Endometriose is 'n geheimsinnige toestand. Dis nie seker hoe en waarom dit ontstaan nie.
'n Algemene opvatting is dat menstruele bloed met stukkies baarmoedervoering daarin tydens menstruasie deur die Fallopius-buise tot in die bekkenholte teruggedruk word. Dit is egter nie so eenvoudig nie en genetiese faktore kan ook ' rol speel.
Navorsing het gewys endometrioselyers se immuunstelsel is aangetas. Hulle ontwikkel dalk die toestand omdat hulle nie teenligaampies vervaardig om die abnormal groei van die endometrium buite die baarmoeder te vernietig nie.
Tampons is al vir die ontstaan van endometrioses verantwoordelik gehou. Die meeste word gemaak van gebleikte papier wat uit houtpulp en chlorien bestaan, en bevat die toksiese chemiese middle dioksien wat fisiologiese prosesse in die liggaam kan belemmer omdat dit die liggaam vergiftig.
"Daar is egter geen bewys dat dit waar is nie," sê dr. Merwyn Jacobson, 'n reproduktiewe spesialis by die Vitalab-kliniek in Morningside, Sandton.
Tampons van suiwer katoen of organise materiaal is by gesondheidswinkels beskikbaar.
(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)