Share

Siekte van die moderne vrou

Endometriose is aan die toeneem in Suid-Afrika en sowat een uit elke 10 vroue ly in hul vrugbare jare daaraan. Maar dit kan behandel word.
Deur MARIE OPPERMAN en die HEALTH24-SPAN

Sy kan die lyding nie meer verduur nie, sê Dani (23)*, 'n rietskraal meisie met donker kringe onder haar oë. Dan vertel sy 'n verhaal wat jou laat ril.

"Ek is op 15 met endometriosegroeisels – stukkies baarmoedervoering – op my blaas, derms, eierstokke en baarmoeder gediagnoseer.

"Ek weet dit klink belaglik, maar ek het sowat 60 tampons per week gebruik – dis sowat 240 per maand en 2 880 die afgelope jaar. Dit is nou al so erg dat ek die afgelope jaar aanhoudend gebloei het. Ek het 365 dae lank gemenstrueer."

"Ek is verbaas dat ek nog die krag het om uit die bed op te staan. Ek het gedurig pyn en soms voel dit asof ek daarvan kan flou word." Dani vertel sy het geen energie nie. Sy het verlede jaar 54kg geweeg, nou weeg sy 10kg minder. Haar hare val in bosse uit. Sy het gehoor sy moet bloedoortappings begin kry en dalk oor 'n paar jaar 'n histerektomie.

"Sê nou ek sal nie eendag kinders kan kry nie? Ek weet nie wat om te doen nie. Ek is emosioneel uitgemergel," sê sy.

Layla (28)*, 'n kunstenaar van Port Elizabeth, het dit nie veel beter nie. "As jong meisie het ek geweet maandstondes is deel van vrouwees. En dat dit veronderstel is om seer te wees. Ons is aangesê om die krampe, die pyn en die opgeblaaste gevoel te aanvaar deur 'n warmwatersak en 'n klompie pynpille te gryp en in die bed te gaan wegkruip.

"Uiteindelik, na hoeveel jaar, is ek met endometriose gediagnoseer. Dit was 'n geweldige verligting om 'n naam te kon koppel aan die monster wat my liggaam maand na maand afgetakel het. Ek het ten minste nie gevoel soos iemand met iepekonders wat 'n ooraktiewe verbeelding en ondergemiddelde pyndrumpel het nie," sê sy en haar oë skiet vol trane.

Aan die toeneem

Endometriose is aan die toeneem in Suid-Afrika en is een van die mees algemene ginekologiese probleme – dit kom voor by sowat een uit elke tien vroue in hul vrugbare jare. Dr. Johan van Schouwenburg, 'n spesialis in reprodukiewe geneeskunde aan die Medfemkliniek in Sandton, beskryf selfs die toestand as "die siekte van die moderne vrou".

"Dit kom meestal voor by perfeksioniste en professionele vroue wie se werk- en lewenstyl gepaardgaan met chroniese laegraadse spanning," sê hy. Maar dis nie net professionele vroue wat daaraan ly nie, maan dr. Johan van der Wat, wat ook in reproduktiewe geneeskunde spesialiseer by die Park Lane-kliniek in Parktown, Johannesburg.

Volgens hom is dit 'n veel algemener probleem. "Ek sien dit in alle pasiënte – ook dié wat nie 'n stresvolle lewe ly nie. Maar dit word dikwels verkeerd gediagnoseer en daarom ly vroue onnodig."

Die oorsaak van endometrioses is 'n raaisel, maar talle vroue ly in stilte omdat hulle voel dat hul pyn en veral die pyn tydens seksuele omgang te persoonlik is om met 'n dokter te bespreek.

Volgens Van der Wat, wat ook die redaksionele raadgewer is vir die webforum EndoZone (www.endometriosiszone.org), is daar geen rede waarom vroue met die pyn en bloeding van endometrioses moet saamleef nie. "Dis behandelbaar. Siekefondse betaal vir die verwydering en behandeling daarvan."

Lees meer:

Wat is endometriose?

Oorsake

Simptome

Diagnose

Swangerskap

Ander behandeling

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE