Share

Wat is endometriose?

Endometriose is 'n pynlike, chroniese siektetoestand waarvan die endometrium, die voeringlagie van die baarmoeder, ook plek-plek buite die baarmoeder voorkom. Die weefsel kan in enige plek in die bekkenholte gevind word: op of selfs in die eierstokke en Fallopius-buise, op die ligamente wat die baarmeoder ondersteun en diep agter die baarmoeder in die bekkenholte. Soms kom dit ook op die blaas en derms voor, of in ou littekens van 'n keisersnee of waar laparoskopieë gedoen is.

In meer seldsame gevalle kan die weefsel ook op ander plekke in die liggaam voorkom en daar is al gevalle opgeteken waar dit in die longe, brein of selfs die neus ontwikkel. Dit is egter buitengewone gevalle.

Waar die endometriumselle ook al groei, reageer dit asof dit steeds in die baarmoeder is: Tydens 'n vrou se menstruasiesiklus groei dit asof dit gereed maak vir swangerskap en word dit tydens menstruasie weer afgebreek en met die bloed weggevoer - net soos normale menstruasie.

Maar waar die bloed die baarmoeder deur die vagina verlaat, het hierdie bloed en weefsel geen pad uit die liggaam nie en hoop dit in die endometriose-groeisel op.

Die opgehoopde bloed veroorsaak inflammasie van die omliggende weefsel. Endometriose veroorsaak dikwels vergroeiings in die bekkenholte wat 'n vrou se interne anatomie heeltemal kan versteur. In uiterste gevalle kan die interne organe selfs aan mekaar begin vasgroei, wat as 'n "gevriesde bekken" bekend staan.

Dis die intense ontsteking tesame met die vergroeiings tussen organe wat dikwels tot ondraaglike pyn tydens menstruasie lei. Soms kan pyn regdeur die maand voorkom.

Die pyn straal dikwels uit die bekkenholte na die lies, rug en dye uit en is soms so intens dat dit inbreuk maak op 'n vrou se lewe en haar verhoudings.

"Dit voel soos 'n ystertang wat my baarmoeder vasknyp," verduidelik Amy*, nog 'n lyer. "Alles draai om die pyn. Dit is soms moeilik om op enigeiets anders te konsentreer."

Pyn gedurende en na seksuele omgang is 'n algemene simptoom. Diarree, hardlywigheid, 'n opgeswelde buik en bloederige urine kom ook dikwels voor. Baie vroue, soos Dani - hoewel haar geval buitengewoon is - ervaar ook onreëlmatige vaginale bloeding.

Maar nie alle lyers beleef ewe kwaai simptome nie. Sommige vroue het feitlik geen pyn nie, ondanks kwaai groeisels, terwyl ander met betreklik min groeisels kwaai deurloop.

Sommige vroue vind eers uit hulle ly daaraan wanneer hulle nie kan swanger raak nie.

"Endometriose is een van die grootste oorsake van onvrugbaarheid wat ons by die kliniek behandel," sê Van Schouwenburg.

Hy verduidelik: " 'n Soort gom wat natuurlik in bloed voorkom, fibrien, plak die Fallopius-buise wat eiers na die baarmoeder gelei teen die bekken vas. Dit belemmer die werking van die buise sodat hulle nie die eier kan optel nie en veroorsaak onvrugbaarheid."

Die ou, opgehoopte bloed wat afbreek, stel gifstowwe vry. Dit laat die Fallopius-buise en derms saamtrek, wat ook hul werking belemmer en swangerskap bemoeilik. Boonop verswak die gifstowwe die gehalte van die slymvlies van die baarmoeder waarteen die bevrugte eier moet vasheg om te kan ontwikkel. As die eier nie kan vasheg nie, kan dit nie ontwikkel nie en die vrou raak dus nie swanger nie.

"Endometriose kom voor by tussen 60 en 70 persent van alle onvrugbare pasiënte wat ons by die kliniek behandel - gewoonlik by vroue tussen 20 en 30 jaar," sê Van Schouwenburg.

*Skuilname

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE