Share

Ruben Kruger: ‘n Kykie na breingewasse

Dokters het in 200 astrositoom by Ruben Kruger gediagnoseer.

Wat presies is astrositoom? Min kan gedoen word om die verloop van dié siekte te keer indien dit eers in die tweede stadium (benigne astrositoom-stadium) is, en die verloop van diagnose van hierdie stadium tot dood is gemiddeld sewe tot tien jaar.

Breingewasse meer algemeen as wat mense dink

Breingewasse is meer algemeen as wat baie mense dink. Breintumore is die derde algemeenste gewas by kinders en die een van die vyf algemeenstes onder volwassenes, sê dr. Freddie Kieck, ’n Kaapstadse neurochirurg.

Breingewasse kom so gereeld voor dat ‘n enkele neurochirug sowat 30 – 40 breingewasse per jaar behandel. Sowat ‘n derde van breingewasse is astrositome (astrosiet-gewasse).

Wat is astrosiet-selle in die brein?

Die brein bestaan uit reekse senuselle wat verantwoordelik is vir “ware” breinfunksies. Dié breinfunksies word beheer in dele/sentra van die brein wat persoonlikheid en emosies bepaal, sentra vir spraak, gehoor, bewegings deur arms en bene, ’n oogknip, asemhaling, slaap, elke aksie en gedagte van die mens.

Dié reeks senuselle word ondersteun deur bindweefsel, wat bestaan uit glia-selle, met astrosiete die algemeenste soort glia-sel.

Astrosiete kom normaalweg deur die hele brein voor, en het ster-agtige uitgroeisels wat om senuselle draai. Gesonde normale astrosiete kan in kankerselle omskakel, en astrosietkankerselle vorm ‘n gewas bekend as astrositoom.

Die sneller vir dié omskakeling is onbekend, sê dr. Kieck.

Vier grade astrositoom

Volgens die klassifikasie van die Wêreldgesondheidorganisasie (WGO), kom vier grade van astrositoom voor, gegradeer van mins ernstig tot gevaarlikste. Dit blyk dat die vroeë stadiums van die gewas geleidelik kan oorskakel in die latere stadiums.

Die vier grade van astrositoom is:

  • Eerste graad = pilositiese astrositoom. Dit kom meer in kinders voor. Dit is versprei nie na ander dele van die liggaam en is nie ’n kankergewas nie. Indien di’e gewas in hierdie vroee stadium in kinders gediagnoseer word, word dit chirurgies verwyder. Die gewas is omkapsel en die kans is goed dat ’n chirurg die gewas in sy geheel kan word. Sowat 50 – 60% van kinders wat vir die pilositiese astrositoom behandel word, lewe ná 10 jaar nog.
  • Tweede graad = astrositoom. Dié gewas word ook as ’n nie-kankergewas beskou. Sowat 20 % van mense met die gewas leef langer as 10 jaar. Die gemiddelde oorlewingsyfer is sewe tot tien jaar.
  • Derde graad = Anaplastiese astrositoom: Dié gewas is ‘n kankergewas. Die gemiddelde oorlewingsyfer is korter as twee jaar.
  • Vierde graad = Glioblastoom. Die kankergewas ontstaan reeds uit glioblast-stamselle en die gewasselle is “primitief” en ongedifferensieerd. Die gewasse kom byna uitsluitlik in ouer mense voor. Die gemiddelde oorlewingstyd is sowat ses maande ondanks behandeling.

Simptome


‘n Breingewas kan slegs in die beperkte ruimte van die skedelholte groei en begin geleidelik teen breinweefsel druk.

Veral die minder maligne gewasse veroorsaak verhoogde breindrukking, wat gepaard gaan met hoofpyn. Ander simptome soos naarheid en braking kan ook voorkom.

Die groeiende massa kan ook normale breinweefsel vernietig, en tot neurologiese veranderings lei. Indien die gewas naby die spraak-area in die brein (in die linker temporale lob) groei, sal dit moontlik spraak aantas. Indien dit in die cerebellum (kleinharsings) groei, kan dit tot verlamming lei. Hoe meer kankeragtig die gewas, des te groter die neiging om neurologiese skade te veroorsaak.

Skielike epileptiese aanvalle kan die derde tipiese simptoom van ‘n breingewas wees. Beide nie-kankeragtige en kankergatige gewasse kan epilepsie veroorsaak, afhangend van hul groote en ligging, verduidelik dr. Kieck.

Hoe diagnoseer ‘n dokter ‘n breingewas?

‘n Dokter sal ‘n pasiënt met een of meer van bogenoemde simptome (hoofpyn, naarheid en braking; neurologiese uitvalle; en skielike epilepsie) toon, eers beveilig en stabiliseer. ‘n MR-skandering kan met meer as 90% akkuraatheid die teenwoordigheid en ligging van ‘n breingewas aantoon.

‘n Neurochirurg sal die diagnose met ‘n biopsie bevestig.

In pasiënte ouer as sowat sestig, en indien die gewas in ‘n baie sensitiewe deel van die brein geleë is, sal ‘n stereotaktiese biopsie, wat uiters akkuraat op die gewas gerig is, met ‘n dun naaldjie gedoen word sodat geen omliggende normale breinweefsel beskadig word nie.

In jonger pasiënte waar die gewas dikwels in ‘n vroeër stadium is, sal soveel as moontlik van die gewas uitgesny word indien dit in die frontale, temporale of ‘n ander deel van die brein is waar ‘n gewas nie so gou skade kan veroorsaak nie.

Die biopsie en chirurgie kan ook met die hulp van breinkartering deur elektrodes gedoen word.

Kan astrositoom behandel word?


Die hoofbenadering van die behandeling is om nooit ‘n pasiënt slegter te laat ná chirurgie, radioterapie of chemoterapie as vóór die behandeling nie, sê dr. Kieck.

Die grootste rede waarom chirurge ‘n breingewas chirurgies verwyder, is om die drukking op die omliggende breinweefsel te verlig.

‘n Pilositiese astrositoom kan meestal in sy geheel uitgesny word, met ‘n goeie kans op genesing.

‘n Benigne astrositoom (graad 2) is meer diffuus. Dit lyk byna soos normale breinweefsel, en ‘n chirurg kan moeilik tydens ‘n operasie onderskei waar die gewas eindig en die normale breinweefsel begin. ‘n Neurochirurg sal, in ‘n poging om drukking te verminder, probeer om die gewas so goed moontlik uit te sny. Spesialiste kan ook probeer om die gewas met radioterapie of chemoterapie te krimp.

Anaplastiese astrositoom en glioblastoom lyk anders as breinweefsel. Dit groei egter dikwels saam met senuvesels en vernietig normale breinselle. Pasiënte met dié graad breingewasse word dikwels met radioterapie behandel.

Met nuwer tegnieke kan radiochirurgie met ‘n gamma-mes gedoen word (nog nie in Suid-Afrika beskikbaar nie).

Met stereotaktiese bestraling is dit moontlik kan baie hoër bestralingsdosisse veiliger en akkurater op die gewas te mik.

In sommige breingewasse kan protonbestraling ook ingespan word. Chemoterapie verhoog in sommige pasiënte die kans op oorlewing

In die meeste gevalle help die behandeling egter min om die siekte te stuit.

Kontakbesonderhede
Vir meer inligting, kontak dr. Freddie Kieck, faks (021)531-0819; enige ander neurochirurg; jou algemene praktisyn; die departement neurochirurgie of radioterapie van die Groote Schuur Hospitaal tel (021) 404-9111; die departement van radioterapie van die Tygerberg-Hospitaal, tel (021) 938-4911. Mari Hudson, Health24. 2001.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE