Share

Snork jou man jou uit huis en haard?

Hoekom snork mense? Wie snork die meeste? Wat kan daaraan gedoen word as mense snork?

Dit is drie-uur in die oggend. Die huis is stil, daar is geen verkeer nie en selfs die bure se katte het uiteindelik gaan inkruip. Almal slaap behalwe jy. Want langs jou dreun manlief soos ‘n hamerboor en jou gedagtes het al verskeie keer by moord omgedraai.

Dis nou na jy hom al drie keer wakker gemaak het, ‘n slag of wat goed in die ribbes gepomp het en ‘n knyp of twee gegee het. Uiteindelik blaas jy maar die aftog en gaan kruip in die spaarkamer in. Hoekom snork hy en wat kan daaraan gedoen word?

Hoekom snork mense?


"Mense snork snags wanneer hulle slaap en jou sagte verhemelte (waarvan die kleintongetjie die punt is), tong en keelspiere ontspan. Indien die lug vanaf die neus en mond nie vrylik met inaseming kan deurbeweeg na die longe (wat aanhou lug intrek) nie, suig hierdie sagte weefsel vas teen die keelwand. Dit het tot gevolg dat die verslapte weefsel begin vibreer, omrede slegs klein hoeveelhede lug deurgelaat word," sê Professor Reyneke, Oor-Neus en Keelspesialis tans verbonde aan die Universiteit van Kaapstad se Mediese skool by Groote Schuur Hospitaal.

Wie snork die meeste?
"Kinders, ouer mense en mense wat oorgewig is", volgens Professor Reyneke.

"Kinders, meestal omdat hulle dikwels sukkel met vergrote adenoide of mangels. Kinders ly ook dikwels aan allergieë wat die neusslymvlies laat toeswel. Dit kan ook asemhaling snags bemoeilik."

"Ouer mense sukkel ook dikwels met hierdie probleem, wat verskeie oorsake kan hê. Een daarvan is as ‘n skewe neuskraakbeen ‘n neusobstruksie veroorsaak. Allergieë veroorsaak ook dikwels snags ‘n halftoe neus. Verder verslap mense se spiere soos hulle ouer word wat tot die probleem bydra."

"Mense wat oorgewig is, snork ook dikwels, omdat daar meer vet in die strukture van die keel is, wat die vrye vloei van lug verder belemmer."

"Die feit dat ‘n mens plat lê veroorsaak dat die neusgange effens toeswel, wat ook die weerstand teen lugvloei vererger.

Is daar hoop vir mense wat snork?


"Definitief, ja", sê Professor Reyneke. “Neusdruppels kan gebruik word om die neus snags oop te hou. Asemhaling deur die mond is nie sodanig gevaarlik nie, maar lug wat deur die neus ingeasem word, word van onsuiwerhede gefiltreer, terwyl dit nie die geval is met mondasemhaling nie."

"Oorgewig mense moet ‘n plan maak om van die oortollige gewig ontslae te raak."

"In sekere gevalle is ‘n operasie aan die neus of keel ‘n oplossing. ‘n Besoek aan ‘n spesialis behoort aan te dui of dit moontlik die oplossing is."

"Snork as sulks is nie gevaarlik nie, maar moet nie met slaapapnee verwar word nie. Dit is ‘n baie ernstige kondisie, waar die lyer vir kort periodes snags heeltemal ophou asemhaal. Dit verhoed dat lyers genoeg rus kry omdat hulle nie vir lang periodes diepfase-slaap ervaar nie. Die bloed is ook nie ten volle met suurstof versadig nie en derhalwe ly die vitale organe daar onder."

Dinge wat jy kan doen om die probleem op te los

  • Kry die persoon wat snork om gewig te verloor
  • Kry goeie neusdruppels vir die snorker
  • Werk ‘n garetolletjie of tennisbal agter die nek van sy pajamas vas, sodat hy nie op sy rug lê en slaap nie
  • Lig die koppenent van die bed
  • Maak ‘n afspraak by die dokter as geen van die bogenoemde werk nie.

(Health24, September 2002)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE