Share

Verwoes geldstres jul liefde?

Die ekonomiese krisis vernietig bankbalanse en besighede oor die wêreld heen. Dit vermorsel ook huwelike. Volg dié raad om jou verhouding te beskerm.
Deur DR. HELGO SCHOMER

Geld is soos lug of water. Dis broodnodig vir oorlewing. Ons dink daaroor wanneer daar nie genoeg is nie. En ons raak byna obsessief daaroor as dit op is.

Dit is waarom geld 'n geweldige invloed op verhoudings het. Op 'n praktiese vlak help dit om die gesin te beskerm en versorg. Op 'n emosionele en simboliese vlak wys geld dat jy omgee. As jy geld voorsien, sê jy stilweg vir jou lewensmaat of gesin: Ek sal julle oppas; julle is vir my belangrik.

Daarom kan geld 'n verhouding prakties én emosioneel seermaak – veral as 'n paartjie nie kan saamstem oor hul geldsake nie. Dit beteken nie jy en jou maat moet dieselfde voel oor geld nie. Almal het nie ewe ryk en arm grootgeword nie, en geld beteken dus vir almal iets anders.

Maar al heg jy en jou maat nie dieselfde waarde aan geld nie, moet julle steeds saam besluit hoe julle dit gaan gebruik. Julle moet weet hoe julle dit gaan verdien, spaar, deel en uitgee. As julle dít nie vroeg reeds besluit nie, kan julle maar weet die hare gaan die een of ander tyd waai, selfs in tye van ekonomiese voorspoed.

Hoekom kontant 'n huwelik kan knou

Wanneer ek met paartjies wat op trou staan oor die huwelik praat, bespreek ons belangrike sake soos sensualiteit, seksualiteit, oudword, kinders, siekte – en geld.

Geld is dikwels die groot kwelpunt. Hoekom? Omdat dit 'n verhouding op so baie maniere raak. Ek moedig paartjies aan om te praat oor wie gaan werk, wie vir wat gaan betaal, hoe hulle manlike en vroulike rolle beskou en wat hulle verwag as dit kom by inkomste, begrotings en besteding.

As geldsake nie in fyn besonderhede bespreek word nie, kan dit die versteekte landmyn in 'n verhouding word. Dinge begin skeefloop as mense voel hulle word uitgebuit of dat die geld wat hulle insit, misbruik word. As geld nie eweredig verdeel word nie en die een misbruik dit om die ander te beheer of manipuleer, beteken dit die einde van vertroue en kan dit 'n paartjie uitmekaarskeur.

Nog erger is 'n verskynsel wat "finansiële ontrouheid" genoem word. Dit kan net so erg wees as emosionele of seksuele ontrouheid en kom voor as een of albei huweliksmaats geld iewers wegsteek deur óf te jok oor wat hulle verdien óf bedrae in 'n geheime fonds, trustfonds of spaarrekening te versteek.

As 'n mens uitvind jou maat gee stilletjies geld uit of pot dit iewers op, voel jy liederlik verraai en beteken dit die einde van vertroue tussen julle. Dit kan tot 'n huweliksramp lei. Om die waarheid te sê, finansiële ontrouheid en ander geldkwessies is van die grootste oorsake van huwelike wat verbrokkel, selfs in tye van finansiële voorspoed.

Wees gereed vir geldnood

Hoe verseker jy dat jul verhouding op 'n gesonde geldfondament gebou word? En hoe berei julle voor vir 'n gesonde finansiële toekoms? Die geheim is om oor geld te praat: oor hoeveel jy het, hoeveel jy wil hê, en wat julle albei daarmee wil doen.

Die beste plan is om voor jul troudag al te besluit hoe julle met geld gaan werk. Maar selfs al is julle reeds getroud, is dit nog nie te laat nie. Julle moet saam besluit wat julle in 'n geval van nood gaan doen, want 'n geldkrisis kan baie vinnig ontstaan.

'n Mens kan nie alles voorspel nie, maar jy kan altyd voorbereid wees. Ek beveel oor die algemeen aan dat paartjies op huweliksvoorwaardes trou – wat hulle ook al ná die huwelik bymekaarmaak, voeg hulle saam en besluit saam hoe om dit uit te gee.

Maar elke gesin is anders. Julle moet dus self besluit wie gaan waarvoor betaal, afhangend van inkomste, tyd en vermoë. Daar moet sekerlik iets wees soos "ons geld", waaroor albei saam kan besluit, maar elkeen moet ook sy eie geld hê (al is dit net 'n klein bedraggie).

Dit is "my geld" en "jou geld", wat jy maar kan blaas op wat ook al vir jou belangrik is – 'n massering, skoonheidsbehandeling, klere, 'n bottel whisky. Wat jy daarmee doen, het niks met iemand anders uit te waai nie.

Die belangrikste is om openlik oor geld te wees. Hoe meer jy wegsteek, hoe meer probleme gaan jy hê as daar 'n geldkrisis ontstaan soos 'n ouer wat siek word, die familie-onderneming wat vou of die ekonomie wat in duie stort. In 'n neutedop: Praat daaroor. Jy sal nie in die moeilikheid beland deur oor geld te praat nie, maar jy sál as jy daaroor stilbly.

Vermorsel die finansiële krisis jou huwelik?

In 'n verhouding slyp stres oor geld die messe tot hulle skerp is. Dit kan pruttende kwessies skielik laat oorkook. Maar dit kan ook soms 'n bedekte seën wees: Die pot wat oorkook, dwing jou om iets te doen, te sorg dat jy nie vasgevang bly in 'n uitsiglose verhouding nie en om weg te stap as jy moet.

Geldstres kan egter ook 'n goeie verhouding vernietig. In tye van stres en spanning kom seksverslawing en affairs meer algemeen voor, veral onder mans. Jy hoef nie ver te soek na 'n rede daarvoor nie: Seks kan druk en stres verlig.

In krisistye moet baie meer laat nagte dikwels op kantoor deurgebring word, en ook meer tyd weg van die huis af – wat die pad na verleiding lekker breed maak. Daarby gaan 'n grootskeepse ekonomiese krisis gepaard met 'n gevoel dat die hele wêreld in die moeilikheid is, dat niks meer regtig saak maak nie. Mense raak meer onverantwoordelik en probeer om alles wat hulle kan vir hulself toe te eien – en dit sluit 'n gekafoefel met 'n kollega in.

Interessant genoeg kan stres ook veroorsaak dat ons binne die verhouding minder aan mekaar raak en minder liefde maak. Internetpornografie of 'n suiwer fisieke affair raak dan skielik baie aanlokliker. Dit is omdat dit nie nodig is om met 'n betreklike vreemdeling of aanlynprostituut te gesels nie, hulle hoef nie die hof gemaak of geprikkel te word nie en is minder harde werk as 'n gespanne huweliksmaat.

Maar al is die wêreldekonomie tans in sy kanon, lyk dit tog of mense minder skei. In Engeland het die egskeidingsyfer tot op sy laagste vlak in 26 jaar gedaal. Dis omdat baie paartjies nie regshulp kan bekostig, of nie in staat is om hul geldsake te skei nie. Hulle word in die huwelik gevange gehou en gedwing om langer uit te hou as wat hulle in beter tye sou.

Op 'n aweregse manier verwelkom ek dit eintlik dat mense 'n bietjie langer uithou. Dis 'n nuwe verskynsel in ons samelewing wat so maklik tou opgooi. Paartjies wat dit regkry om finansiële spanning doeltreffend te oorkom, is gewoonlik inskiklik, aanpasbaar en bereid om ooreenkomste aan te gaan en op luukshede te bespaar. Hulle is gewoonlik ook mense wat doelgerig probeer om oplossings vir allerhande daaglikse probleme te vind.

Sommige mense raak eintlik meer kreatief en doelgerig as die nood druk – en húl huwelik het 'n groter kans om die storms te oorleef. In hierdie gevalle kan die krisis paartjies eintlik nader aan mekaar bring. As hulle eers 'n geldkrisis te bowe gekom het, kan hulle voel dat hulle enigiets die hoof kan bied. En dit is 'n beloning wat geld nie kan koop nie.

Vasbyt

As gebrek aan geld jou geluk bedreig, onthou dié lewensbelangrike wenke.

  • Moenie oorhaastig wees nie. Wag 'n bietjie en gee dinge kans.
  • Bestee meer energie aan mekaar – wees daarvan bewus dat die verhouding kan ly tydens hierdie spanningsvolle tyd en belê in jul vennootskap.
  • Hou aan praat – oor alles: geld, gedrag, prioriteite, besteding en spaargeld.
  • Haal diep en stadig asem, veral as sake warm raak.
  • Sny onnodige luukshede uit, maar bestee geld aan goeie berading vir paartjies.
  • Probeer ander moontlikhede (soos tydelike skeiding) pleks daarvan om die verhouding te verbreek.
  • Moenie groot besluite neem wanneer jy emosioneel uitgeput is nie. Wag tot jy minder hopeloos en leeg voel.

Dr. Helgo Schomer is 'n gesondheidsielkundige, motiveringspreker en radiosielkundige op Talk Radio 702 en 567 Cape Talk.

(Hierdie is 'n uittreksel uit 'n artikel deur ROB WHITAKER wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE