Share

Trek mans aan die kortse ent?

Vroue is, dit weet ons almal, die skoner geslag. Maar nou lyk dit of mans, medies gesproke, die swakkere vat is. Want om man te wees hou bepaald 'n gesondheidsgevaar in.
Deur VIC MARKS

Nog altyd gedink dis 'n manswêreld dié? Dink weer. Want as dit by gesondheid en algemene welsyn kom, delf mans beslis die onderspit.

Seuns se kans om byvoorbeeld vroeg gebore te word, is klaar 60 persent groter as meisies s'n. Daarby het meisies kragtiger immuniteitstelsels. En volgens 'n Brits-Amerikaanse studie is dit waarskynlik dat 24 persent meer seuns as meisies as babas sal sterf.

En steeds is dit nie die einde van die slegte nuus nie. Mans is vatbaarder vir chroniese siektes, en volgens die Kanadese Instituut vir Gesondheidsinligting kry hulle makliker infeksies ná operasies.

Net één kykie na die wêreldwye bevolkingstatistieke behoort dit vir jou duidelik te maak: Daar bestaan nêrens op aarde 'n land waar vroue nie langer as mans leef nie.

Statistiek Suid-Afrika se halfjaarvoorspelling laas jaar toon dat Suid-Afrikaanse vroue gemiddeld 53,9 jaar oud word en dat mans statisties gesproke skaars 50,3 jaar haal. En in die res van die wêreld lyk dit baie dieselfde: Vroue kan verwag om gemiddeld 66 jaar oud te word en mans 62,7 jaar. Bloot op grond van statistieke is dit dus klaar duidelik dat manwees sleg is vir jou gesondheid.

Volgens die kenners is hierdie geslagsongelykheid iets waarmee ons gebore word.

"By geboorte het babameisies 'n voorsprong van sowat vyf jaar bo seuns wat lewensverwagting betref," sê prof. Riana Bornman, hoof van die Universiteit van Pretoria se departement urologie. "Die voorsprong is ingebore."

Prof. John Hargrove, direkteur van die Suid-Afrikaanse Sentrum van Uitnemendheid in Epidemiologiese Modellering en Analise op Stellenbosch, stem saam: "By pasgeborenes is die sterftesyfer onder seuns hoër as by meisies. Mans is geneties bestem om vroeër te sterf."

Seer seker is daar toestande waaraan mans waarskynliker sal ly as vroue – maar so is daar ook siektes waaraan vroue waarskynlik eerder sal ly as mans.

Maar wat is die ware rede vir die groot gesondheidsgaping tussen die geslagte?

Dis in die gene...

John se siening is interessant, hoewel ietwat omstrede: "Vroue moet robuuster wees om die strawwe eise van kindergeboorte te kan oorleef, dus moes evolusie 'n paar goed in hul guns bewerkstellig.

"Een ding wat kwaai teen mans tel, is die verskil in lengte tussen die X- en Y-chromosome. Elke mens beskik oor 23 paar chromosome as deel van hul DNS – en 22 van die pare is ewe lank, terwyl die lengte van die laaste paar, wat bepaal of jy manlik of vroulik is, by mans en vroue verskil."

In gewone taal beteken dit dat 'n man se Y-chromosoom (wat sy geslag bepaal) saamgestel is uit slegs sowat 60 miljoen basispare, terwyl 'n vrou se X-chromosoom uit meer as 150 miljoen basispare bestaan.

"Evolusie het 'n rits genetiese toestande – soos die bloedsiekte hemofilie – in die Xchromosoom opgestapel," sê John. "So die faktore wat tot sterflikheid kan bydra, neig om mans erger aan te tas."

Want omdat vroue oor twee X-chromosome beskik en mans oor 'n X- en 'n Y-chromosoom, het vroue in der waarheid 'n ekstra gesonde geen in hul bykomende X-chromosoom. Vir ingeval iets met die ander X-chromosoom verkeerd is . . . Mans het nie daardie "versekeringspolis" nie.

As jy dus manlik is en op soek na iemand of iets om te blameer vir jou moontlike voortydige sterfte, gaan kyk maar net in die spieël om die skuldige te sien.

...en die gewoontes

Dit beteken darem nie vroue se liggaam is van nature beter as mans s'n nie, sê Riana.

"Daar is ook 'n sosiale aspek wat 'n mens in gedagte moet hou. Jong mans is meer geneë tot riskante, gewelddadige gedrag as jong vroue, en daar is reeds oorgenoeg geweld op Suid-Afrikaanse paaie en in ons huise."

John neem sy verduideliking nog 'n stappie verder. "Dink aan die tradisionele geslagsrolle van mans en vroue – die man was die jagter, wat beteken hy is geprogrammeer om met al die ander jagters mee te ding en om risiko's te loop. Vroue is nie daarop ingestel om kanse te waag nie; hulle is geprogrammeer om aan die lewe te bly sodat hulle na die kinders kan omsien – veral juis omdat Pappa dalk een aand nie weer huis toe gaan kom nie.

"Hierdie sosiale verskynsel word vandag nog weerspieël in versekeringspolisse – want jong mans is meer geneig om hul dood te soek deur waaghalsige gedrag. Kyk maar weer na die statistieke: Daar is pieke wat wys waar mans uit vliegtuie spring en motorongelukke veroorsaak – nie dinge wat vroue gewoonlik doen nie."

En John is reg. Statistiek Suid-Afrika se 2006-verslag oor sterftesyfers en oorsake van dood toon 'n merkbare toename in sterftes onder mans tussen 25 en 39 jaar vergeleke met ander ouderdomsgroepe.

Gevolglik het mans net hulself – en miskien hul Y-chromosoom – te blameer vir hul korter lewensduur.

Maar in 'n wêreld waar vroue ál meer onder dieselfde druk as mans werk, hulle selfs saam aan die oorlogsfront baklei, net so vet word soos mans en net soveel soos hulle rook, is die skaal vinnig besig om te swaai.

Wanneer ons 'n nuwe balans gaan vind – en hoe die balans gaan lyk – is 'n ope vraag. Maar intussen sal dit wys wees vir mans én vroue om gesonder te leef. Dit sal ál die syfers beter laat lyk!

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE