Share

Vooruitgang met rugoperasies verstommend

Hoewel stamsel-navorsing nog nie ver genoeg gevorderd is sodat verlamdes hulle droom om weer te kan loop, kon verwesenlik nie, is daar beslis 'n flikkering van hoop.

Navorsers is hoopvol dat mense wat weens rugmurgbeserings verlam is, deur stamsel-inspuitings weer in staat sal wees om te loop.

Terwyl die heropbou van vernietigde senuselle nog in die toekoms lê, is die groot vooruitgang wat die afgelope vyf jaar in rugoperasies gemaak is, reeds verstommend.

Die dae dat iemand ses weke ná 'n rugoperasie steeds buite aksie is, of dat rugoperasies groot is en lank duur, is vinnig aan die verander.

Nuwe tegnologie wat titaanwerwels, laser-chirurgie, werwelvervangings deur vier klein sleutelgatsnitte, en vinnige herstel moontlik maak, klink soos wetenskapfiksie, maar dit is werklikheid. En dit word reeds deur dokters in Suid-Afrika gebruik.

Drie algemeenste soorte rugoperasies
Die algemeenste rugprobleem wat deur operasies herstel kan word, is as die kraakbeenskyfie, wat letterlik as kussing tussen twee rugwerwels dien, weens slytasie of 'n besering meegee of platgedruk word sodat die sagte binnedeel uitgedruk word en teen die rugmurg of 'n senuwee druk. 'n Deel van die werwelliggaam self kan ook teen die rugmurg of senuwee druk en tot gedeeltelike verlamming lei.

Drie soorte rugoperasies word algemeen gedoen om dié drukking te verlig, naamlik 'n diskektomie waartydens die uitpeuldeel van die kraakbeenskyfie weggesny word; 'n laminektomie, waartydens 'n deel van die werwel self weggesny word (dikwels om by die tussenwerwelkussing uit te kom); en 'n spinale fusie as twee of meer rugwerwels aan mekaar geheg moet word. Dit word genoodsaak as die kraakbeenskyfie tussen die werwels só deurgeslyt is dat been teen been skuur.

Die meeste van die operasies vereis gewoonlik 'n verblyf van enkele dae in die hospitaal en 'n lang hersteltydperk van ses weke of langer. Met nuwe tegnieke kan die ongemak en hersteltydperk ingrypend verminder word.

As die kraakbeenskyfie platgedruk word en die uitpeuldeel teen die rugmurg druk: Tradisioneel word 'n lang snit in die rug gemaak en die uitpeul deel van die kraakbeenskyfie afgesny of verwyder. As die kraakbeenskyfie verwyder is of deurgeslyt was, word die twee werwels aan weerskante met metaalklampe aan mekaar geheg. Vervanging van kraakbeenskyfies was nie juis moontlik nie.

Nou is daar verskeie nuwe moontlikhede:

  • 'n Ensiem word bloot met 'n spuitnaald in die uitpeul deel van die kraakbeenkussing gespuit, sodat die deel oplos. Die proses is as nukleolise bekend.
  • Dokters maak enkele klein sleutelgat-snitte in die rug, en plaas 'n dun buis met 'n hitte-peilstif aan die voorpunt teen die uitpeul skyfie. Met dié tegniek, bekend as nukleoplastie, verander die hitte die vorm van die uitpeul deel sodat die beskadigde tussenwerwelskyfie tot byna sy normale vorm terugkeer en die drukking op die rugmurg verlig word. Die prosedure duur sowat 20 tot 30 minute, en word onder lokale verdowing gedoen. Die pasiënt hoef glad nie in die hospitaal te oornag nie.
  • Die binnekant van die beskadigde tussenwerwelskyfie kan met natuurlike of sintetiese materiale heropgebou word deur klein sleutelgatsnitte in die rug. Met dié prosedure, bekend as nie-fusie-instrumentasie, plaas die dokters 'n "spasieerder" binne-in die kraakbeenskyfie en bou dan die platgedrukte binnekant van die skyfie met 'n natuurlike of sintetiese stof op. Dit word met die hulp van endoskope gedoen. Pasiënte bly gewoonlik minder as twee dae in die hospitaal.
  • Deur 'n tegniek bekend as mikrodiskektomie kan die uitpeuldeel verwyder word deurdat 'n snit van 2 cm tot 3 cm in die middellyn van die rug met die hulp van vergrotingslense gedoen word. Die rugspiere word nie beskadig nie en die suksessyfer is meer as 90%.
  • Dokters kan ook die beskadigde kraakbeenskyfie met 'n prostetiese metaalskyfie vervang. In dié prosedure word twee metaalplate omring met 'n plastieksloop in die plek van die beskadigde skyfie geplaas.

Verskeie nuwe tegnieke kan ook nou toegepas word as die rugwerwel self beskadig is:

  • Dokters spuit beensement in die gebreekte of beskadigde werwel. Sodra die sement hard word, seël en stabiliseer dit die werwel en verlig die pyn.

    Dit staan as vertebroplastiek bekend. Dit word op veral ouer mense met osteoporose gedoen.

    • Dokters kan ook 'n "ballon" in die werwel plaas om die werwel in die regte posisie terug te druk. Dit is soms nodig voordat die beensement in 'n beskadigde werwel gespuit word. Die prosedure word gedoen deur 'n klein snit in die rug.
    • Dit is selfs moontlik om die beskadigde werwel met 'n titaan-stut te vervang. Die operasie word veral gedoen as werwels in 'n ongeluk of deur kanker beskadig is.

    Dit is minder ingrypend as 'n oop rugoperasie, lei tot minder bloeding en weefselskade en pasiënte herstel ook vinniger.

    Wanneer moet jy 'n dokter besoek?
    Die gevaarligte wat nie geïgnoreer moet word nie, is die volgende:

    • rugpyn by iemand met kanker;
    • aanhoudende rugpyn by mense jonger as 25 of ouer as 55;
    • erge rugpyn snags;
    • rugpyn weens 'n motorongeluk of ander trauma;
    • pyn in die boonste deel van jou rug;
    • blaas- en ingewandsteurnisse saam met rugpyn; en
    • as jou bene swakker of selfs verlam word, of jou been vreemd tintel.

    (mhudson@health24.co.za, Oktober 2004)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE