Share

Verstaan jy jou bloedtoets-vorm?

Daar's meer as 200 dinge waarvoor patologie-laboratoriums jou bloed kan toets. Afhangende van jou probleem en onlangse geskiedenis sal jou dokter spesifieke toetse aanvra om met die diagnose te help deur die toepaslike boksies op 'n patologie-toetsvorm af te merk.

Die patoloog sal dan jou bloed ontleed deur na drie elemente te kyk:

  • Die bloedselle.
  • Die "pendelaars": Hulle maak 'n natuurlike deel van die bloed uit, maar as daar te veel of te min is, kan dit op 'n probleem dui.
  • Die "indringers": Dis virusse of gifstowwe.

1. Kyk na die bloedselle

Rooi- en witbloedselle, bloedplaatjies en ander bloedprodukte kan baie geheime oor jou gesondheid verklap.

Op die patologievorm sal dié toetse as hematologie-toetse (haematology) aangedui word, wat 'n volledige bloedtelling (full blood count) insluit.

Jou rooibloedselle kan wys of jy bloedarmoedig is of dalk 'n ystertekort het, terwyl jou bloedplaatjie-telling en ander stollingsproteïene kan wys of jou bloed te stadig of te vinnig stol en hoekom, sê dr. Gerhard Sissolak, hoof van die hematologie-afdeling by die Tygerberg-hospitaal buite Kaapstad.

Daar is heelparty verskillende soorte witbloedselle en hul spesifieke telling kan wys of jy 'n bakteriële of virusinfeksie het, aan leukemie ly of besig is om die stryd teen kanker te wen. Sekere witbloedseltellings kan ook gebruik word om allergiese reaksies of die teenwoordigheid van MIV of ander aansteeklike siektes te diagnoseer.

2. Ontleed die pendelaars

Het jy 'n hartaanval gehad? Is jou cholesterol te hoog? Loop jy die gevaar om hartsiektes of 'n beroerte te kry? Ly jy aan diabetes? Toetse wat op die vorm onder chemie (chemistry) val, kan dit alles aandui, asook hoe goed jou niere, longe, pankreas en hart werk.

Met die toetse wat onder endokrinologie (endocrinology) val, kan die patoloog vrugbaarheidsprobleme opspoor en agterkom of 'n vrou al menopause bereik het. Voorgeboorte-toetse (antenatal tests) kan weer bepaal of jy swanger is, of aan Duitse masels of MIV blootgestel was.

Die immunologie-toetse (immunology) op jou vorm sal wys of jy geneig is tot siektes soos artritis en asma en of jy aan 'n akute infeksie ly. 'n Bloedtoets kan ook tekens van kanker aandui – dié toetse val onder gewasmerkers (tumour markers) op die vorm en sluit 'n PSAtoets in vir die vroeë opsporing van prostaatkanker.

3. Spoor die invallers op

'n Magdom toetse – onder serologie (serology) en mikrobiologie (microbiology) op die toetsvorm – word ingespan om bakterieë, virusse, parasiete en ander vyande op te spoor. Hepatitis A, B en C, seksueel oordraagbare siektes en baie ander infeksies, van salmonella tot bilharzias en Ebola, kan opgespoor word.

Farmakologie- of toksikologietoetse (pharmacology/toxicology) sal die teenwoordigheid en vlak van slaappille, alkohol, pynstillers, antidepressante en 'n groot verskeidenheid ander middels en gifstowwe aandui.

 (Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE