Share

Raak ontslae van slegte asem

Die Italianers kou pietersielie, die Irakese druk 'n naeltjie tussen hulle tande, Indiërs gebruik vinkelsade en die meeste mense glo aan die vars, asemverfrissende eienskappe van kruisement.

Maar volgens die wêreld se leidende mondreukdeskundige is die belangrikste ding wat jy kan doen om jou asem vars te hou, om goeie mondhigiëne toe te pas. 

Dr. Rosenberg, Professor van Mikrobiologie aan die Universiteit van Tel Aviv in Israel, werk al meer as 20 jaar aan die diagnose en behandeling van slegte asem. 

'n Wêreldwye probleem
Slegte asem, ook bekend as halitose, is 'n baie algemene probleem wat 'n verwoestende effek op ons persoonlike en professionele lewens kan hê.

Dr. Rosenberg se navorsing het bewys dat soveel as 30% van alle mense 'n chroniese probleem hiermee het en dat een uit vyf mense bekommerd is dat hulle moontlik slegte asem mag hê.

"Hierdie is twee wyd uiteenlopende groepe, want dit is so moeilik vir mense om te weet of hulle daaraan ly of nie," sê Rosenberg.

Spysvertering nie die oorsaak
Rosenberg sê dit is 'n mite dat slegte asem dikwels deur die spysverteringstelsel veroorsaak word.

"In die meerderheid gevalle (85 tot 90%) is die oorsprong van die probleem in die mond, en dit word oor die algemeen deur bakterieë veroorsaak wat postnasale drup, voedseloorblyfsels en jou eie selle ontbind."

Ongesonde mondhigiëne-gewoontes is gewoonlik die oorsaak van slegte asem, nie die spysvertering nie. Bo en behalwe dat jy jou tande twee keer per dag borsel, beveel Rosenberg ook vlos, tongskoonmaak en monduitspoeling met 'n alkoholvrye mondspoelmiddel aan.

Sorteer die sondebokke uit
Postnasale drup en voedseloorblyfsels kan aan die agterkant van die mond en op die tong saampak; hierdie area moet dus sagkens met 'n tongskraper skoongemaak word.

Vlos om bakterieë tussen jou tande – waar jou borsel nie kan bykom nie – te verwyder, en gorrel voor jy gaan slaap. Hierdie twee aktiwiteite behoort deel van almal se daaglikse higiëne-roetine te wees. 

Genoegsame vloeistof is nog 'n faktor wat nie buite rekening gelaat moet word nie. "Omdat die bakterieë wat slegte asem veroorsaak in 'n droë mond floreer, is dit belangrik om 'n goeie waterbalans, veral in warm weer te behou. Dit help as jy genoeg speeksel produseer. 'n Droë mond – wat deur asemhaling deur die mond, stres, alkohol en baie medikasie vererger word – is 'n groot risikofaktor vir onwelriekende asem."

Volgens Dr. Rosenberg is die beste metode om uit te vind of jy slegte asem het om 'n volwasse familielid of baie goeie vriend te vra. Of jy kan jou tandarts of mondhigiënis vir raad vra.

Rosenberg sê dat ongeveer 20% van mense die vrees het dat hulle slegte asem mag hê, selfs al ly hulle glad nie daaraan nie, en dat dit in sy uiterste vorm in "halitofobie" kan ontaard.  

Wat veroorsaak slegte asem?
Ongeveer 85 tot 90% van slegte asem se oorsprong is in die mond en is gewoonlik die gevolg van swak mondhigiëne. Dit kan ook deur sekere mediese toestande soos 'n disfunksionele lewer of niere, inflammasie van die bronchi en longe, en party metaboliese siektes veroorsaak word, maar dit gebeur nie dikwels nie.

Vyf persent van asemprobleme begin in die neus of sinusse en 3 tot 5% in die mangels. Alhoewel dit 'n algemene geloof is dat die oorsprong van slegte asem in die maag is, is dit baie selde dat slegte asem aan maagprobleme gekoppel kan word.

Die bakterieë wat slegte asem veroorsaak, floreer in 'n droë mond, en speeksel is die natuur se manier om bakterieë weg te spoel. 'n Paar dinge wat die mondweefsel kan uitdroog is: alkohol, om met 'n oop mond te slaap, sekere medikasie, vas, diëte, onvoldoende waterinname, om vir lang periodes te praat. Hormonale veranderinge kan ook slegte asem veroorsaak, soos bv. aan die begin van menstruasie.  

Wat doen ek as ek slegte asem het?
Aangesien slegte asem meestal in die mond begin, maak 'n afspraak by jou tandarts. Dit is raadsaam om, wanneer jy die afspraak maak, te meld dat jy raad oor slegte asem gaan vra.

As die tandarts weet dat die konsultasie oor slegte asem gaan, mag jy gevra word om nie voor die tyd te eet, rook, lekkers te eet, kougom te kou of mondverfrissers te gebruik nie – sodat jou asem "tipies" kan ruik. Probeer om ook nie parfuum te gebruik nie, aangesien dit ook die assessering kan beïnvloed.

Kan tandvleissiekte slegte asem veroorsaak?
Ja, in party gevalle word slegte asem met tandvleissiekte geassosieer. Slegte asem en tanvleissiekte kan beide veroorsaak word deur nie ordentlik tussen jou tande skoon te maak nie. Dit is noodsaaklik dat jy vlos by jou daaglikse roetine insluit, omdat dit uiters belangrik is dat die spasies tussen jou tande skoon bly.

Kan slegte asem altyd behandel word?
Tot onlangs was die algemene mening dat slegte asem in die meeste gevalle 'n ongeneesbare toestand is. Gedurende die laaste paar jaar het dit egter duidelik begin word dat slegte asem gewoonlik suksesvol behandel kan word sodra dit korrek gediagnoseer is.

Watter soorte behandelings is beskikbaar?
Jou tandarts mag tandheelkundige behandeling aanbeveel om van die plekke in die mond waar voedsel mag vassit, en bakterieë kan skuil en groei, ontslae te raak. Jou tandarts kan jou ook na 'n kliniek, wat in die identifikasie van asemreuke spesialiseer, of na ander mediese deskundiges verwys.

Daaglikse behandeling mag 'n effektiewe mondhigiëne-roetine, met 'n mondspoeling elke aand met 'n alkoholvrye mondspoelmiddel, insluit. Daar is wetenskaplike bewys dat sulke roetines slegte asem met die verloop van tyd merkbaar verminder.

Die onderstaande lys bevat wenke oor hoe om slegte asem te hanteer. Onthou dat slegte asem 'n probleem is wat met die regte aandag opgelos kan word. Moet dit nie verbloem nie, vind die wortel van die kwaad!

Jy moet

  • Jou tande en tandvleis twee keer per dag ordentlik borsel.
  • 'n Tongskraper gebruik om jou tong daagliks sagkens maar deeglik skoon te maak.  
  • Vlos, of op 'n ander manier tussen jou tande skoonmaak, soos deur jou tandarts aanbeveel word. Kies ongegeurde tandevlos sodat jy kan agterkom watter areas tussen jou tande reuke afgee en hulle deegliker skoonmaak.
  • Jou tandarts vra om 'n alkoholvrye mondspoelmiddel aan te beveel – iets wat klinies effektief bewys is met die bekamping van slegte asem en die verwydering van kosdeeltjies. Dit werk op sy beste wanneer jy dit net voor slapenstyd gebruik.
  • Baie vloeistof drink, maar nie te veel koffie of alkohol nie.  
  • Pietersielie, kruisement, naeltjies of vinkel kou. Dit help veral as jou mond droog voel. Dit help ook baie om wanneer jou mond droog is, vir 'n paar minute suikervrye kougom te kou.
  • Jou mond skoonmaak nadat jy proteïnkosse soos suiwelprodukte, vis en vleis geëet of gedrink het.  
  • Jou tandarts gereeld besoek en jou tande van tyd tot tyd deur ’n professionele persoon laat skoonmaak. Vra hulle om jou te wys hoe om by die huis ordentlik te borsel en te vlos.  
  • Jou vals tande oornag in 'n antiseptiese oplossing week, tensy jou tandarts jou ander instruksies gegee het.
  • 'n Volwasse familielid vra om altyd vir jou te sê as jou asem sleg ruik.
  • 'n Bedagsame manier vind om iemand na aan jou te laat weet as hulle slegte asem het.

Moenie

  • Jou besorgdheid oor slegte asem jou lewe laat verwoes nie. Daar is oplossings vir hierdie probleem.
  • Vergeet om jou tandvleis of agter jou agtertande skoon te maak nie – anders kan jy jou tande verloor en jou asem kan sleg ruik.
  • Moenie te veel koffie of alkohol drink nie. Dit kan jou mond uitdroog en die situasie erger maak. Melkoorblyfsels in jou mond kan onaangename vlugtige samestellings vrystel.

Bron: Dr. Mel Rosenberg, Professor van Mikrobiologie aan Tel Aviv Universiteit se Departement van Orale Biologie.

(Health24, hersien Oktober 2010)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE