Share

So het ek 100kg verloor

Ná 'n maagomleidingsoperasie en 'n drastiese leefstylverandering geniet Yusuf Rawat 'n splinternuwe, gesonde lewe. Die stryd teen vetsug het hy gewen, maar sy volgende uitdaging was om die los, verrekte stukke vel wat hy oorgehou het te laat wegsny.
Deur DEBBIE REYNOLDS

Hy is die "vettie" by die gim. Die man wat jy nie kan miskyk nie, maar in wie jy eintlik nie wil vaskyk nie. Om dit erger te maak, laat hy jou heimlik goed voel oor jouself terwyl jy op die trapmeul sweet. Jy sukkel dalk ook met 'n paar ekstra kilo's, maar jy's darem nog nie "dáár" nie.

Ontmoet Yusuf Rawat. Hy weeg 115kg. Klink dit na baie? Wel, nie te lank gelede nie het dié 30-jarige man van Durban die skaal op 215kg laat kreun! Sy verhaal van hoe hy 100kg afgeskud het, is een van moed, toewyding en deursettingsvermoë.

Dit het alles in 2005 begin. Wat vir Yusuf 'n goeie jaar moes wees, het gou in 'n nagmerrie ontaard. Met 'n diploma in bemarking agter die blad het hy ywerig werk begin soek, maar die een deur ná die ander is in sy gesig toegeklap.

"Ek sou altyd die kortlys vir onderhoude haal, maar die oomblik dat hulle my in lewende lywe sien, was dit klaarpraat."

Kombinasie van probleme
Yusuf het nie net gesukkel met 'n swak selfbeeld wat hom al sedert sy kinderdae bloots ry nie, hy het ook aan vetsug gely – die gevolg van swak eetpatrone, geen oefening nie en onderliggende bipolêre gemoedsteurnis wat eers veel later gediagnoseer is. Alles was meteens net te veel. Hy het nie meer kans gesien vir die lewe nie. Een Saterdag in September 2005 het hy 100 pynpille gedrink.

Dié oënskynlike tragedie het 'n bedekte seën geword. Yusuf se ouers het op hom afgekom en hom net betyds by die hospital gekry.

"Dis waar ek dr. Keshika Sing ontmoet het. Sy is 'n psigiater en het agtergekom dat ek aan bipolêre gemoedsteurnis ly," vertel Yusuf. "Wanneer ek depressief was, het ek geëet. Ten minste was daar toe 'n rede vir my vetsug en hopelik dus ook 'n oplossing."

Yusuf beskryf bipolêre gemoedsteurnis as "K3G", soos kortweg verwys word na die Bollywoodfliek Kabhi Kushie Khabi Gham. Dit beteken "soms gelukkig, soms hartseer".

"Een deel van die probleem word opgelos met medikasie en die ander deel met berading," sê Yusuf. "Keshika behandel die simptome sowel as die probleem. Sy het my geleer dat jy jouself kan verander."

Maagomleidingsoperasie
Nadat Yusuf se geestesgesondheid verbeter het, het Keshika voorgestel dat hy 'n maagomleidingsoperasie oorweeg. In wese beteken dit 'n kleiner maagsak – omtrent die grootte van 'n wynglas – word geskep wat afsonderlik van die res van die maag is.

Weens dié kleiner magie kan jy nie meer so baie kos eet nie. 'n Uitlaat word ook geskep wat die res van die maag en die dunderm omseil sodat minder kalorieë geabsorbeer word terwyl kos deur die liggaam beweeg.

Met die kleiner magie voel jy gou vol en is jy dus minder lus om te eet, sê die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Vetsug en Metabolisme. Ná die operasie moet jy vir die res van jou lewe 'n voorgeskrewe eetplan volg om te voorkom dat jy naar word sodra jy te veel eet. In sommige gevalle moet jy jou dieet met 'n multivitamien aanvul. Sommige pasiënte kan lae bloedsuiker kry wat hulle kan laat flou val.

Mediese skemas is bereid om vir die operasie op te dok as 'n pasiënt se vetsug as lewensgevaarlik beskou word. Yusuf behoort egter nie tot 'n mediese fonds nie en het geen manier gehad om die R80 000 wat die operasie kos, te kry nie.

"Keshika het gesê dat sy 'n aanbeveling sou doen dat ek in 'n staatshospitaal geopereer word," vertel Yusuf. "En op 22 Mei 2006 het my nuwe lewe begin."

Mediese span
Voor die operasie moes hy verskeie toetse en evaluasies deurloop. Dis uitgevoer deur 'n multidissiplinêre span van die Inkosi Albert Luthuli-hospitaal in Durban. Die span het bestaan uit 'n endokrinoloog, laparoskopie-chirurg, narkotiseur, plastiese chirurg, dieetkundige, biokinetikus en psigiater.

"Die operasie kan gevaarlik wees," sê Yusuf. "Maar die gevare van vetsug is veel groter. Vir my was daar eenvoudig geen ander keuse nie."

Die operasie was egter net die begin. Wat sou volg was 'n radikale verandering in dieet, oefening en leefwyse. As kind het Yusuf verskeie dinge beproef om gewig te verloor, maar sonder sukses.

"My ma het my die een dieet ná die ander laat volg, waaronder die Weigh-Less-dieet toe ek ses was*. Ek het ook verskeie dieetpille gesluk, maar niks het gewerk nie. Ek sou die gewig verloor net om dit alles weer aan te sit. Op hoërskool het ek selfs my kake laat vaswerk, maar die drade het gou gebreek en dit was net geldmors."

Teen die tyd dat Yusuf klaar was met skool het hy die skaal op 'n gewigtige 170kg laat trek. 'n Tipiese middagete was 'n kitskosfees van gaskoeldrank, 'n roomgevulde oliebol, 'n sjokoladeéclair, twee rolletjies, 'n pakkie skyfies en twee roomyse. Hy sou nog 45kg aansit voor hy die groot stap gedoen het tot wat hy beskou as sy "wedergeboorte". Hy was 27.

Omstandighede verbeter
Yusuf het onmiddellik ná die operasie begin gewig verloor. Ses weke later het hy 'n werk as bemarkingsbestuurder losgeslaan.

"Skielik het mense nie meer vir my gelag nie, maar saam met my. Toe my broek eendag by die werk wou afval, het die personeel hande geklap en gehelp om ekstra gaatjies in my gordel te pons. My broekgrootte het gekrimp van 'n 10XL na 'n XXL."

Ten einde sy gewigsverlies aan te help het Yusuf ook by 'n persoonlike afrigter gaan aanklop.

"My afrigter, Michael Reimers, het my gehelp om nog 30kg te verloor, waarna ek die tweede velverwyderingsoperasie kon ondergaan.

"Ek doen ook kardiovaskulêre oefening en tel vyf dae per week gewigte op – en ek het soveel meer energie."

Lewe handel nie meer oor kos
Sy dieet, wat deur 'n dieetkundige beplan word, het ook ingrypend verander. Deesdae eet hy hawermout of semelpap vir ontbyt, geroosterde hoender, slaai en 'n sny brood vir middagete en vis of hoender met geroosterde groente vir aandete. Tussendeur peusel hy aan vrugte en jogurt.

"Ek mag soms oor die tou trap, maar my lewe wentel nie meer om kos nie," sê Yusuf.

Hy het pas sy dertigerjare betree, maar vir hom voel dit asof hy weer 'n tiener is. En hy het nog baie goeie jare en goeie tye wat hy wil inhaal.

"Ek moet nog omtrent 25kg verloor om my teikengewig te bereik, maar ek sal dit haal," sê hy vasberade.

Om so baie gewig te verloor bring natuurlik sy eie probleme mee. Een hiervan is die oormaat verrekte vel wat chirurgies verwyder moet word. Yusuf het al twee sulke operasies ondergaan.

Asof hierdie gesondheidsmylpaal wat hy reeds bereik het nie genoeg is nie, het Yusuf ook ander doelwitte; klein dingetjies wat hy skielik kan geniet.

"Ek wil vir die eerste keer in jare sonder my hemp gaan swem," lag hy. "En ek wil leer tennis speel, en vlugbal. Ek voel ook lus om klere te dra wat in die mode is. Ek wil reis.

"En ek wil weet hoe dit voel om verlief te wees."

* Weigh-Less beveel hul eetplan net vir kinders ouer as nege aan.

Ná Yusuf se eerste operasie waarin die oormatige vel rondom sy maag verwyder is, moes hy nog 30kg verloor voor sy plastiese chirurg, prof. Anil Madaree, sou instem om die ekstra vel aan sy borskas en arms te verwyder. As 'n mens baie gewig verloor, kan die los velle tot heelwat ongerief lei omdat die verrekte vel nie saam met die gewig krimp nie. Yusuf was altyd besonder bewus van sy mansborste, 'n tipiese gevolg van vetsug, en het nooit sonder 'n hemp op die strand verskyn nie.

 

'n Groot deel van Yusuf se tweede operasie was 'n volledige borsverkleining. Sy borste is gelig en nadat die oortollige vel verwyder is, is die donker vel wat die tepels omring geskuif om by sy nuwe plat borskas te pas.

Die oortollige vel aan sy bolyf is ook verwyder asook die vel wat van sy boarms gehang het. Die chirurg het die littekens met groot sorg onder Yusuf se arms en in die vou van sy borskas versteek. Die wonde is sorgvuldig met klein stekies vasgewerk om die littekens te beperk. As Yusuf eers sy teikengewig bereik het, sal hy tien teen een verdere plastiese chirurgie moet ondergaan om nog los vel aan sy bolyf te verwyder.

Laat die velle waai

Wanneer 'n mens 'n groot hoeveelheid gewig verloor, bly daar dikwels reusagtige stukke vel oor wat nie krimp namate jou lyf gewig verloor nie. Dié oormatige vel word gewoonlik aangetref rondom die maag, middel, bobene, boarms en bors.

In Yusuf se geval het dit twee operasies gekos om die ekstra vel te verwyder. Die eerste operasie in Julie verlede jaar was om die vel rondom die maag te verwyder. Hy vertel die vel het soos 'n "voorskoot" om sy maag gehang.

In Junie vanjaar is die vel rondom sy borskas en arms verwyder. Albei operasies is uitgevoer by die Inkosi Albert Luthulihospitaal deur prof. Anil Madaree, hoof van die departement plastiese en rekonstruktiewe chirurgie aan die Nelson R. Mandelamediese skool aan die Universiteit van KwaZulu-Natal.

Anil, deel van die multidissiplinêre span wat Yusuf behandel het, beklemtoon dat 'n pasiënt vasberade moet bly om gewig te verloor en sy leefstyl te verander. Dis omdat dit 'n ingewikkelde proses is wat lank voor die maagomleiding begin en omtrent vir altyd sal aanhou.

"Danksy die span was ek behoorlik ingelig en voorbereid," sê Yusuf. Uitdagings was daar wel. So moes hy tien dae in die hospitaal deurbring ná sy tweede operasie.

"Dit was baie ingewikkelder as om bloot ekstra vel te verwyder," sê Anil. "Vetsug in mans kan abnormale borsvergroting veroorsaak. Ons moes dus sy borste ook verwyder en sy areolas verklein en vervang."

Yusuf se areolas – die donker stuk vel wat die tepels omring – was ekstra vergroot weens sy groot borste. Die areolas is verwyder, kleiner gemaak en weer op die kleiner borste vasgewerk. Vel moes ook aan sy borskas en boarms verwyder word.

"Die ekstra vel is afgesny en ons het baie versigtig gesorg dat die littekens net op aanvaarbare plekke sit," sê Anil. "Die wonde moes ook uiters fyn vasgewerk word."

Dis waarom so 'n operasie twee tot drie uur onder narkose duur en die hersteltydperk streng gemonitor word.

 Bereken jou liggaamsmassa-indeks

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE