Share

Nuwe lewe met stamselle

Moet ek my baba se stamselle laat berg? Sal dit hom eendag kan red van hartsiektes, diabetes, artritis, Alzheimersiekte, kanker of verlamming? Of is dit net 'n droom wat deur uitbuiters misbruik word?
Deur ELISE-MARIE TANCRED vir Huisgenoot-POLS

Die beloftes van hoop wat stamselbehandeling inhou, klink soos towerkuns en op sy beste na wetenskapsfiksie. Verlamdes sal weer kan loop, kanker word genees, hartsiektes, diabetes, Alzheimer-siekte en ander aftakelende siektes is iets van die verlede en almal teug aan die beker van ewige jeug.

Met stamselbehandeling kan siek, verouderde selle en organe herstel of vervang word. Dis genesing sonder groot operasies, oorplantings, antibiotika, chemoterapie of ander ingrypende mediese behandeling wat jou andersins maande lank op die krukkelys sou sit. Die risiko's is minimaal... die liggaam herstel hom as't ware self. Dit klink wonderlik, ja, en teoreties deesdae moontlik.

Al meer verwagtende ouers vra: Moet ek my pasgebore baba se naelstringbloed laat bewaar ingeval dit later kan help teen 'n lewensbedreigende siekte waarvoor daar geen ander genesing is nie?

Tientalle Suid- Afrikaners doen dit reeds. Hulle betaal sowat R12 000 om hul baba se stamselle (onttrek aan naelstringbloed) te laat vries en twintig jaar te berg sou dit benodig word. Dit kan beteken dat die stamselle dié kind (of sy broer, suster, ma, pa, ouma of oupa) kan red as een van hulle kanker, hartprobleme of 'n ander aftakelende siekte kry.

Revolusionêr, is die woord wat dikwels vir hierdie behandeling gebruik word.

Maar is stamselbehandeling al so ver gevorder soos wetenskaplikes 'n dekade gelede voorspel het? Nog nie – maar in verskeie hospitale wêreldwyd is daar al sukses behaal teen siektes wat strek van tipe-1-diabetes tot veelvuldige sklerose.

Vir sommige siektes soos beenmurgkanker word dit reeds as standaardbehandeling beskou. Daar moet nog navorsing gedoen word, maar daar is reeds tekens dat stamselbehandeling die geneeskunde ingrypend gaan verander.

Stamselbehandeling in Suid-Afrika
Die eerste plaaslike naelstringbloedbank het sy deure vier jaar gelede geopen. Sedertdien bied nog 'n laboratorium dieselfde diens aan.

Stamselle uit naelstringbloed onttrek, word hoofsaaklik gebruik om meer as honderd soorte siektes, waaronder veral sekere soorte kanker, te behandel, sê prof. Michael Pepper, 'n stamseldeskundige van die Universiteit van Pretoria.

Volgens Harry Minnie, uitvoerende hoof van Lazaron Technologies, Suid- Afrika se eerste naelstringbloedbank, is die gewildheid daarvan besig om toe te neem namate mense meer daaroor ingelig word.

"Sowat 2,000 ouers laat reeds hul kinders se naelstringbloed by ons berg," sê Harry.

Een van Lazaron se grootste uitdagings was egter nie om ouers nie, maar medici, van die waarde van so 'n bank te oortuig. Die wonder van die naelstringbloedbank is dat die selle wat bewaar word, nie net vir die baba gebruik kan word nie, maar ook vir ander gesins- of familielede.

Volgens Harry is daar 'n kans van een uit vier dat die selle vir susters of broers en vir die ouers gebruik kan word, terwyl 'n een uit agt kans bestaan dat oumas en oupas ook daarby baat kan vind.

Ongeveer 60 persent van naelstringstamseloorplantings word nie op die baba gedoen nie, maar op ander familielede. Vandag is beenmurgstamseloorplantings reeds standaardbehandeling vir mense wat bloedkanker het omdat dit maklik en goedkoop is en 'n goeie suksessyfer het, sê dr. Yvonne Holt, mediese direkteur van Netcell Therapeutics.

Durf jy so 'n geleentheid deur jou vingers laat glip? Is dit sinvolle risikobestuur? Of 'n vinnige geldmaaksaak? En het die wetenskap nie reeds alternatiewe vir naelstringstamselle gevind nie?

Charles Marais van Johannesburg en sy vrou, Sonica, glo die berging van hul dogtertjie, Chanique (2), se naelstringbloed twee jaar gelede was "die beste ding wat ons nog gedoen het".

Die Marais's verwag in Augustus 'n tweeling en "gaan beslis" ook húl naelstringbloed laat berg.

"Hopelik hoef ons dit nooit te gebruik nie, maar ons beskou dit as 'n soort mediese versekering wat enorme gemoedsrus bring.

"Die veld hou soveel belofte in... Wie weet? Miskien kan my kinders se naelstringbloed eendag gebruik word om enige siektes gesond te maak. Dit is beslis die beste ding waaraan ek ooit geld bestee het," sê Charles.

Ook die bekende Suid-Afrikaanse sangeres Nianell het haar drieling se naelstringbloedstamselle by Netcell Therapeutics laat berg as mediese versekering vir die toekoms. Maar 'n psigiater, wat om etiese redes anoniem wil bly en wat onlangs pa geword het, het ná vele oorwegings teen die berging van hul baba se naelstringbloed besluit.

"Sekere goed in ons lewe is nie in ons hande nie en as daar ooit iets soos stamselle benodig sou word vir siektes in ons familie of om ons kind gesond te maak, sal ons 'n plan maak as ons daar kom. Ek kan dieselfde bedrag geld beter belê, wat die koop van stamselle sal kan dek as dit eendag dalk nodig is.

"'n Mens moet ook seker wees dat die tegnici by die stamselbanke weet wat hulle doen. Ek het gehoor van 'n kollega wie se kind se stamselle daarheen gekoerier is en nou feitlik onbruikbaar is omdat die regte prosedure nie gevolg is nie."

Hoe word naelstringbloedstamselle verkry en geberg?
Die meeste stamselbanke verkies dat voornemende ouers sowat drie maande voor die baba se geboorte met hulle in aanraking kom. Maar al die reëlings kan binne 'n paar uur getref word as die vrou in kraam skielik besluit sy wil haar baba se naelstringbloedstamselle laat berg.

Sodra die baba gebore is, onttrek die ginekoloog die bloed uit die naelstring. Dit duur sowat vyf tot tien minute. Die bloed word dan in 'n temperatuurbeheerde houer verpak en met 'n mediese koerier na die bank se laboratorium gestuur. Hier word dit so gou moontlik geberg omdat die stamselle agteruitgaan in die tyd terwyl dit vervoer word en voor dit teen die regte lae temperatuur in die laboratorium geberg word.

Betroubare stamselbanke moet aan vasgestelde vereistes voldoen en daar is riglyne wat jy kan volg om seker te maak jy word nie ingeloop nie.

Omstredenheid en uitbuiters
Soos met enige groot nuwe tegnologiese uitvinding is daar baanbrekers, eksperimenteerders en skarminkels wat teer op ongeneeslik siek pasiënte se desperate pogings om aan die lewe te bly.

Dit is dus geen verrassing dat die veld van stamselbehandeling dikwels in 'n wolk van omstredenheid gehul is nie. Daar was tot onlangs nie eens sprake van wette in Suid-Afrika om stamselnavorsing te reguleer nie. Elke Jan Rap en sy maat kon stamsellaboratoriums hier bedryf en na hartelus eksperimente uitvoer.

Toe word ons wakker geskud. Advanced Cell Therapeutics (ACT), 'n Kaapstadse maatskappy van Stephen van Rooyen en sy vrou, Laura Brown, word in Amerika daarvan beskuldig dat hulle stamselbehandeling wat nooit in laboratoriums getoets is nie, aan pasiënte verkoop.

Op die FBI-webwerf, gedateer 2006, verskyn daar 51 aanklagte wat teen dié twee aanhangig gemaak is wat met bedrieglike aansprake oor stamselbehandeling verband hou.

Eers tóé het Suid-Afrika se Departement van Gesondheid ingrypende maatreëls getref om mediese cowboys aan bande te lê. Nuwe wette wat opgestel is om die bedryf te reguleer, moet nog in werking tree.

In wese sê die wet alle intellektuele eiendomsreg rakende stamselnavorsing behoort aan die staat. Dít steek 'n stokkie voor gierigaards en private maatskappye se planne om groot bedrae geld uit stamselle te maak en beteken ook navorsers kan nie hul bevindings patenteer en verkoop nie.

"So 'n wet strem navorsing. Niemand gaan geld steek in iets wat nie weer vir hulle geld gaan oplewer nie. Die gevolg is daar vind feitlik geen stamselnavorsing in Suid-Afrika plaas nie," sê Michael Pepper. "In Suid-Afrika gaan dit om primêre gesondheidsorg en die bekamping van aansteeklike siektes. Nie om deurbrake met stamselnavorsing nie."

Selfs in Amerika vorder stamselnavorsing baie stadiger as wat dit kon, hoofsaaklik omdat die konserwatiewe Bush-bewind nie 'n enkele sent van die VSA se National Institutes of Health se jaarlikse begroting van $220 biljoen vir gesondheidsnavorsing aan stamselnavorsing gegee het nie.

Groot farmaseutiese maatskappye wil ook nie groot bedrae geld in stamselnavorsing steek nie, want hulle is bang stamselbehandeling gaan gewone medisyne vervang.

Hernieude uitbuiting?
Dr. Jeff Peimer, 'n Suid-Afrikaanse dokter wat voorheen vir die omstrede stamselmaatskappy ACT gewerk het, het nou saam met sy broer, Sid Peimer, 'n stamselkliniek, Regenecell, in die Seychelle geopen.

Hulle beweer dat tipe 2-diabetes, outisme, veelvuldige sklerose, Parkinson-siekte, rumatoïede artritis en beroerteskade behandel kan word met stamselle wat verkry is van naelstringbloed.

Maar volgens mediese kundiges, is die behandeling van baie van dié siektes bloot eksperimenteel en is daar geen bewyse dat hierdie stamselbehandelings al enigsins suksesvol op mense is nie.

Lei hulle ook maar weer mense om die bos?

Etiek-kenners raak bekommerd wanneer desperate pasiënte derduisende rande moet opdok vir eksperimentele behandeling wat tien teen een nie gaan help nie.

Volgens prof. Lyn Horn, etiekhoof van die fakulteit gesondheidswetenskappe van die Universiteit van Stellenbosch, mag 'n dokter pasiënte wat terminaal siek is met eksperimentele tegnieke behandel as hy dit as 'n weldaad doen.

"Die dokter se motivering moet egter wees om die pasiënt se lewe te red, nie om geld te maak nie. Indien pasiënte groot bedrae geld moet betaal vir eksperimentele tegnieke, veroorsaak dit 'n belangebotsing by die dokter wat dikwels ook aandele in sulke hospitale het." Regenecell eis 'n vooruitbetaling van R134 000.

Dit is ook bekend dat enkele verlamde Suid-Afrikaners al derduisende rande vir eksperimentele stamselbehandeling in die buiteland betaal het.

Die toekoms
Wetenskaplikes verwag dat die groot deurbraak binnekort sal kom. "Stamselbehandeling gaan binne die volgende vyf tot tien jaar tot sy reg kom," meen Michael. "Daar is groot, emosionele verwagtinge rondom die veld. Siek mense wat nou sterf, sal moontlik oor 'n dekade of wat gered kan word."

As navorsers die geheime kan ontrafel van hoe stamselle spesialiteitselle word, kan ernstige siektes met 'n genetiese basis, soos kanker en geboorte-afwykings, gekeer word voor hulle begin.

Die wonder van stamselle is dat hulle beskadigde selle uitsoek en dan verander in nuwe, gesonde selle van dieselfde soort as wat beskadig is.

Orgaanskenking sal onnodig wees, omdat siek en swak organe met stamselterapie vernuwe sal word. Stamselle kan ook gebruik word om nuwe medisyne te toets.

Die beloftes wat stamselbehandeling inhou, is opwindend, maar beduidende tegniese en etiese slaggate moet eers uit die weg geruim word voor ons die vrugte van dié wonderbehandeling gaan pluk, voeg Lyn Horn by.

"Baie van die positiewe resultate is eksperimenteel op 'n klein groepie pasiënte gedoen met beperkte opvolgbehandeling. "Net wanneer grootskeepse kliniese toetse positiewe resultate begin lewer en moontlike newe-effekte soos immuunstelselverwerping uitgeskakel is, durf ons opgewonde raak."

Harry som dit op: "Elke groot deurbraak is in werklikheid maar 'n klein treetjie in die regte rigting wanneer 'n mens na die hele prentjie kyk. 'n Mens kan dit vergelyk met 'n legkaart, waar elke regte blokkie belangrik is, maar die legkaart uit duisende stukkies bestaan."

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

NEEM KENNIS: Woensdag, 23 September 2009, is Wêreldwye Stamselbewustheidsdag. Stuur jou vrae aan prof. Michael Pepper wat net vir die dag lesers se vrae beantwoord.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE