Share

Terug skooltoe sonder ophef

Vakansietyd is 'n sorgvrye tyd wanneer kinders kan ontspan – en laat gaan slaap. Die keersy is egter dat dit dikwels 'n stryd is om hulle terug in hul normale roetine te kry wanneer die nuwe kwartaal begin.

Dit is veral moeilik na lang skoolvakansies wanneer kinders 'n paar weke gehad het om gewoond te raak aan 'n meer ontspanne tuisroetine, uitslaap gedurende die week en ongereelde slapenstye.

Kinders het ten minste nege uur se ononderbroke slaap nodig om hul beste te kan lewer op skool. 'n Moeë kind vind dit moeilik om in die klaskamer te konsentreer en kan buierig raak en sukkel om te onthou wat hy of sy geleer het. Hoe maak jy die oorgang terug na die skoolroetine so maklik as moontlik vir jou en jou kinders?

Skep 'n roetine

Die sleutel is om kinders gewoond te maak aan hulle normale roetine, selfs gedurende vakansietye. Begin deur hulle twee weke voor die begin van die kwartaal op die gewone tyd in die bed te kry. Dit kan geleidelik gedoen word.

Beweeg ook terug na hulle gewone aktiwiteite voor slapenstyd soos aandete, badtyd, tandeborsel en 'n slaaptydstorie.

As hulle nuwe skoolklere nodig het, koop dit gedurende hierdie tyd. Moedig jou kinders aan om hulle skoolklere 'n paar dae voor die begin van die kwartaal reg te kry en om hulle skooltasse skoon te maak en reg te pak.

Wenke vir ouers

Vroeg uit die vere. Almal was vir 'n hele ruk met vakansie en het moontlik daaraan gewoond geraak om laat te slaap. Staan op die eerste dag vroeg op (nadat almal die vorige aand vroeg gaan slaap het) sodat daar tyd is vir 'n ordentlike ontbyt en om die eerste skooldag se verkeersknope te trotseer.

Hou 'n kleedrepetisie. Sorteer daardie skooluniform ten minste 'n week voor die begin van die kwartaal uit. Die winkels wat uniforms verkoop, het die nare gewoonte om 'n paar dae voor die begin van die kwartaal hul voorraad uit te verkoop. Laat jou kinders 'n paar dae voor die skool begin hulle volle skoolmondering aantrek. Dit sal help om alles op die groot dag 'n bietjie minder vreemd te laat voel.

Pak 'n gesonde middagete in. 'n Interessante kosblik kan nogal help om die eerste dag vroliker te maak. Na so 'n lang vakansie is dit vir enigiemand 'n skok om weer in 'n georganiseerde omgewing te wees. Lekker toebroodjies, vars vrugte, 'n melkskommel of vrugtesap en 'n sjokolade of 'n gunsteling peuselhappie kan help om dinge rooskleuriger te laat lyk.

Klagtes na die eerste dag. Baie kinders kom na die eerste dag terug met 'n hele lys klagtes oor alles en nog wat. Moet dit nie te ernstig opneem nie, tensy dieselfde klagtes na 'n week nog steeds opduik. Onthou hoe jy na jou eerste dag terug by die werk gevoel het. 

(Susan Erasmus, Health24, hersien April 2010)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE