Share

Vermy die Kersfees-stormloop

Daar is slegs 'n paar weke oor, maar soos almal weet, gebeur alles vinniger namate die jaar sy einde bereik, en voor jy jou oë kan uitvee, is dit tyd vir die gebruiklike Kersfees-paniek.

En nou hardloop jy vervaard rond. Jy is wild op soek na die laaste paar presente, vis Kersfeesdekorasies uit bokse, draai berge presente toe en berei jouself voor op die aanslag van Tant Miemie se onvermydelike, ryk kers-poeding.

Daar is baie dinge wat jy nou reeds kan doen om paniek op die 24ste Desember te vermy.

Sorteer nou jou mediese probleme uit. Besoek nou jou tandarts of huisdokter en laat bloedtoetse of watter ander toetse ook al nodig is, doen. Die week voor Kersfees is nie die tyd hiervoor nie. Maak seker jou voorskrifte is in orde voor jou dokter met vakansie gaan.

Koop vooruit. Op hierdie stadium kan jy nog steeds winskopies in winkels en straatmarkte kry. Na die middel van Desember is dié tyd verby, en om dan presente vir almal te koop, sal jou 'n fortuin uit die sak jaag. As jy nou iets mooi sien, koop sommer twee of drie daarvan – jy sal sodoende geleidelik 'n voorraad presente opbou. Daar is min dinge wat soveel stres veroorsaak as 'n kreunende kredietkaart in Januarie.

Organiseer vroegtydig hulp. As jy gasheer/vrou speel vir die uitgebreide familie, kry nou jou ondersteuningstroepe agtermekaar. Vriende, familie, huishulp – wie kan wat wanneer en waar doen? Maak nou 'n plan anders sal jy op die dag so uitgeput wees dat jy niks kan geniet nie. Wie wil nou op Kersdag vol kalmeerpille wees?

Finaliseer die details. Waar gaan julle julle Kersdag-middagete hou? Wie gaan daar wees en wat gaan julle eet? Besluit nou, tensy jy van onaangename verassings die dag voor Kersfees hou. As jy op 'n spyskaart besluit het, laat ander mense van die disse voorberei. Een persoon kan vir die slaaie verantwoordelik wees, een vir die hoofgereg en een vir nagereg, ens. Moenie tot jou stresvlakke bydra deur alles self te probeer doen nie. En onthou dat alhoewel dit goed is om effens oorboord te gaan met die Kersete, dit nie nodig is om dae lank daarmee aan te hou nie. Dink aan jou middellyf!

Versprei die fokus. As daar spanning in die familie is, verminder die moontlikheid van 'n gekyf deur vriende uit te nooi om saam met julle die dag deur te bring. Families is minder geneig om met mekaar slaags te raak oor oupa se testament of Frik se swanger meisie as daar buitestaanders teenwoordig is. Die feesgety het nogal die gewoonte om griewe tussen familielede te laat opvlam.

Koop nou en rus later. Dinge soos rooi kerse en servette en sekere soorte kos is altyd teen die tyd dat Kersfees aanbreek lank reeds uitverkoop. Maak seker jy skaf hierdie items voor die tyd aan – jy sal nie spyt wees nie.

Vind uit wie eet wat. Maak seker jy weet of daar enige dieet-voorkeure of uitsluitings is. Is enigiemand vegetaries of 'n diabeet? Het enigiemand allergieë? Dit is nie dinge wat jy eers wil uitvind wanneer jy triomfantelik die kalkoen op die tafel neersit nie.

Bespreek nou om teleurstelling te vermy. As jy wil gaan uiteet vir Kersfees, maak nou reeds die besprekings. As jy tafels, messegoed of breekware wil huur of spyseniers wil inkry, moenie tot Desember wag nie. Nou is die tyd vir aksie!

Beperk uitgawes op presente. Dis moeilike tye en die tekens is daar dat dit nie 'n spandabele Kersfees gaan wees nie. Stel 'n beperking op hoeveel mense op geskenke mag uitgee, bv. R50. Dit beteken dat jy nie vir iemand 'n kristal-vaas gaan gee en 'n koekie seep in ruil daarvoor gaan kry nie.

Beperk jou stresvlakke. Omring jouself sover moontlik met mense van wie jy hou en wat jou ondersteun. Beplan versigtig – op Kersdag mag jy miskien 'n paar uur saam met mense moet deurbring van wie jy nie hou nie, maar moet tog nie planne maak om vir twee weke saam met hulle te gaan kampeer nie. Stel jouself eerste.

Maak nou jou afsprake. Twee dae voor Kersfees wanneer jy hom/haar broodnodig het, gaan jou aromaterapeut/fisioterapeut/masseur vol bespreek wees. Maak nou reeds 'n afspraak – jy sal later bly wees daaroor.

- (Susan Erasmus, Health24, hersien November 2011) 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE