelik voel hoe die lewe terugvloei in my regterhand en -vingers.

My laerug het met die tweede behandeling skiet gegee, iets wat my steeds 'n ekstatiese gevoel van vryheid gee. En vir die eerste keer vermoed ek die veranderings gaan permanent wees.

Omdat dit ’n probleem is wat oor dekades opgebou het, weet ek dit gaan nie vinnig herstel nie, maar vir die eerste keer in my reis na ’n pynvrye en ontspanne rug is ek vol moed.

Wat sê ander kenners?

Dr. Chris Muller, 'n chiropraktisyn van Stellenbosch, glo as ’n terapie verligting bring vir rugpyn en ’n pasiënt se lewenskwaliteit verbeter, is dit goed. Hy het al nou saamgewerk met ander komplementêre terapeute om ’n wyer benadering tot herstel vir van sy pasiënte te bied.

”Ek ken nie Integrated Bodywork nie, maar as dit mense kan help, is ek ten gunste daarvan.

“Verskillende terapieë werk beter vir verskillende mense – ons moet leer om saam te werk.”

Prof. Patrick Bouic, ’n immuniteitspatoloog van die departement mediese mikro-biologie aan die Universiteit van Steilenbosch, stem saam.

Sy dogter, Isabel, het op 17 ’n ernstige heupprobleem gehad, dermate dat ortopediese chirurge ’n heupvervanging oorweeg het. Sy het toe eerder vir ’n reeks geïntegreerde-Iiggaamsterapiesessies gegaan en is vandag op 20 gesond en sonder heupprobleme, vertel Patrick.

Hy sê die behandeling werk onder meer met verskillende drukpunte wat die balans van hormone soos adrenalien regstel.

"Die regstelling het ’n ongelooflike fisiologiese impak en korrigeer al die onderliggende afwykings omdat dit die oorsaak behandel en nie die simptome nie.

"Die terapie werk regtig. Dit benut die liggaam se eie vermoë om weer optimaal te funksioneer," sê Patrick. 

Kontak

Nog inligting oor geïntegreerde liggaamsterapie en waar om terapeute te kry, is beskikbaar op die webblad www.integratedbodywork.co.za.

Dit is ’n nuwe behandelnigsmetode en daar is nog nie baie opgeleide terapeute nie. Die meeste is in en om Kaapstad en daar is een in Durban en binnekort een in Caledon.

Siekefondse betaal nie vir hierdie behandeling nie.

 
Deur Terry de Vries

 

 

 

 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE