Share

Te koop: mooi arms, slanke dye, elegante nek

Liposuiging is die gewildste kosmetiese prosedure plaaslik. En danksy nuwe tegnieke is dit nou selfs nog makliker en veiliger om maerder en mooier te lyk. Hier is jou gids met alles wat jy daaroor wil weet.
Deur Mari Hudson, Health24

(Vergelyk fotos van pasiënte voor en na hule lipoplastie)

"Kyk, my love handles is weg. Sonder die rol om my heupe lyk my skouers sommer groter. En dit was nie eens seer nie." Francois Malherbe (36), amper 2m lank, voormalige Cravenweek-rugbyspeler en model, is in sy skik.

"Ek het nog altyd klein handvatseltjies op my heupe gehad, selfs toe ek fiks en skraal was. Nadat ek met modelwerk opgehou het, het dit verdriedubbel. As ek geweet het liposuiging is so maklik en vinnig, het ek dit lankal laat doen."

Francois is een van duisende Suid-Afrikaners wat die afgelope sowat vyf jaar hul vrees vir kosmetiese prosedures oorkom het. Ons deins nie meer terug vir Botox en vullers nie. Inteendeel. Baie vroue ken hul Botox-dokter beter as hul tandarts.

Dieselfde neiging geld deesdae vir liposuiging (lipoplastie). Danksy nuwe tegnieke is dit 'n makliker en veiliger keuse as selfs net drie jaar gelede.

Dis 'n prosedure om van oortollige vet onder jou vel ontslae te raak en word gedoen deur 'n plastiese chirurg of goed opgeleide algemene praktisyn – meestal in die dokter se spreekkamer onder skemernarkose: jy word verdoof en kan met die dokter gesels, maar niks van die operasie onthou nie. In uitsonderlike gevalle word dit in die teater gedoen met volle narkose, sê dr. Henry Claassen van Johannesburg, wat die prosedure al twaalf jaar doen.

Lipoplastie kan op letterlik enige plek op jou lyf gedoen word waar vet versamel, aldus dr. Barlodien Kotzé van Kaapstad, wat ultraklank-lipoplastie doen: jou ken, boarms, maag, dye, rug, boude en selfs enkels en knieë. Dit word ook ingespan om nie-kosmetiese vet te verwyder, bv. 'n goedaardige vet-gewas, of borste by 'n man. Plaaslik word dit veral gewild vir bobene, mae, heupe en dubbele kenne. 

Is dit vir my?

  • Jy het 'n klein rolletjie waarvan jy net nie ontslae kan raak nie, al dieet en oefen jy hoe hard, soos op jou heupe, om jou middel of op jou bobene. Dalk verhoed jou gene dat jou vetselle krimp, sê Henry Claassen.
  • Jou verwagtinge is realisties. Little Lotta kan nie deur lipoplastie in Charlize Theron verander word nie.
  • Jou gewig is normaal, of jy is effens oorgewig, maar dis redelik konstant. As jy baie oorgewig is, help dit nie om een rolletjie te verwyder en drie bly agter nie.
  • Jou vel is ferm en elasties. Hoe jonger jy is, hoe meer elasties is dit en hoe beter die resultate.
  • Jy is gesond, sonder skete en kwale.
  • As jy baie selluliet het, is jy nie 'n goeie kandidaat nie. Jou vel lyk dan makliker oneweredig en knobbelrig.

Só word dit gedoen

'n Dun en hol metaal- of veseloptiese pypie met 'n suig-apparaat aan die voorpunt word deur 'n klein sleutelgatsnit (3mm) tot by die vet gedruk. Die snit is op 'n wegsteekplekkie, bv. onder jou bikini-lyn, by jou naeltjie, of onder jou arm. Die vet kan op drie maniere losgewikkel word: met die hand, met laser of met ultraklank.

Die laser- en ultraklank-prosedures is nuwer tegnieke en maak liposuiging meer toeganklik. Omdat dit minder kneusing gee, dit makliker gedoen kan word, letterlik by 'n dokter se spreekkamer (in sy steriele kamer) en die pasient binne twee tot drie dae terug is by die werk, is dit amper soos 'n instap prosedure, en nie 'n hele hospitaalgedoente nie – meer mense sien nou daarvoor kans.

Die losgewikkelde vet word dan deur die pypie uitgesuig: sowat 2 liter op 'n slag (maksimaal 3 liter tot 5 liter vet -tussen 4% en 5% van jou liggaamsgewig - op 'n slag). Dit duur sowat een tot drie uur, afhangend van of een, twee of drie plekke op jou liggaam behandel word. Indien dit langer as drie uur duur, meer as drie plekke op een slag behandel word, of 'n groter persentasie van jou liggaamgewig verwyder word (meer as 5 persent of sowat 5 tot 7 liter), moet dit verkieslik in 'n hospitaalteater gedoen word en moet jy verkieslik oornag vir waarneming in die hospitaal bly.

Drie tegnieke

1. Met die hand
Dit word meestal deur 'n plastiese chirurg in 'n teater gedoen. Die chirurg druk die metaalpypie in die vet en wikkel die vet met kragtige bewegings los. (Sommige dokters ontwikkel selfs tennis-elmboog van al dié gekarring.) As dit op jou maag gedoen word, kan jy dit met ‘n tummy tuck kombineer, sê Henry Claassen.
Hoe lank duur dit: Sowat 'n uur vir een plek, en sowat 1½ tot 2 uur vir twee tot drie plekke.
Resultaat: Dis goed, maar nie beter as die ander twee tegnieke nie. Jou vel kan dalk oneweredig en vol duike lyk. Die resultaat is eers behoorlik sigbaar nadat al die swelling gesak het, wat soms maande kan duur.
Voordele: Heelwat vet kan op een slag verwyder word, veral in 'n teater.
Nadele: Omdat die vet letterlik met fisieke krag van die vel en ander weefsel losgewikkel word, is die kans groter dat bindweefsel en bloedvate in jou vel ook losgewoel en uitgesuig word. Dis nie gevaarlik nie, maar verhoog die risiko dat jou vel daarna oneweredig kan lyk.
Huis toe: Dieselfde dag. Een nag in hospitaal indien dit 'n groter prosedure is.
Kneusplekke weg: Jy kneus gewoonlik meer as met die ander twee tegniek. Die swelling kan binne dae begin sak, maar dit kan maande duur voordat dit heeltemal weg is. Blou kolle kan dae of weke neem om te verdwyn.
Hervat normale bedrywighede: Ná een of twee dae.
Koste: In spreekkamer: tussen R12 000 tot R18 000. In teater: sowat R 75 000.

2. Met laser
Plastiese chirurge doen dit, maar ook dokters wat opgelei is om met dié apparaat te werk. Dit word die afgelope drie jaar plaaslik gedoen: gewoonlik in 'n dokter se spreekkamer met skemernarkose. Die metaalpypie se laserpunt verhit die vet sodat dit smelt, sê dr. Alex Nikolic, 'n Kaapstadse dokter wat op estetiese prosedures fokus.
Hoe lank duur dit? Sowat 1½  tot 2 uur. 
Resultaat? Jou vel trek meestal mooi styf waar die vet verwyder is. Die resultate is eers heeltemal sigbaar nadat alle swelling weg is, wat maande kan duur. Omdat die weefsel effe gebrand word en littekenweefsel vorm, is daar 'n klein kans dat die veloppervlak effe oneweredig is.
Voordele: Die dokter kan enige bloeding onmiddellik met die laser seël. Meer vet kan op 'n slag verwyder word as met die hand-metode. Meestal word egter net 2 liter of minder vet met een prosedure verwyder.
Nadele: Jou vel trek so mooi styf omdat litteken-weefsel vorm waar die vet verwyder is. Om te verhoed dat die laser te warm word en dié hitte omliggende gesonde weefsel beskadig, gebruik die dokter 'n spesiale infrarooi termometer, wat die veltemperatuur baie akkuraat meet. Die egalige temperatuur verseker dat die vel net genoeg styftrek om 'n goeie resultaat te lewer. Met 'n infrarooi-termometer en ervare dokter is die risiko klein dat die resultate nie goed sal wees nie.
Huis toe: Dieselfde dag. Met 'n groter prosedure: oornag in die hospitaal.
Kneusplekke weg: 'n Dag of twee. Dit kneus baie minder as met die hand-tegniek.
Koste: Tussen R11 000 en R16 000, afhangend van hoe groot die prosedure is.

3. Met ultraklank
Dit word deur plastiese chirurge en goed opgeleide dokters gedoen. Navorsers het eers 'n paar jaar gelede die regte frekwensie gevind waarteen ultraklankgolwe moet beweeg (ossilleer) om vetselle letterlik te laat inplof – sonder skade aan omliggende weefsel. Daar is net 'n paar van dié toestelle plaaslik beskikbaar. Dit word in die dokter se spreekkamer met skemernarkose gedoen en gewoonlik word nie meer as drie liter vet uitgesuig nie. (Anders word dit in 'n teater gedoen.) Die ultraklankgolwe laat die vetselle in 'n vloeistof verander, wat maklik uitgesuig kan word, verduidelik Barlodien Kotzé.
Hoe lank duur dit? Langer as die hand-prosedure, maar selde meer as drie uur.
Resultate: Goed, met 'n eweredige en gladde voorkoms. Dit werk veral goed op plekke met digte vet, soos op jou rug.
Voordele: Slegs vetselle word verwyder, sonder enige skade aan bindweefsel en bloedvate. Die aksie om die vet te verwyder is sagkens. Dis soos om 'n viool met 'n strykstok te bestryk, beskryf Henry Claassen dit. Skade aan die weefsel is dus min. Die vetselle wat uitgesuig word, kan as vuller gebruik word om diep kepe of plooie op jou voorkop, langs jou neus of mond, op te vul.
Nadele: Dis meer tydrowend as die ander.
Huis toe: Dieselfde dag. 
Kneusplekke weg: Dis min en verdwyn binne dae.
Koste: Sowat R12 000 vir een plek. R4 000 ekstra vir elke bykomende plek. 

Kies jou dokter

Kies 'n dokter met baie ervaring van lipoplastie. Jou kans is dan beter vir goeie resultate – en die risiko vir komplikasies soos infeksie is baie klein. Die gevaar dat 'n stukkie losgewikkelde vet in jou bloedstroom kan beland met moontlik noodlottige gevolge, word as uiters gering beskou. Alle plastiese chirurge is opgelei om dit te doen. Baie algemene praktisyns is ook goed daarmee. Daar is egter onervare dokters wat pas daarmee begin het. Vra die dokter uit oor sy/haar opleiding, suksessyfer, voor- en ná-foto's van pasiënte, en of jy met 'n vorige pasiënt kan gesels.

Daar is tans niks wat 'n dokter met geen ervaring keer om die prosedure te doen nie in Suid-Afrika. 'n Kort kursus van 'n paar uur is nie voldoende nie. Dit is die beste om onder die toesig en leiding van 'n ervare dokter eers die prosedure waar te neem, en dan die eerste 10 of 20 prosedures te doen as hy bystaan. Maak seker jy is nie die dokter se eerste pasiënt is nie. (Eerder die 101ste.) Suid-Afrikaanse plastiese chirurge en 'n groep ervare algemene praktisyns wat op estetiese prosedures fokus, beywer hul daarvoor dat dokters 'n minimum-kwalifikasie vir lipoplastie en ander kosmetiese prosedures moet hê. Dit word tans deur die gesondheidsberoepsraad ondersoek.

Ook in Amerika is daar baie vrae oor doktersopleiding en lipoplastie. Dit volg nadat 'n 37–jarige verpleegster vroeër vanjaar tydens lipoplastie gesterf het. Die dokter het net 18 uur opleiding daarin gehad. Hy was 'n beroepsgesondheid-spesialis wat nie op 'n daaglikse basis enige chirurgie gedoen het nie.

Jou vrae beantwoord

Kan dieselfde vetrolletjie weer ontwikkel?
Nee, die vetselle word verwyder. As jy gewig aansit, sal dit oor jou lyf versprei wees, en nie noodwendig weer op die plek waar die vet verwyder is nie. Die prosedure gaan jou egter nie help om nie weer gewig aan te sit nie. Daarvoor moet jy liefs ‘n gesonde eetplan en oefenplan volg.

Is ek nou gesonder?
Ongelukkig nie. Daar word meestal sowat 3 en 5 liter vet verwyder en jy lyk dus maerder en gesonder. Maar dit verlaag nie jou risiko vir 'n hartaanval, diabetes, hoë bloeddruk of ander probleme wat met oorgewig saamgaan nie. Want net die vet onder jou vel word verwyder; nie die gevaarlike, giftige vet tussen jou organe nie. As jy oorgewig is, is daar baie sulke vet; as jy skraal is, baie minder. Jy kan die gevaarlike vet net deur dieet en oefening verminder. 

Is dit seer?
Daar word vooraf 'n verdunde soutoplossing, wat onder meer 'n pynstiller bevat, in die betrokke plek gespuit. Dit verlig jou pyn tot 12 uur ná die prosedure. Dan is gewone pynstillers genoeg.

Wat gebeur ná lipoplastie?
Jy word aangeraai om die eerste ses weke styfpassende en ondersteunende kouse en klere dra. Die klein snytjies word nie toegewerk nie, maar bly oop sodat die oorblywende soutoplossing kan dreineer. Die snytjie gaan vanself binne vier tot vyf dae toe.

Betaal my mediese fonds?
Die meeste mediese fondse beskou dit as 'n kosmetiese prosedure en betaal nie. Vir inligting oor ‘n maatskappy wat jou met die finansiering kan help, besoek www.fhf.co.za.

Hoe veilig is dit?
Dis baie veilig mits...

  • Jy 'n geskikte kandidaat is. Vergeet daarvan as jy hartsiekte, diabetes, longprobleme of swak bloedsirkulasie het, of onlangs 'n operasie gehad het naby die plek waar die vet uitgesuig moet word.
  • Jou dokter goed opgelei is om dit uit te voer. ('n Naweek of selfs ‘n weekkursus is nie genoeg nie.)
  • Die spreekkamer of teater baie goed toegerus is.

Wat van mesoterapie? (Plantekstrakte word dan in die vet gespuit om dit op te los.)
Geen veiligheid- en doeltreffendheidstudies is oor dié behandeling gedoen nie en dit kan nie lipoplastie vervang nie, het die American Society of Plastic Surgeons sowat 'n jaar gelede in 'n verklaring gesê.

(Vergelyk fotos van pasiënte voor en na hule lipoplastie)

*Bron: Drr. Barlodien Kotzé, Henry Claassen en Alex Nikolic.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE