Share

Smelt, vet, smelt!

 As jy na al die wêreldbekerfeesvieringe te bang is om op die skaal te klim is jy in goeie geselskap. Baie bekendes het dieselfde probleem. Hier verklap vyf van hulle hul swakpunte – en deel hul raad en gehuime oor hoe jy die partytjieseisoen se oordaad van jou heupe af kry…
Deur CHIOVONNE COETZER

Vuyo Mbuli
Joernalis

Dié gewilde aanbieder van SABC2 se ontbytprogram Morning Live is 'n gerespekteerde joernalis wat ook sy eie program, The Vuyo Mbuli Show, op SAfm het.

My grootste versoeking: Ek is mal oor enige lekker kos!

My topwenke
- Ons het almal gewoond geraak aan soetgoed in die feestyd. Begin sommer dadelik minder daarvan eet.
- Begin dadelik weer oefen. Ek draf so gereeld moontlik, minstens 'n uur op 'n slag.
- Eet kleiner porsies. Pleks daarvan om jou bord vol kos te skep kan jy net so 'n bietjie minder van alles inskep.
- Eet elke dag vrugte.
- Drink genoeg water.

My beste raad aan iemand wat 'n paar kilo's wil afskud: Moenie net 'n week lank gesond probeer eet en leef nie. Maak dit 'n leefstyl.

 

Elana Afrika
TV-aanbieder/platejoggie

Elana glo glad nie aan diëte nie, maar sy is gek oor oefen en ken wel 'n paar slim planne.

My grootste versoeking: Wanneer ek dink dat ek op 'n dieet is!

My topwenke
-
Hou dadelik op met jou dieet en eet net wanneer jy honger is.
- Verwyder alle vet van vleis.
- Drink baie water, al dink jy nie jy is dors nie.
- Hou op om elke dag drie reuse maaltye te eet.
- Geniet jou wyn, maar voeg ys en soda by.
- Eet vrugte tussen etes.
- Doen flink staptogte in jou omgewing. Jy sal verbaas wees wat stap vir jou liggaam kan doen.
- Oral waar ek gaan, pak ek my oefenskoene en springtou in. 'n Springtou is klein en kompak en ek kan op enige plek touspring.

My beste raad aan iemand wat 'n paar kilo's wil afskud: Gaan koop 'n springtou en begin spring, enige plek, enige tyd!

 

Natalie du Toit
Olimpiese swemmer

Sy het die wêreld aan haar voete gehad toe sy in Beijing die eerste ledemaat-gestremde atleet geword het wat aan die Olimpiese Spele deelneem. Sy is haar lewe lank nog sportief en was nog nooit op 'n dieet nie, maar sê sy sit maklik gewig aan.

My grootste versoeking: Skaapboud en Quality Street-lekkers.

My topwenke
-
Ek eet twee maaltye per dag pleks van drie.
- Ek eet geen brood nie en verminder ander styselsoorte in my dieet.
- As ek honger word, probeer ek meer gereeld versnaperinge soos vrugte en neute eet.
- Ek verhoog die aantal kardiovaskulêre oefeninge in my program – ry meer fiets, hardloop en roei in die gim.

My beste raad aan iemand wat 'n paar kilo's wil afskud: Almal verskil, daarom moet jy luister na jou liggaam en vasstel watter kossoorte jou vinnig laat gewig aansit en aan watter jy kan weglê sonder om ekstra kilo's op te tel. Oefening is steeds die beste manier om gewig te verloor, veral as jy verskillende soorte kardiovaskulêre oefening kombineer.

 

Marc Lottering
Komediant

Marc is een van ons land se mees geliefde komediante en tree gereeld voor vol sale op. Hy het ook al 'n Fleur du Cap- en 'n Vita-prys op sy kerfstok. Marc sê hy verkies om gewigsverlies prettig aan te pak, nes al die ander dinge in sy lewe.

My grootste versoeking: Daar is niks so lekker soos 'n boereworsrolletjie van 'n stalletjie in Langstraat In Kaapstad ná 'n aand van jolyt nie. Daardie tyd van die oggend maak dit absoluut sin!


My topwenke
-
Gaan kuier vir vriende wat nie kan kook nie.
- Sê ja vir pretensieuse sosiale geleenthede waar jou hoofmaal soos 'n baie klein modern kunswerkie lyk eerder as 'n heerlike bord huiskos.
- Sluit aan by die gimnasium en maak seker jou persoonlike afrigter is die sexyste man of vrou in die land. Glo my, jy sal soggens sonder 'n probleem uit die bed spring en gaan oefen!
- Ek dwing my om elke dag gim toe te gaan en die res van die dag loop ek rond met 'n amperse heilige gevoel. Dis wonderlik!
- Gaan stap met jou hond.
- Dans asof niemand jou raaksien nie.

My beste raad aan iemand wat 'n paar kilo's wil afskud: Sê vir jouself jy kan enige tyd in jou eks vasloop. Glo my, jy sal sorg dat jy elke dag fantasties lyk!

 

Tanya van Graan
Aktrise

Vir dié sexy model en aktrise is dit baie belangrik om viets en ferm te wees, maar dit kom nie vanself nie – sy bieg dat sy as laerskoolkind "stewig en rond" was.

My grootste versoeking: Soetgoed, veral Turkse lekkers!

My topwenke
-
Ek stel 'n realistiese doelwit wat ek binne twee weke wil bereik.
- Ek werk 'n oefen- en eetplan uit en plak dit teen die yskas sodat ek dit elke dag kan sien en my vordering kan afmerk.
- Oefen en nogmaals oefen! Ek doen verskillende soorte kardiovaskulêre oefening wat help met vetverbranding. Ek probeer twee keer per dag oefen, een sessie kardiovaskulêre oefeninge en een sessie met gewigte. Maar die beste oefening is swem! Dit is goed vir jou hele lyf sonder die impak wat oefening soos draf op jou liggaam het.
- Ek drink baie water. Behalwe dat dit goed is vir jou, help dit ook om jou versadig te laat voel sodat jy jou nie aan kos vergryp nie.
- Ek eet geen stysel nie. As jy wil stysel eet, bly maar weg van die verfynde soort soos pizza en witbrood en eet bruinrys en volgraanbrood.
- Ek vermy alkoholiese drankies wat baie suiker bevat en meng eerder sodawater of Sprite Zero met wyn.
- Ek probeer om nie te laat in die aand te eet nie, maar eerder 'n groot middagete.
- As ek lus voel vir soetgoed eet ek eerder vars of droëvrugte.
- Maar as ek regtig nie die dag my lus kan keer nie eet ek een blokkie sjokolade baie, baie stadig!

My beste raad aan iemand wat 'n paar kilo's wil afskud: Oefen minstens 30 minute per dag.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

 

Healthy eating this festive season
Stay slim over Christmas

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE