Share

“Switch” hartoperasie op babas

Voormalige premier van die Wes-Kaap, mnr. Ebrahim Rasool, en sy vrou, Rashieda, het langer as tien jaar op die koms van hulle tweede kind gewag. Maar toe Tandir gebore is, was die groot slagare van sy hart omgeruil.

Sy aorta, wat suurstofryke bloed uit sy linkerventrikel na sy liggaam moes dra, het uit sy regterventrikel gekom en suurstof-arm bloed na sy liggaam gedra. Sy pulmonale slagaar, wat suurstof-arm bloed uit sy regterventrikel na sy longe moes dra , het suurstofryke bloed wat pas van sy longe kom weer na sy longe teruggedra.

Indien dié omgeruilde bloedvate - bekend as transposisie van die groot arteries (TGA) - nie so gou moontlik op die babas gedoen word nie, verswak hul vinnig en sterf binne maande. In gevalle waar ‘n verdere defek - ‘n gat tussen die twee ventrikels - die bloed toelaat om bietjie te meng, leef die babas effe langer. Studies het getoon dat dit beter is om die operasie so gou moontlik te doen - verkieslik binne elf dae - voordat die linkerventrikel verswak en nie meer in staat is om ná die operasie die bloed na die hele liggaam te pomp nie.

Die enigste oplossing wat goeie langtermyn oorlewing lewer, is om die aorta en longslagaar terug te ruil. Dit is tegnies ingewikkeld omdat mikroskopies fyn hegtings gedoen moet word, en die koronêre vate wat die hartspier self van bloed voorsien en uit die basis van die aorta ontspring, in gedrang is. Die geringste chirurgiese fout, of hegting wat nie 100% korrek is nie, of kinkel in die koronêre vate kan die baba se lewe kos.

Hoe word die operasie gedoen:
Die defek word in ‘n enkele groot operasie herstel, wat voor-afgegaan word deur ‘n voorbereidende stap. In dié voorbereidende stap, wat gewoonlik binne 48 uur na geboorte gedoen word, word die baba behandel met middels om te voorkom dat die opening (opening 1) tussen sy aorta en longslagaar sluit, en maak dokters met die ballontegniek ‘n gat (opening 2) tussen die twee atria. Alles word gedoen om te help dat die bloed in die hart effe kan meng, en om die linkerventrikel voor te berei om harder te pomp.

Die Switch operasie het twee dae later gevolg. Dit word as volg gedoen:

  • Stap1: Die posisie van die baba op die teatertafel is baie belangrik. Sy skouers moet hoog wees en sy koppie terug sodat sy groot slagare “gestrek” is. Hy word aan ‘n hartlongmasjien gekoppel en afgekoel tot laer as 18 grade sodat sy hart stil in sy borskas lê.
  • Stap 2: Sy aorta word afgeklamp en deurgesny. Die koronêre vate word met ‘n u-vormige flappie versigtig uit die aorta gesny.
  • Stap 3: Die longslagaar word ook deurgesny.
  • Stap 4: Die boonste dele van die twee deurgesnyde slagare word omgeruil deur die boonste longslagaar oor die boonste aorta te tel.
  • Stap 5: U-vormige flappies word ook uit die onderste deel van longslagaar (wat die neo-aorta gaan word) gesny. Die koronêre u-vormige flappies uit die onderste aorta word versigtig in dié uitgesnyde openinge van die neo-aorta gewerk.
  • Stap 6: Die “boonste” aorta word aan die neo-aorta (met die koronêre vate in plek) geheg.
  • Stap 7: Die “onderste” neo-longslagaar word met ‘n flappie van die perikardium gerekonstrueer. Die gat tussen die atria word toegemaak.
  • Stap 8: Die aortaklamp word afgehaal en die bloedvloei deur die koronêre vate word gemonitor. Die “boonste” longslagaar word aan die “onderste” neo-longslagaar geheg.
  • Stap 9: Die baba word verwarm, die nodige monitors en buise word in sy hart en borskas geplaas en sy borskas toegemaak.

Die Kaapstadse hartchirurg doen gemiddeld elke vier tot agt weke een van dié operasies, met ‘n suksessyfer die afgelope 7 jaar van 100%. Dié operasie word ook met ‘n hoë suksessyfer deur ‘n Johannesburgse chirurg gedoen.

- (Mari Hudson, Health24, Oktober 2005)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE