Share

Osteoporose: wat is jou kans?

Doen ons toets

1 Is jy . . .
a) manlik?
b) vroulik?
Hoekom? Vroue trek aan die kortste ent – ná 50 word een uit twee vroue deur osteoporose geraak teenoor een uit vyf mans. Ons almal se beendere word met die jare dunner, maar dit gebeur meer by vroue omdat die vroulike hormoon estrogeen, wat beendere help beskerm, met die menopouse skerp afneem. Vroue se beendere is ook kleiner, wat die risiko verder verhoog.

2 Hoe oud is jy?
a) Jonger as 28
b) 28-39
c) 40-51
d) 52 plus
Hoekom? Jou liggaam se beenbouvermoë bereik sy toppunt in jou vroeë tot middel twintigs, dus sal 'n gesonde dieet en leefstyl jou 'n goeie kans gee om die res van jou lewe sterk beendere te hê. Jy kan steeds later in jou lewe been bou, maar nie naastenby teen dieselfde pas nie.

3 Het jy enige naby familie met osteoporose?
a) Grootouer, oom of tante
b) Ma of pa
c) Nee
Hoekom? Die siekte loop in families en hoe nader die familielid, hoe groter jou risiko. As een van jou ouers dit het, is jou risiko tot 80 persent.

4 Was jy ooit ondergewig?
a) Ja, 'n hele paar jaar lank
b) Ja, maar net 'n kort rukkie
c) Nee, nooit
Hoekom? As jy 'n tyd lank ondergewig was, veral weens anoreksie, het jy waarskynlik nie genoeg belangrike beenvoedingstowwe soos kalsium en vitamien C ingekry nie. Anoreksielyers het ook 'n tekort aan estrogeen, wat beensterkte beïnvloed.

5 Het jy al ooit . . .
a) Ses maande of langer nie jou maandstonde gehad nie (behalwe toe jy swanger was), of 'n histerektomie of menopouse voor 45 gehad? Ja/Nee
b) As jy 'n man is, is jy al gediagnoseer met 'n lae testosteroonvlak? Ja/Nee
Hoekom? Die toestande hierbo verminder die vlak van beenbeskermende estrogeen. Dit geld ook vir testosteroon, wat mans se beendere help beskerm.

6 Watter soort oefening doen jy?
a) Draf, aërobiese oefeninge, vinnig stap, dans of gewigte
b) Swem, fietsry of joga
c) Verander die TV-kanaal
Hoekom? Die beste oefening vir beendere moet impak hê (draf, aërobiese oefeninge en stap) en weerstand bied (gewigoptel). Vroue wat ses uur per week stap se risiko is die helfte minder as vroue wat minder as 'n uur per week stap. Wees egter versigtig as jy 'n marathondrawwer is, want sulke strawwe oefening kan die vlak van beenbeskermende hormone laat afneem.
Oefening sonder impak soos swem en joga raak nie die beendere nie, maar bou krag en verbeter balans, wat help dat 'n mens nie so maklik val nie.

7 Hoe dikwels eet jy kalsiumryke kos? Dit sluit in melk, jogurt, kaas, eiers, sojamelk met bygevoegde kalsium, geblikte vis, salm, verrykte graankosse, groen blaargroente (soos broccoli) en neute.
a) Drie maal per dag
b) 'n Paar keer per week of minder
c) Byna nooit
Hoekom? Kalsium is die belangrikste voedingstof vir beendere en suiwel is die beste bron – mik na drie porsies per dag, maar kies laevet-soorte waar jy kan.
Jy het vitamien D nodig om kalsium te absorbeer. Benewens 'n bietjie sonlig is goeie bronne vetterige vis soos sardiens, haring en makriel, eiers, verrykte ontbytgrane en verrykte smere. Vermy te veel sout, kafeïen en gaskoeldrank, want dit kan die liggaam se kalsiumvoorraad uitput.

8 Rook jy?
a) Ja
b) Ek het opgehou
c) Het nog nooit
Hoekom? Navorsing wys rokers loop 'n veel groter gevaar om beenbreuke te kry as nierokers. Hoe meer jy rook en hoe langer jy gerook het, hoe groter is die risiko.

9 Hoe baie drink jy?
a) Ek ys om te dink . . .
b) Gereeld meer as die amptelike voorgestelde perk (drie eenhede* per week vir 'n vrou, vier vir 'n man)
c) Soms 'n drankie oor naweke
Hoekom? 'n Drankie af en toe sal jou nie skade aandoen nie, maar te veel alkohol onderdruk die beenbouende selle. Hou by die voorgestelde perk en by 'n paar alkoholvrye dae per week.
* 'n Eenheid is een sopiemaat sterk drank, een bier of 175 ml wyn.

10 Het jy al enige van die volgende beleef?
a) Pyn in die bene en gewrigte
b) Frakture
c) Jy word kleiner met die ouderdom
d) Jy word ál krommer
Hoekom? Jy kan jare lank osteoporose hê voor jy uiteindelik 'n been breek. Tekens van osteoporose is onder meer pyn in die bene en gewrigte en kwaai rugpyn, veral ná die menopouse. As dit nie behandel word nie, kan jou beendere so bros word dat jy 'n rib kan breek as jy net hoes. As bene in die ruggraat breek, sukkel hulle om jou gewig te dra en word jy ál krommer.

11 Ly jy aan enige van die volgende?
a) Rumatoïede arthritis
b) 'n Ooraktiewe skildklier
c) Crohn se siekte of seliaksiekte
d) 'n Toestand waarvoor jy oor 'n lang tydperk groot dosisse kortikosteroïed-middels moes drink
Hoekom? Rumatoïede artritis en 'n ooraktiewe skildklier verhoog jou kanse om osteoporose te ontwikkel. Crohn- en seliaksiekte tas jou vermoë aan om voedingstowwe te absorbeer. Groot dosisse kortikosteroïede wat dikwels gebruik word vir artritis en asma kan ook die bene laat kwyn

Wat is jou telling?

1 (a) 0 (b) +2
2 (a) -2 (b) 0 (c) +1 (d) +2
3 (a) +2 (b) +3 (c) 0
4 (a) +2 (b) +1 (c) 0
5 Ja +2; Nee 0
6 (a) -2 (b) -1 (c) +2
7 (a) -3 (b) -2 (c) +2
8 (a) +2 (b) +1 (c) 0
9 (a) +2 (b) +1 (c) 0
10 (a) +1 (b) +2 (c) +2 (d) +2
11 (a) +2 (b) +2 (c) +2 (d) +2

-6 to 4 Geluk, jou beendere is staalsterk! Hou so aan.

4 to 10 Jou risiko is nie groot nie, maar 'n paar leefstylveranderinge kan dit mooi verminder.

11 of meer Pasop, jy het 'n verhoogde risiko vir osteoporose. Bring nou leefstyl- en dieetveranderinge aan. As jy van die risikogewoontes het wat in die vraelys genoem word, is dit 'n goeie plan om jou dokter te gaan spreek. Hy of sy sal besluit of jy jou beendigtheid moet laat toets. Behandeling sluit in medikasie, nuwe eetgewoontes, aanvullings en fisioterapie.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE