Share

Nuwe tegniek skakel klierverwydering uit

Danksy 'n nuwe en betroubare metode om voor-af te bepaal of 'n borskankerpasiënt se okselkliere aangetas is, kan drie uit elke vyf pasiënte met vroeë borskanker nou dié deel van die operasie - wat die gebruik van die pasiënt se arm beïnvloed - gespaar word. Dié tegniek kan ook gebruik word om vas te stel of nabygeleë kliere in velkanker-pasiënte aangetas is.

Al meer gevalle van borskanker word vroeër gediagnoseer. Dié vroeë diagnosering bring mee dat al meer borskankergevalle opgespoor word voordat die kankerselle na die naasliggende okselkliere versprei is. Navorsers het bevind dat tot 60% van vroue (en mans) met borskanker se okselkliere heeltemal kankervry is, en dus onnodiglik verwyder word.

Klierverwydering het dikwels komplikasies opgelewer en in baie gevalle daartoe gelei dat dit dat maande duur voordat die pasiënt weer haar/sy arm ten volle kan gebruik. In sommige gevalle het die vrou/man nooit weer die volle gebruik van haar/sy arm herwin nie, al is die chirurgie hoe versigtig gedoen.

Dié feite het dit duidelik gemaak dat dokters 'n metode moes vind om dié onnodige operasie uit te skakel, sonder om die pasiënt se kans op oorlewing te verminder.

Studies in Europa en Amerika het spoedig getoon dat borskanker eerste uit die knop in die bors na 'n spesifieke okselklier, bekend as die brandwag-node, versprei en vandaar na ander kliere. Indien dié brandwag-node kankervry is, kon dokters met sekerheid sê dat alle ander kliere ook kankervry is.

Die nuwe toetsmetode waar radio-isotope, 'n kleurstof en 'n gamma-aftaster ingespan word om vas te stel of die okselkleier kankervry is en dus gespaar kan word, is nou op beperkte skaal in die Skiereiland beskikbaar. "Suid-Afrika is wat dié behandeling betref, ver agter Amerika, Europa en Australië, waar al meer vroue onnodige chirurgie gespaar word," het prof. Kobus van Zyl, chirurg en borskankerkenner, gesê nadat hy pas 'n spesiale kongres oor dié nuwe tegniek in Amsterdam bygewoon het.

Hoe toets 'n mens of die kliere kankervry is?
Die nuwe toetsmetode behels die samewerking tussen 'n chirurg, 'n kerngeneeskundige en 'n patoloog. Die pasiënt besoek 'n dag voor die beplande operasie om die borsknop te verwyder, die kerngeneeskundige, wat Tegnesium radio-isotope langs die gewas inspuit. Die isotope volg presies dieselfde limfbane as wat die kankerselle sou volg indien dit versprei.

Die isotope (en die kankerselle) word in die oksel eerste deur die brandwag-node opgevang. Die kerngeneeskunde kan met 'n gamma-kamera die limfbane en die ligging van die brandwag-node identifiseer. Die pasiënt meld die volgende dag by 'n private hospitaal aan vir die knopverwyderingsoperasie.

Onder narkose word 'n spesiale blou kleurstof weereens langs die gewas ingespuit. Die kleurstof volg weereens dieselfde roete as die isotoop en kankerselle. Die chirurg kan nou met die hulp van die gamma-foto's wat die vorige dag geneem is en 'n draagbare gamma-afstaster wat deur 'n klein snit binne-in die oksel geplaas word, word die blougekleurde klier gesoek en verwyder.

'n Vriessnit word onmiddellik in die teater gedoen en deur die patoloog ondersoek: indien die klier kankervry is, word die wondjie geheg en slegs die knop in die bors verwyder. Indien die barndwag-node wel kankerselle bevat, word al die okselkliere verwyder.

Die feit dat die brandwag-node getoets en behou kan word, hou die volgende voordele in:

  • Koste-doeltreffend: die pasiënt kan dieselfde dag huis toe gaan, pleks van 4-5 dae later met 'n dreineringsbuis;
  • Die pasiënt ondervind geen van die kort- of langtermyn newe-effekte van 'n volledige klierverwydering wat die gebruik van hulle arm kan beïnvloed, nie;
  • Pasiënte kan reeds die volgende dag die meeste van hulle werksaamhede self behartig

Ander toepassings van dieselfde tegniek:

  • Om vas te stel of melanoom na die nabygeleë kliere versprei het;
  • Vergemaklik operasies van die paratiroïede klier in die nek.

Waar is die diens beskikbaar?

In Europa en Amerika is dít die enkele chirurgiese prosedure wat die afgelope twee jaar die vinnigste toegeneem het vanweë die voordele.

Die feit dat die tegniek kundigheid verg betreffende die identifisering van die brandwag-klier verg, maak dit duidelik dat elke chirurg nie dié tegniek kan of sal inspan nie. Dié tegniek is egter wel by die Louis Leipoldt MediClinic in Bellville beskikbaar onder leiding van prof. Van Zyl en kerngeneeskundige dr. Annerie Ellmann en 'n histopatoloog. Met 'n draagbare gamma-aftaster sal hulle dié diens by meer private kan lewer sonder om by die res van die pasiëntbehandeling betrokke te raak.

MediClinic oorweeg tans opsies om 'n draagbare gamma-aftaster aan te koop, en só dié diens na al sy private hospitale te bring.

Kontaknommers

Vir meer inligting, kontak prof. Van Zyl, tel/faks (021) 949-8424 of sel: 083-630-2909.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE