Soms is onvrugbaarheid onverklaarbaar, maar gemiddeld 40 persent van gevalle word veroorsaak deur onvrugbaarheid by die man (swak spermgehalte), 30 persent deur vroue-probleme (endometriose, polisistiese ovariumsiekte, bekkeninfeksies en fibroïede in die baarmoeder) en 30 persent deur 'n verskeidenheid van bogenoemde probleme, sê dr. Paul le Roux van die Cape Fertility Clinic.
As 'n vrou loop jy die risiko van onvrugbaarheidsprobleme as jy:
- Ouer as 35 is.
- Oorgewig is – kwaai oorgewig kan 'n hormoonwanbalans veroorsaak en ovulasie beïnvloed.
- 'n Geskiedenis van eetversteurings het wat 'n uitwerking op die gereeldheid van jou menstruele siklus gehad het.
- Oormatig oefen of 'n professionele atleet is, aangesien dit ook die menstruele siklus kan omvergooi.
- Oormatig rook en drink.
(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)