Share

Weg met die bles

Geen man hoef bles te wees as hy nie wil nie. Die kaalste kop kan nou onder 'n welige bos hare weggesteek word. Nie net laat dit die jare wegsmelt nie, jy voel sommer ook jonger – soos Cobus Germishuys ná 'n permanente haarrekonstruksie kan getuig.
Deur NICOLA WHITFIELD

Hy is in sy element agter die keldertoonbank. Hy skink behendig die proeglasies chardonnay, sauvignon blanc en pinotage vir die besoekers aan die prentjiemooi wynplaas naby Stellenbosch.

Terwyl sy kliënte waarderend ruik en proe, brei hy uit oor elke oesjaar en nadat hulle hul keuses gemaak het, verpak hy hul bottels, wens hulle geluk met hul keuse en deel hier en daar selfs 'n protea uit.

Cobus Germishuys loop oor van selfvertroue en sjarme, maar hy was nie altyd so nie, sê hy. Daar was 'n tyd toe hy soggens skaars uit die bed kon kom – en om in die spieël te kyk was 'n straf.

Want Cobus was vinnig aan die bles word en was op 35 vas oortuig sy sosiale lewe is oor en verby.

"Ek het my oorblywende hare oor die bles gekam en dit het my net nog ouer laat lyk," vertel hy. "Ek het my bles gehaat. Ek kon dit nie verdra nie."

Toe besluit hy om iets aan die saak te doen. Hy het al die moontlikhede ondersoek, by kenners gaan kers opsteek en toe op permanente haarrekonstruksie besluit. Eenvoudig gestel beteken dit stroke hare is aan sy kopvel vasgewerk.

"Haarrekonstruksie het my lewe verander. Ek het pas 50 geword, maar mense dink dikwels ek is in my dertigs. En om te dink toe ek in my dertigs was, het hulle gedink ek is in my vyftigs! Ek het nou meer selfvertroue en energie as ooit.

"Ek sien ook beter na my gesondheid om as toe ek bles was. Toe het ek nie omgegee wat ek eet en of ek oefening kry nie. Nou eet ek gesond, ry fiets en gaan gim toe," vertel hy.

"Vroue kan allerhande dinge doen om jonger te lyk. Hulle kan grimering dra, hul hare kleur en selfs Botox laat inspuit. Met mans is dit anders. Ons het basies net ons hare en as dit uitval, is ons in die moeilikheid."

Nie alle mans voel soos hy nie. Daar is heelwat Hollywood-sterre wat trots kaalkop is. Kyk maar na Vin Diesel en Bruce Willis, elk met 'n kop so glad soos 'n baba se boudjies. En dan is daar ander wat jou laat wonder of hulle 'n bietjie hulp daar op die boonste verdieping gehad het. Is George Clooney van nature so harig? En Robert de Niro se haarlyn sit nou al vir jare op presies dieselfde plek. Dustin Hoffman? Hy is 72, maar sy hare is omtrent nog net so welig soos in The Graduate in 1967.

Ben Affleck het glo haarhulp gehad en so ook Al Pacino, Matthew McConaughey en Ted Danson. En blykbaar dra Burt Reynolds al jare lank 'n haarstuk.

Wat waar is, is dat party mans baie goed lyk met 'n kaalkop. Hul kopvel is glad, die kop mooi gevorm en hulle lyk selfs jonger as hulle die dag besluit om alles af te skeer. Ander dink egter 'n kaalkop is die einde van hul loopbaan en liefdeslewe.

Die Australiese krieketspeler Shane Warne was heeltemal openlik daaroor dat hy gaan hulp soek het toe sy hare begin uitval. Hy het laserterapie gekies en een van die sterre geword in die reklameveldtog vir die internasionale haarkliniek Advanced Hair Studio.

Didier Simeon, die eienaar van die Hair Options-kliniek in Kaapstad, sê om vir iemand nuwe hare te gee is soos om hom 'n nuwe lewe te gee. "Kaalkopmans loop hier in en is teruggetrokke en stil en sal niks doen om die aandag op hulle te vestig nie. Agterna is dit 'n heel ander storie."

Sy raad aan bles ouens is om 'n kenner se advies te vra. "Daar is so baie produkte en so min wat enigiets beteken," sê hy. "Vervaardigers buit mense se onsekerhede uit en doen dikwels meer skade as goed. En as die produkte nie werk nie verloor mense hoop dat hulle ooit weer hare sal hê."

Blesword is in die gene

As jou pa of jou oupa bles was, is die kans goed dat dit jou ook sal oorkom. En moenie vergeet van die mans aan jou ma se kant nie: 'n Kaalkop kan van jou ma se kant ook oorgeërf word.

Didier kom uit 'n geslag bles mans en sy hare het op 21 al uitgeval. Hy gebruik tans 'n tegniek waarvolgens hare aan sy kopvel geheg word. Nes sy pa en oupa is hy 'n trigoloog: 'n kenner van die haarwetenskap.

Haarverlies word veroorsaak deur die uitwerking van die hormoon dihidrotestosteroon (DHT) op die haarfollikels aan die voorkant, bokant en kroon van die kopvel, verduidelik Didier. Follikels aan die agterkant en sye van die kopvel word nie deur DHT geraak nie. Dis waarom mans soos die voormalige staatspresident FW de Klerk 'n kring hare om die kop het.

DHT veroorsaak haarverlies deur die groeifase van die haarsiklus te verkort, follikels te laat verklein en ál korter, fyner haartjies te produseer wat later heeltemal verdwyn. Sommige mans vervaardig meer DHT as ander en dis waarom hulle bles word en ander nie.

Dis 'n mite dat blonde mans makliker bles word as dié met donker hare of dat mans wat vroeg grys word se hare nie sal uitval nie.

" 'n Bleskop het te make met jou gene, hormone, medikasie en ouderdom," sê Didier.

Mans van alle etniese groepe kan bles word en ál meer swart mans uit Suid-Afrika klop by haarklinieke aan.

Hy sê daar is oor-die-toonbankmiddels wat die vervaardiging van DHT vertraag, maar dis beter om 'n dokter of haarkenner uit te vra oor die moontlike newe-effekte. Sommige van dié middels kan byvoorbeeld jou seksdrang onderdruk.

Haarverlies kan ook bespoedig word deur medisyne vir depressie, hoë bloeddruk, hartsiektes, hoë cholesterol, jig en skildklierprobleme.

Kenners sê daar's nie veel wat jy kan doen om te voorkom dat jy bles word nie, maar as jy by die moets en moenies hier onder hou, sal jy heelwat langer die hare wat jy wél het, behou.

MOETS

  • Vermy te veel son en swem in die see, want dit kan jou hare laat verswak en afbreek. Keratien, die proteïenselle wat hare bedek om dit sterk en blink te maak, word maklik beskadig deur te veel blootstelling aan die son en see. Al twee bleik die hare, wat dit uitdroog en verswak.
  • Bestry skade deur die son en seewater deur 'n waterbestande room soos kakaobotter aan jou hare te smeer voor jy gaan swem. Was jou hare nadat jy geswem het en wend 'n opknapper aan wat nie uitgespoel hoef te word nie.
  • Was jou hare dadelik met 'n pH-neutrale sjampoe nadat jy in 'n chloorswembad geswem het. Chloor maak hare droog en bros.
  • Neem aanvullers met vitamien B. Navorsing wys dat 'n dieet met 'n tekort aan veral vitamien B6 en foliensuur haarverlies kan veroorsaak. Goeie bronne is soetrissies, spinasie, tuna, piesangs en hoenderborsies. Kry foliensuur veral uit Bovril, kiwivrug, papaja, broccoli, Brusselse spruite, spinasie en gaar niertjies.
  • Sluit essensiële vetsure in by jou dieet. Dié wat in vlassaadolie, sleutelblomolie (primrose oil) en salmolie voorkom, verbeter die tekstuur van jou hare en keer dat dit bros word en dus breek.
  • Eet kos wat biotien (ook bekend as vitamien B7) bevat – dit is belangrik vir haargesondheid. Bronne hiervan sluit in brouersgis, bruinrys, bulgur, groenertjies, lensies, hawermout, sojabone, sonneblomsaad en okkerneute. Gebruik ook haarprodukte wat biotien bevat.

MOENIES

  • Moenie jou hare te veel borsel nie, want dit kan skade en haarverlies veroorsaak. Kam nat hare uit met 'n wyetandkam of met jou vingers om van koeke ontslae te raak.
  • Moenie jou hare pluis (tease) nie al is dit in die mode. Dit dwing die hare in die verkeerde rigting en veroorsaak mettertyd haarverlies.
  • Moenie David Beckham-vlegseltjies laat maak nie. Dit beskadig die follikels en verhaas blesword.
  • Moenie te veel warmolie-behandelings laat doen nie. Dit kan die follikels laat ontsteek en tot littekens en haarverlies lei.
  • Vermy te veel vitamien A. Te veel van dié vitamien (te kry in eend, kalkoen, lam, vark, appelkose, perskes, tamaties en appels) kan haarverlies veroorsaak.

Lees ook:

Verbloem so 'n bles

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE