Share

Van rommel tot rande

'n Herwinningsprojek help nie net die omgewing nie, maar kan duisende vir 'n skool inbring. Erna du Toit het vier jaar gelede 'n Liewe Aarde-projek by Laerskool Jan van Riebeeck begin. Die projek het so vinnig gegroei dat dit verlede jaar meer as R20,000 vir die skool ingebring het. Hier gee sy praktiese wenke hoe om so 'n projek by jou skool op die been te bring.

Kinders het 'n groot invloed op hul ouers. As jy die kinders sover kan kry om die herwinningsprojek te steun, gaan die ouers begin saamwerk.

Die uitdaging van 'n herwinningsprojek is tweeledig:

  • jy moet die mense sover kry om hulle lewenstyl te verander, tuis te herwin en die goed skool toe te bring.
  • jy moet kontrakteurs kry om die herwinningsprodukte te kom haal. Daar is maatskappye wat betroubare dienste lewer en herwinning maklik maak.

Implementering

  • Jy moet in die eerste plek die hoof agter jou hê. Die mate waarin hy/sy jou steun, kan die projek maak of breek.
  • Jy moet self met die leerders praat by 'n gesamentlike byeenkoms en hulle aan die konsep bekend stel. As leerders nie gemotiveerd is nie, gaan hulle nie hul ouers ompraat om te verander nie.
  • Die projek se sukses hang grootliks af van die beloning wat 'n kind kan kry as sy/haar gesin kom herwin. 'n Sivviedag werk baie goed as aansporing. By Laerskool Jan van Riebeeck het ons 'n boek waarin 'n kind se naam deur die sekuriteitsman aan diens opgeskryf word wanneer hy/sy goed kom herwin. Dan verskyn die name in die skool se weeklikse nuusbrief. Met laerskoolkinders werk so 'n stelsel baie goed.
  • Die projek moet so eenvoudig as moontlik wees: die plek waar mense hulle rommel pos, moet gerieflik en maklik bereikbaar wees. As dit nie volhoubaar is nie, gaan mense belangstelling verloor.
  • Dis miskien die maklikste om eers net met glas en papier te begin, want daar is reeds 'n goeie infrastruktuur hiervoor in talle stede. Die houers word deur die maatskappye verskaf en hulle het ’n kontrakteur wat dit gereeld, gewoonlik een keer in twee weke, leegmaak. As jy ander goed wil herwin soos blikkies, karton en plastiek moet jy self houers daarvoor verskaf. Laerskool Jan van Riebeeck is baie gelukkig omdat hulle deur 'n uitreikskema van die Old Mutual Foundation verskeie addisionele houers kon bekostig. Dis die moeite werd om maatskappye te nader in die omgewing van die skool en te hoor of hulle nie in die borgskap van bykomende houers belangstel nie.
  • Kontak Mondi (011 360 4100) en vind by hulle uit of hulle oor igloos beskik wat julle kan kry. Begin eers net met een en kyk hoe julle vorder. The Glass Recycling Company (011 803 8946) voorsien houers vir glas. Kry die kontaknommer van die kontrakteur in jou area en hou 'n ogie op die houers sodat jy kan laat weet as hulle dalk meer dikwels moet kom leegmaak. As die houers baie vinnig vol raak, is Mondi altyd bereid om nog ‘n bykomende houer te verskaf.
  • 'n Oranje igloo vat papier: koerante, tydskrifte, enige ander papier, dun karton soos ontbytbokse en toiletrolletjies, eierhouers, ens. Net nie dik karton nie.
  • Die donkergroen houers vir glas vat enige bottels en glashouers, afgesien van kleur.

Voordele vir die skool

Die kinders leer 'n belangrike les oor omgewingsbewustheid en die skool kan elke jaar duisende rande maak sonder dat enigiemand 'n sent hoef te spandeer!

Onthou: vir hierdie tipe projek het 'n mens 'n lang asem nodig. Dit kan maande en maande vat om op dreef te kom. Moenie moed verloor as dit nie so flink ontwikkel soos jy verwag nie. Dis egter baie bevredigend wanneer die ding begin werk.

 (Erna du Toit, koördineerder van Liewe Aarde, Laerskool Jan van Riebeeck se herwinningsprojek, Junie 2011)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE