advertisement
07 December 2009

Uitsigloos

Duisende Suid-Afrikaners het nie toegang tot die kornea oorplantings wat hulle van permanente blindheid kan red nie. En die skuld lê moontlik by ons beleid op orgaanoorplanting...

0

'n Kornea-oorplanting is ’n operasie waarmee groot sukses behaal word. Jou kans om van blindheid gered te word, is egter klein, want weens die regering se beleid oor orgaanoorplanting beland die meeste korneas in die asblik

Deur ELISE-MARIE TANCRED

Vyf jaar gelede het Sharon van Mechelen (38) amper elke dag in die water geboer. Sy was lief vir die lewe, en sportmal.

Sy't geski, geswem, geduik en tussendeur gedraf en muurbal gespeel. Die feit dat sy sagte kontaklense moes dra omdat sy bysiende was, het haar min gepla.

Maar vroeg in 2003, tien maande ná die geboorte van haar tweede kind, het sy skielik swakker begin sien. "Ek kon later net tussen lig en donker onderskei," sê Sharon, 'n Durbanviller wat nou in Nieu-Seeland woon.

Binne 'n jaar was sy feitlik blind en volkome afhanklik van mense om haar. Gelukkig vir Sharon kon sy toe 'n operasie ondergaan wat haar lewe verander het. ’n Skenker se korneas is op haar oorgeplant en ’n dag ná die operasie kon sy weer sien.

"Alles was so helder. Dit was soos ’n wonderwerk," sê sy. "Ek het my baba laas gesien toe hy tien maande oud was. Hy het so baie verander. In die tyd toe ek blind was, het hy my vermy en wou hy nie toelaat dat ek hom vashou nie. Nou kon ek weer in sy oë kyk en hom vasdruk."

Dié soort oorplanting is nodig as die kornea, die deursigtige horingvlies waardeur lig die oog binnedring, onherroeplik beskadig is.

Die skade kan veroorsaak word deur aangebore afwykings van die kornea, virusse, siekte of, soos in Sharon se geval, ’n infeksie veroorsaak deur Acanthamoeba, ’n klein eensellige organisme wat in riviere en damme voorkom.

Dié waterdierasie skop nes in die holte tussen die kontaklens en die kornea en laat klein sweertjies ontstaan wat jou kornea vernietig. Gelukkig vir Sharon kon die oorplanting ’n ommekeer in haar lewe bring.

Sukses verhaal

Talle ander Suid-Afrikaners kon ook danksy kornea-oorplantings ’n vonnis van blindheid vryspring. Dis juis hoekom dit een van die mediese wetenskap se groot suksesverhale is.

Dit word as die suksesvolste oorplantingsoperasie beskou, met ’n slaagsyfer van meer as 92%. Baie min korneas kom los of word deur die liggaam verwerp sodat opvolgoperasies nodig is.

Dis ook nie ’n duur operasie nie – dit kos minder as R5 000 vir ’n plaaslike kornea. Die totale koste vir die operasie beloop sowat R40 000. Maar vir die duisende Suid-Afrikaners wat op ’n oorplanting hoop, is die vooruitsigte donker.

Regering staan in die pad

Die reuse tekort aan skenkerkorneas beteken dat die meeste van hierdie mense nooit weer sal kan sien nie. Doodeenvoudig omdat die regering in die pad staan van kornea-oorplantings.

Ironies genoeg behoort daar oorgenoeg korneas beskikbaar te wees in ’n land waar motorongelukke en geweld alledaags is. Onlangse wetgewing deur die Departement van Gesondheid maak dit egter vir dokters baie moeilik om korneas vir oorplantings in die hande te kry.

“Dis ’n volslae tragedie,” sê dr Harold König van Pretoria, president van die Oftalmologiese Vereniging van Suid-Afrika. Sowat ses jaar gelede kon oftalmoloë (oogspesialiste) tot 80 korneas per maand by die oogbanke kry.

Twee jaar gelede was dit nog tot 40 per maand, maar in Julie 2008 was daar niks nie. Die vorige maand was net drie beskikbaar en die een was te oud – ouer as veertien dae – om te gebruik.

Amptelik is daar sowat 4 000 pasiënte op waglyste by Suid-Afrika se vyf oogbanke. Die meeste staatshospitale plaas jou nie eens meer op ’n waglys nie omdat dit geen doel dien nie.

“Ons kan hierdie pasiënte se sig red – maar net as ons korneas kan kry,” sê Harold. “Dis ’n ontsettend ernstige probleem waaraan die Departement van Gesondheid feitelik niks doen nie. Daar is egter nou hoop dat met die nuwe minister se aanstelling meer vordering gemaak sal word.”

Handel in liggaamsdele

Die krisis het begin nadat dit aan die lig gekom het dat werkers in sommige staatslykshuise onwettig handel dryf in liggaamsdele. Die destydse minister het hierna staatslykshuise by die Suid-Afrikaanse Polisiediens weggeneem en onder die Departement van Gesondheid se jurisdiksie geplaas.

Daar is ook ’n embargo geplaas op inligting sodat staatslykshuise en staatshospitale nie meer die sogenaamde weefsel- en orgaanbanke, wat die oogbanke insluit, mag verwittig as daar beskikbare organe is nie.

Die oogbanke is dus nie in staat om met oorledenes se familie in aanraking te kom om hul toestemming vir ’n skenking te vra nie. As gevolg hiervan word honderde geskikte korneas wat blindes weer kan laat sien, daagliks vernietig of begrawe.

Gedurende 2008 het die Kaapse Oogbank gevolglik nog nie ’n enkele kornea vanaf die Soutrivier-staatslykshuis ontvang nie. Die lykshuis het vroeër tot 90% van dié ooghospitaal se korneas voorsien.

Volgens dr Hubrecht Brody, oftalmoloog en stigterslid van die Oogbankstigting van Suid-Afrika, verstaan hulle wat tot die minister se besluit aanleiding gegee het, maar bly dit vir hulle kortsigtig om alle weefselbanke oor dieselfde kam te skeer.

“Ons het al verskeie vertoë aan die destydse minister van gesondheid, dr Manto Tshabalala-Msimang gerig, maar nog nooit ’n antwoord gekry nie,” sê hy. Die gebrek aan korneas het verskeie negatiewe gevolge.

 Ook nadelig vir opleiding

“Ons word nou gedwing om jong oftalmoloë te laat klaar studeer sonder dat hulle ’n enkele kornea-oorplanting gedoen het. Ons jong dokters gaan eenvoudig oorsee omdat hulle nie die geleentheid kry om hul opleiding na wense te voltooi nie. Dit skaad Suid-Afrika se mediese beeld in die buiteland,” sê Harold.

Korneas kan teen sowat R22 000 elk vanuit die VSA ingevoer word. Sommige mediese fondse betaal wel vir die invoer van korneas, maar nie almal nie.

Wat ’n betreklik goedkoop operasie moes wees, raak dan buitensporig. Die uiteinde is dat rykes weer kan sien, terwyl armes blind word.

Wat sake verder verwikkel is dat die beste gehalte korneas in Amerika gehou word, waar jaarliks sowat 80 000 kornea-oorplantings gedoen word.

Lewe gekaap

Sharon was dus gelukkig dat sy ’n korneaoorplanting kon kry. Voor die prosedure was haar sig so swak dat sy nie meer haar kinders kon versorg nie.

Daarby was die pyn ondraaglik en het sy weggekwyn tot 46kg. Sy moes later in die hospitaal opgeneem en met ’n binne-aarse pynstiller behandel word. Die klein organisme wat haar korneas aangeval het, het haar hele lewe gekaap.

’n Paar dae ná haar operasie kon sy sien toe haar jongste die twee kersies op sy verjaardagkoek uitblaas. "Ek het my lewe teruggekry danksy 'n korneaskenking. My hele familie het as skenkers geregistreer."

Hubrecht stem saam dat orgaanskenking die grootste geskenk is. "Om jou korneas te skenk, kos jou niks nie en in die proses kan jy iemand spreekwoordelik ’n nuwe lewe gee.”

Sy eie swaer, Bernard Kloppers, is twee jaar gelede in ’n misdaadverwante voorval in hul huis in Vanderbijlpark doodgeskiet. "Vir my suster Marie is dit vandag ’n vertroosting dat twee blindes weer kan sien nadat sy Bernard se korneas geskenk het.

"Die frustrasie is groot. Ons kan soveel doen. Die hulpbronne is daar, maar die regering se wil kort. Ons doen ’n beroep op elkeen om oor die erns van die situasie na te dink.

"Miskien is dit môre jy of ’n familielid wat nuwe korneas nodig het," sê Hubrecht. "Om iemand van nuwe oë te voorsien, is een van die kosbaarste geskenke wat jy jou medemens kan gee."

• Skakel Hubrecht by 021-948-5650.

Word ’n skenker!

As jy nie HIV en hepatitis-B het nie, kan jy die Oogbankstigting van Suid-Afrika by 021-447- 5151 skakel en jou daartoe verbind om ’n skenker te word.

Die oogbank is ten volle bewus van die sensitiewe en traumatiese tyd vir ’n familie wanneer iemand te sterwe kom. Daarom kan elkeen dit vir sy gesin makliker maak deur hulle vooraf in te lig dat hy graag ’n korneaskenker wil wees.

 
NEXT ON HEALTH24X
advertisement

Read Health24’s Comments Policy

Comment on this story
0 comments
Comments have been closed for this article.

Live healthier

Smoking dangers »

Hubbly hooking lots of young adults on tobacco Hookah smokers are inhaling benzene Many young adults misinformed about hookahs

Hookah pipes far from harmless, study warns

In addition to toxic substances from tobacco and nicotine, hookah smoke exposes users to charcoal combustion products, including large amounts of carbon monoxide.

Managing incontinence »

5 avoidable triggers that can make urinary incontinence worse

Urinary incontinence is a manageable condition – here are a few common triggers of urinary leakage.