Share

Sommige kankers groei vinnig

Lewer-, pankreas- en longkanker is van die kankersoorte wat aggressief kan groei, en binne weke ná diagnose dood kan veroorsaak.

Volgens prof. Ben Smit, bekende radioterapeut van die Tygerberg Hospitaal, is daar groot variasie in die groeispoed tussen kankersoorte. Selfs 'n kankersoort wat tipies stadig groei - soos prostaatkanker - kan skielik vinnig begin groei.

Baie kankersoorte wat as aggressiewe en vinniggroeiende kankers bekend staan, veroorsaak gou ná diagnose die dood omdat hulle laat opgespoor is, en omdat hulle swak op behandeling reageer.

Lewerkanker wat primêr in die lewer ontstaan, is 'n baie dodelike kanker, en reageer byna glad nie op enige chemoterapie nie.

Die grootste oorsake van lewerkanker is blootstelling aan die aansteeklike Hepatitis B-virus wat 'n soort geelsug veroorsaak, en blootstelling aan aflatoksien, 'n gifstof wat deur gemufde grondboontjies, mielies en ander graanprodukte afgeskei word. Die meeste gevalle van lewerkanker behoort in beginsel voorkom te word deur inenting teen Hepatitis B (wat nou in Suid-Afrika beskikbaar is) en deur nie swambesmette produkte te eet nie, het prof. Smit gesê.

In Wes-Kaap diagnoseer onkoloë sowat vyf tot ses gevalle van primêre lewerkanker per jaar, maar in Mpumalanga, KwaZulu-Natal en Mosambiek kom meer gevalle voor juis weens Hepatitis B-virus besmetting en aflatoksien-inname.

Ook mense met pankreaskanker lewe meestal slegs weke tot soms maande nadat die siekte gediagnoseer is. Longkanker - en rook speel beslis 'n groot rol - is ook 'n derduiwel. Hoewel vooruitgang gemaak is in die behandeling van longkanker, oorleef die meeste pasiënte slegs maande ná diagnose van longkanker.

Melanoom (moesiekanker) is ook 'n uiters aggressiewe kanker. Indien dit vroeg opgespoor word, is die kans op herstel goed, maar as die melanoom eers 'n sentimeter of twee die vel ingedring het, is die kans vir verspreiding na ander organe groot, en is dit 'n dodelike kanker. Ovariële kanker word ook dikwels te laat opgespoor.

Sekere limfome (limfklierkankers), sekere soorte leukemia (bloedkanker) en testeskanker reageer goed op behandeling en word nou as heeltemal geneesbaar beskou.

Die sleutel lê dikwels in vroeë opsporing. - Marí Hudson

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE