Share

Rooi gevaar

Die wêreld is aan die gons oor soedanrooi, ook bekend as soedan I. Alle rissiepoeiers en ander kosse wat dié voedselkleurstof bevat, is pas aan die mark onttrek, omdat dit kanker kan veroorsaak. Hoe groot is dié gevaar werklik?

Vergeet maar daardie ekstra bietjie brandrissie poeier in jou kos, of die strooisel paprika (rooipeper). Dié geurmiddels het méér byt as waarop jy gereken het - nie in die geur nie, maar die kleur. Dié keer spel rooi weliswaar gevaar, want soedanrooi, die kleurstof wat talle geurmiddels hul rooi kleur gee, is inderdaad 'n gif wat DNS-skade en gevolglik ook kanker kan veroorsaak.

Suid-Afrika se departement van gesondheid het pas - etlike maande nadat die Britse gesondheidsowerheid voedselprodukte met soedanrooi in Engeland aan die mark onttrek het - uiteindelik opdrag gegee dat verskeie rissiepoeiers van winkelrakke in Suid-Afrika verwyder word.

Dié stappe volg nadat die departement wel soedanrooi in verskeie voedselprodukte gevind het. Plaaslike owerhede het nou ook opdrag van die nasionale gesondheidsdepartement ontvang om alle voedselprodukte met rissiepoeiers van die rakke te verwyder en vir soedanrooi te toets. Die Britte het vroeër vanjaar bevind dat 'n groot verskeidenheid voedselprodukte - van bevrore vleis tot slaaisouse - soedanrooi bevat.

Dit hoort in skoenpolitoer
Soedankleurstowwe maak deel uit van 'n groep nywerheidskleurstowwe wat gewoonlik gebruik word om plastiek, petrol, olie, skoenpolitoer en 'n verskeidenheid sintetiese produkte te kleur.

In Suid-Afrika word die gebruik van die kleurstof in kos verbied ingevolge regulasies oor voedselkleurstowwe, soos vervat in Wet 54 van 1972.

Die enigste kleurstowwe wat in souse, kruie en speserye in SuidAfrika gebruik mag word, is beetrooi, allurarooi, asorubien of karmoï sien, Ponceau 4R of cochenillerooi en karmynsuur, het die forensiese chemiese laboratoria van die departement bekend gemaak.

Tot dusver is vier soedankleurstowwe in voedselprodukte oor die wêreld heen gevind, en veral soedanI (soedanrooi) en soedan IV (skarlakenrooi).

Gesondheidsowerhede vermoed dat sommige vervaardigers soedankleurstowwe by voedselprod ukte voeg om die kos rooier (en mooier) te laat lyk, want die "opvatting bestaan dat 'n intenser kleur 'n aanduiding van gehalte is".

Indië en kie.
Dit blyk uit die EU se aanmeldingslys oor verbode kleurstowwe dat soedan I - IV voorkom in voedselprodukte wat veral sedert Mei 2003 vervaardig is, en dat die lande van oorsprong veral Indië, Pakistan, Thailand, Libanon en Turkye is. 'n Paar EU-lidlande vervaardig egter ook voedselprodukte met soedankleurstowwe. Vlakke van tussen 2.8 en 3 500 mg/kg soedan 1 is in rissiepoeiers gevind en tussen 0.7 en 170 mg/kg in speserye en kruie. Die vlakke is laag, maar moontlik hoog genoeg om op lang termyn ('n paar jaar) kanker by sommige mense te veroorsaak.

Die internasionale maatskappy Unilever het vandeesweek in 'n verklaring bekend gemaak dat een van sy maatskappye, Robertsons Spices, sy speserye van internasionale bronne aankoop, en dat alle aflewerings vergesel word van sertifikate en toetsuitslae om te bewys dat alle aangekoopte speserye geen soedankleurstowwe bevat nie. Unilever het skok uitgespreek daaroor dat Suid-Afrikaanse ontledings nou getoon het dat van sy produkte wel soedankleurstowwe bevat, en stel nou self ondersoek in na die besmetting. Unilever ontvang sedert Augustus 2004 sertifikate van sy verskaffers in Indië dat alle besendings speserye na Suid-Afrika geen soedanrooi bevat nie. Vrae word egter nou gestel oor die betroubaarheid van dié toetsuitslae en sertifikate.

Hoe dit kanker veroorsaak
Alle soedankleurstowwe is chemies bekend as azo-kleurstowwe, en bevat 'n kankerwekkende amien-komp onent. Die kankerwekkende amiene word tydens die metaboliese prosesse in die liggaam vrygestel.

Volgens die Internasionale Agentskap vir Kankernavorsing blyk dit dat soedan I DNS-skade binne-in selle aanrig. Dié DNS-skade kan so groot wees dat dit by sommige mense tot kankergewasse kan lei.

Soedan I en II is kategorie 3-karsinogene (kankerwekkers) en word met lewerkanker, bloedkanker en limfkanker in rotte verbind. Soedan III en IV is kategorie 2-karsinogene en word "as gevaarlik vir die omgewing" getipeer. Selfs blote velkontak en inaseming het kanker by rotte veroorsaak. Dit is nie bekend hoe gesond die mense is wat in Indië en ander lande in fabrieke werk waar soedanrooi gehanteer word nie. Dit is ook nie bekend of die werkers volwassenes of kinders is nie.

Soedanrooi kom nie natuurlik in die omgewing of in kos voor nie, en gesondheidsowerhede is nie in staat om te sê of daar enigsins 'n minimum veiligheidsvlak is nie.

Mense hoef egter nie op hol te raak nie, sê die forensiese chemici. Volgens die departement van gesondheid hou die inname van soedanrooi nie 'n onmiddellike gesondheidsgevaar in nie. Maar dit kan 'n gesondheidsgevaar inhou as jy groot hoeveelhede oor jare gebruik.

Indien jy nog enige van die produkte in jou kruidenierskas het, raak liefs ontslae daarvan, is die boodskap.

cvrooy@health24.co.za en mhudson@health24.co.za.

Vermy die produkte
Die lys van produkte wat tans van alle winkelrakke in Suid-Afrika verwyder is, is:

Robertson's Peri Peri Spice; Robertson's Flavaz Piquant Peri Peri; Robertson's Portuguese Chicken; Robertson's Louisiana Cajun Robertson's Gold & Crispy Peri Peri; Robertson's Peri Peri Aromat; Robertson's Papmix Hot Chakalaka; Knorrox Chakalaka Cubes; Robertson's 1 kg Food Solutions Cajun Spice; Hellman's 3 litre Food Solutions Curry Dressing; Knorr 2 litre Food Solutions Curry Sauce; Knorr 2 litre Food Solutions Peri Peri Sauce; Robertson's Crispa Coatings Spicy Cajun 1 kg; Osman's Taj Mahal Chilli Powder; Osman's Taj Mahal Extra Special Curry Powder (Medium); Allifa's Extra Special Curry Powder; Bombay Special Peri Peri Spice; Adamson Spices Mother-in-law Spice; Adamson Spices Chicken Tikka Spice; Adamson Spices Hot Curry Powder; Chiefs Mango Achar Spicy; Ma's Spices Fine Chilli Powder; Ma's Spices Curry Powder.

(cvrooy@health24.co.za en mhudson@health24.co.za, Maart 2005)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE