Share

Oorleef jou egskeiding

Die lesse wat ek geleer het

Hoe maak 'n mens jou lewe weer bymekaar as jou kwynende huwelik so lank en so fel in die openbare kollig was? En hoe hou jy jou kinders heel terwyl die gesin uitmekaarskeur? Natasha Suterland het op die moeilike manier geleer en deel nou haar reis na genesing met ander.

Deur MARIE OPPERMAN

In Natasha Sutherland se nuwe huis is daar net 'n paar dinge wat splinternuut is. Een is die lang, smal eetkamertafel "waarby ons feeste hou". Dan is daar die pienk stoelkussinkie in die TV-kamer. Groot en blink staan daarop: LO, en onder VE. Die O is eintlik ’n hartjie, maar dit spel onteenseglik LOVE.

Sit dit alles bymekaar en jy kry die prentjie. 'n Nuwe lewe. Gelukkig. Verlief.

Verlief ja, erken sy. "Verlief op die lewe. Verlief op myself."

Net nou die dag nog het Natasha soos 'n dowwe foto van haarself gelyk. Nou is sy met nuwe kryte ingekleur, haar hare 'n ryk, donker kleur, haar oë blink en grysgroen.

"Mense sê ek lyk goed. Ek het soos 'n spook gelyk, want ek was een. Nou het ek uit my dop gekruip."

Einde verlede jaar, kort nadat Natasha besluit het om van die sanger Steve Hofmeyr te skei, het sy hierdie huis op 'n landgoed noord van Johannesburg gekoop.

"Hier is baie bome," sê sy. "Ek dink die groen is helend."

En heling moes sy kry. Te lank was sy net 'n skaduwee van haarself. In Desember nog was sy depressief.

"Ek was verlore en bang," erken sy. "Ek word nog soms bang, maar ek leef nie meer in vrees nie. Ek word binnekort 39, ek gaan binnekort geskei wees, ek het twee kinders. Dis skrikwekkend.

"Maar ek is trots op myself. Ek het te lank geglo ek is nie genoeg nie... nie genoeg as mens nie, nie genoeg vir liefde nie."

Sy het 'n lang pad geloop en hard gewerk om heel te word. "Ek het deur pyn en woede gewerk en by hoop uitgekom. Ek sê elke dag ja vir die lewe. Ek het begin deur myself lief te hê. Liefde is die antwoord."

En vandag deel sy haar resep vir heling met ons, want sy weet dis 'n taak wat te veel vroue ongelukkig te dikwels op hulle moet neem – vir hulself, en ook vir hul kinders...

Bittersoet

Bittersoet, Natasha se boek oor haar reis na herstel, verkoop verstommend goed. Dit was deel van haar terapie, want op aanbeveling van haar spirituele berader, Rochelle Millar, het sy 'n joernaal gehou waarin sy elke dag haar gevoelens neergeskryf het.

"Die boek A Return to Love, geskryf deur Marianne Williamson, het my gehelp om deur te dring tot die wortel van wat besig was om met my te gebeur. Elizabeth Lesser verduidelik weer in Broken Open hoe 'n mens jou pyn kan gebruik om gesond te word.

"In Breaking Free from the Victim Trap deur Diane Zimberoff het ek geleer dat sommige verhoudings 'n driehoek het – daar is 'n slagoffer, 'n skuldige en 'n redder," sê sy. "As jy in die driehoek vasgevang is, kan jy in sekere gevalle van slagoffer na skuldige na redder skuif. Net wanneer jy bewus is van hierdie patroon en daaruit kan wegbreek, kan jy vorentoe beweeg."

Sy het nie oornag besluit om te skei nie. "Ek het eers jare lank probeer om die verhouding te red – die tipiese stadium van ontkenning. Die onderhandelingstadium was die lang tyd toe ek geweet het dis verby, maar probeer het om die huwelik te laat werk. Ek weet nie wanneer ek die stadium van aanvaarding sal bereik nie. Miskien wanneer die egskeiding afgehandel is.

"Ek het die huwelik verlaat toe ek geglo het daar is geen hoop meer vir ons nie, want ek was besig om te sterf."

Sy het skielik na haarself gekyk en gesien sy is nie wat sy was of kan wees nie – ook nie vir haar kinders nie.

"Ek het saamgeleef met agterdog, eensaamheid, verwydering van my man, fisieke en emosionele verwaarlosing. Niemand verdien dit om verwaarloos te word nie – en toe besef ek dat ek myself die meeste verwaarloos het.

"Ek moes toe die klem verskuif van werk aan my huwelik na werk aan myself. Ek het nie beheer oor hoe die wêreld is of oor ander mense se houding teenoor my nie. Al waaroor ek beheer het, is hoe ek op die wêreld reageer."

En so het Natasha 'n strategie vir genesing uitgewerk. Sy het in 2007 al begin met berading en het verskeie terapeute oorweeg. Verlede jaar het sy besluit om voort te gaan met gereelde, intensiewe berading net by Rochelle.

"Sy het 'n spieël voor my siel gehou en ek moes eerlik na myself kyk. Dit was baie pynlik. My ego, wat ek Tiger Tim noem, het nie daarvan gehou nie. My oupa se liefdesnaam vir my was Tiger Tim en ek het my ego so genoem omdat ek geleer het hoe om daarmee vriende te maak.

"Ek het gekies om nie my depressie met antidepressante te behandel nie omdat ek gevoel het dat ek my pyn in die gesig moes staar. In baie gevalle is antidepressante natuurlik noodsaaklik."

Natasha het ook elke dag gebid. "Ek het skielik verlede jaar die behoefte gekry om te bid. Om regtig te bid. 'n Mens bid sodat jy self kan verstaan waaroor iets gaan. Dis 'n kodewoord wat raaisels ontsluit."

Kinders en egskeiding

Sy het ook boeke gelees oor hoe om die kinders op die egskeiding voor te berei, soos Gary Neuman se Helping Your Kids Cope with Divorce the Sandcastles Way.

Sy het vir Sebastian (7) en Benjamin (6) verlede jaar al en nog voor die besluit om te skei na 'n spelterapeut geneem. "Hoewel ons seker net so drie keer voor die kinders baklei het, was ek bang dat hulle die verwydering tussen ons aanvoel.

"Spelterapie behels dat die terapeut hulle laat speel en dophou om te kyk wat in hul gedagtes aangaan. Die seuns sal ophou met die terapie wanneer hulle gereed is daarvoor."

Om die kinders op die egskeiding voor te berei het die terapeut voorgestel dat hulle The Turtle Story, 'n verhaal uit die bundle Through the Eyes of Children van Janet Johnston vir hulle lees. In die verhaal raak Sammy die landskilpad en Sally die seeskilpad verlief en kry twee kinders. Die kinders is ewe tuis op land as in die see, maar die ouers verskil so dat hulle uiteindelik skei. Die klein skilpadjies bring daarna ewe veel tyd by albei ouers deur.

"Een middag het ons hulle gevra of hulle die skilpadverhaal onthou en verduidelik dat ek en Steve soos die skilpaaie is wat te veel verskil om saam te bly. Dis nie hul skuld nie en ons is nog lief vir hulle. Steve was so emosioneel dat hy aanvanklik nie kon praat nie. Ben het dit nie verstaan nie, maar Seb het gehuil.

"Ek het toe reeds my huis gekoop en die volgende dag wou hulle gaan kyk hoe dit lyk. Die swembad was groen, die gras was lank, maar hulle het gedink alles is wonderlik. Dis naby hul skool en maatjies, en net 'n paar minute se ry van Steve se huis af. Ons het 'n maand later ingetrek."

Eers wou Natasha die seuns teen die pyn van die egskeiding beskerm. "Ek wou byvoorbeeld nie hê hulle moet sien as ek inpak nie. Maar soms laat dit kinders meer onseker voel as jy goed vir hulle wegsteek. 'n Mens moet hulle eerder onderskraag.

"In Bittersoet voer ek onderhoude met terapeute en gee dan die volgende raad: Moenie voor jou kinders baklei nie, moenie jou eks voor hulle slegmaak nie, moenie jou kind as 'n tussenganger tussen jou en jou eks gebruik nie. En jou kind moet veilig voel en weet hy mag albei ouers liefhê.

"Ek het nog nooit teenoor die kinders sleg gepraat van hul pa nie. Ek praat net met baie respek en liefde van hom. Ek fokus op al sy wonderlike punte wanneer die kinders oor hom praat.

"Dis ook belangrik om te probeer om 'n beter ouer as voorheen te wees. Ek glo vas dis noodsaaklik om die balans en 'n gevoel van sekuriteit by die kinders te help herstel. As dit goed gaan met hul ouers, sal dit ook met hulle goed gaan.

"Ons het nog 'n lang pad om te loop. Die seuns se wêreld is onderstebo gekeer. Maar wat ek probeer doen het, met die leiding van boeke en beraders, is om 'n platform te skep waar die kinders veilig genoeg voel om vrae te stel, om uiting aan hul emosies te gee, om verstaan te word.

"Die kinders weet ons is lief vir hulle, en ek en Steve doen moeite om saam na geleenthede soos ouervergaderings, sokkerwedstryde, judotoernooie, skoolatletiek en swemgalas te gaan.

"Soos ek dit sien, moet ons die feit tuisbring dat ons steeds 'n eenheid as ouers vorm. Seb sê gedurig 'Ma, ek is lief vir jou, jy is die enigste ma in die wêreld vir my en Pa is die enigste pa vir my.' Dan sê ek, 'Jy is reg, ons sal altyd jou ma en pa bly.' "

Hulle sien hul pa gewoonlik twee dae per week. "Soms is hulle 'n hele naweek by hom en soms gaan hulle 'n paar dae lank saam met hom met vakansie. Hy bel hulle elke dag as hulle hier is en as hulle by hom kuier, bel ek weer."

Natasha het ook raad gesoek oor hoe om haar nuwe vriend, 'n vlieënier wat sy Flash noem, aan die kinders voor te stel.

"My kinders se ontwikkeling en geluk is my prioriteit. Die kinders se spelterapeut het gesê ek moet hom as 'n vriend aan die kinders voorstel, op 'n neutrale plek. Ons het almal saam by 'n spesiale plek gaan boomklim. Wanneer hy hier kom kuier, is dit as net nog 'n vriend en ek gee hom op dieselfde manier drukkies as my ander vriende. Ons hou die pas maar stadig.

"Ek glo daar is 'n vensterperiode ná 'n egskeiding waarin toewyding aan 'n nuwe gesinstruktuur noodsaaklik is. Die kinders se sekuriteit en genesing is vir my 'n prioriteit. Almal moet eers kans kry om aan mekaar gewoond te raak, anders kan die kind jaloers raak en teësinnig om die nuwe vriend te aanvaar."

Om haar kinders teen nuuskierige oë te beskerm is ook belangrik vir Natasha. Ons gesels daarom met haar terwyl hulle by die kleuterskool is. Sy wil ook nie hê dat ons hulle afneem nie. Die feit dat hulle op 'n eksklusiewe landgoed woon waar die kinders ook skoolgaan, help om hulle uit die openbare oog te hou. "Die personeel by die kleuterskool is wonderlik," sê sy. "Hulle ondersteun ons en gaan uit hul pad om die kinders te beskerm."

Die vrou in haar lewe

En dan is daar die vroue in haar lewe, mense wat help huis versier, hoenderpastei en melktert aandra en SMS'e stuur. Natasha het nie genoeg lof vir hulle nie.

Lekker kos, wyn, kuier, met die honde speel en om die plante in haar tuin te ruik – dit alles laat haar voel sy lééf. En onkruid uittrek is baie terapeuties.

Deesdae word dié aktrise gereeld genooi om motiveringspraatjies te lewer. "Ek wil ook werksessies hou oor dinge soos heling en transformasie. En ek beplan 'n paar boeke oor alle aspekte van vrouwees: moederskap, dogters, minnaresse, vriendinne. My volgende boek gaan juis oor sensueel wees, oor die vrou as minnares.

"Ek is ook betrokke by die oprigting van die Bigheart Foundation. Ons wil vroue in gemeenskappe bemagtig, soos om enkelouer-huishoudings in te stel."

En daar kom 'n roman.

"Mense het gehou van die vriendinne in my boek wat ek die Sex in the Suburbs-ma's noem en hulle wil hê ek moet 'n roman oor hulle skryf. Dalk skryf ek 'n soort Suid-Afrikaanse weergawe van Desperate Housewives, met net nog méér oemf!"

Sy wil ons die uitsig uit haar slaapkamervenster gaan wys en stap vooruit. Sy's die ene lang bene en slanke lyfie en borrelende energie. Sy's pure inspirasie. 

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE