Share

Nie omgeboul deur 'n draaibal - Nicky Bojé

Krieketgeesdriftiges hou duimvas vir Nicky - nie net dat hy die Engelse sal laat les opsê in die laaste toets nie, maar dat hy volkome sal herstel van tiroïedkanker. Die kans op laasgenoemde blyk uitstekend te wees, berig Marï Hudson van Health24.com.

Toe die gewilde krieketspeler Nicky Bojé se tiroïed onlangs onverwags verwyder is, het mense skielik kennis geneem van tiroïedkanker. Dit is 'n seldsame kankersoort; tog word sowat 2000 nuwe gevalle jaarliks in Suid-Afrika gediagnoseer.

Dit kan enige mens tref, maar kom meer algemeen onder vroue tussen 30 en 50 voor. Tiroïedkanker is minder aggressief by jong mense; in die meeste gevalle kan die kankergewas heeltemal deur chirurgie verwyder word en die vyf-jaaroorlewingsyfer is hoër as 90% by jong mense.

Die skoenlapper in jou keel
Die tiroïed is 'n skoenlappervormige klier en sit net onder jou strottehoof. Dit absorbeer jodium uit die kos wat jy eet en produseer die hormone tiroksien en tri-jodo-tiroksien. Dié hormone speel 'n belangrike rol in verskeie aspekte van die liggaamsmetabolisme, onder meer in die regulering van liggaamstemperatuur, hartspoed en die tempo van kilojouleverbranding.

Die paratiroï de produseer kalsitonien, 'n hormoon wat die konsentrasies van kalsium in jou bloed reguleer.

Kortom: jy kan nie sonder die hormone wat deur die tiroïed en paratiroïed geproduseer word, funksioneer nie. As die tiroïed verwyder word, moet die persoon aanvullings van dié hormone neem, asook kalsium en vitamien D.

Hoe weet mens?
Die meeste mense met tiroïedkanker ontwikkel 'n tiroïed-nodule, maar het nie ander simptome nie. Navorsers reken dat meer as 10% van die bevolking inderdaad tiroïednodules ontwikkel, maar dat slegs sowat 5% van dié nodules kankergewasse is, volgens die Amerikaanse Nasionale Institute vir Gesondheid.

Vroeë tiroïedkanker is meestal sonder simptome. Slegs 'n klein persentasie van mense ontwikkel reeds in 'n vroeë stadium heesheid, nekpyn en vergrote limfkliere in die nek. Namate die kanker vorder, kan mense algaande die volgende simptome ontwikkel:

  • 'n Knop (of nodule) onder die strottehoof wat vinnig groei
  • 'n Hees stem, omdat die knop naby aan die stembande is
  • Geswelde limfkliere, veral in die nek
  • Probleme met sluk
  • Pyn in jou keel of nek
  • Probleme met asemhaal in gevorderde gevalle

Hoewel dié simptome nie beteken dat jy beslis tiroïedkanker het nie, is dit belangrik dat mense wat dié simptome toon, hul dokter besoek.

Vier soorte tiroïedkanker
Vier verskillende soorte tiroïedkanker kan gediagnoseer word op grond van die soort selle wat foutief begin vermeerder:

  • Papillêre tiroïedkanker en 'n kombinasie van papillêre en follikulêre tiroï edkanker. Dit kom in 75% van alle gevalle voor (meestal vroue tussen 30 en 50 jaar), ontwikkel uit follikulêre selle en affekteer dus die produksie van tiroksien en tri-jodo-tiroksien. Hoewel dit reeds in 'n vroeë stadium na limfkliere kan versprei, is die kans op genesing 'n uitstekende 95% by jonger mense. Tipiese behandeling behels die chirurgiese verwydering van die tiroïed. Selfs kanker wat na die longe of gebeente versprei het, reageer goed op behandeling (inwendige bestraling met radio-aktiewe jodium).
    • Follikulêre tiroïedkanker kom in 15% van alle gevalle voor. Die kans op genesing is meer as 95% by jonger mense. Die tiroïed word met chirurgie verwyder. Die soort kanker versprei nie maklik na die limfkliere nie, maar kan in die bloedvate vergroei. Dit kan wel na die longe en gebeente versprei.
    • Medullêre tiroïedkanker kom slegs in 7% van die gevalle voor. Die kanker tas die kalsitonien-produserende selle aan en kan reeds vroeg na die limfkliere versprei. Dit is dus noodsaaklik dat die tiroïed en die nek-limfnodes volledig verwyder word. Sommige tipes medullêre tiroïedkanker is oorerflik, maar dié tipe groei gelukkig uiters stadig.
    • Anaplastiese tiroïedkanker is die aggressiefste soort kanker, maar kom net in 3% van die gevalle voor. Dit versprei vinnig na ander organe en daar is nie 'n goeie kans op herstel nie. Al die kankerweefsel kan gewoonlik nie chirurgies verwyder word nie en radio-aktiewe jodiumbehandeling maak gewoonlik nie hond haar-af nie. Tiroïedlimfoom is uiters seldsaam.

    Wie het 'n hoër risiko?
    Die volgende faktore sal jou risiko op tiroïedkanker verhoog:

    • Bestraling met radio-aktiewe jodiumpartikels soos wat gebeur het ná die Tjernobiel-ramp in 1986 toe mense radio-aktiewe melk, vrugte en groente geëet het. Meer as 2 000 kinders het kanker ontwikkel. Blootstelling aan kernwapens kan ook tot dié tipe kanker lei.
      • Indien medullêre tiroïedkanker (bekend as MEN 2A of MEN 2B) by een van jou ouers gediagnoseer is, het jy 'n 50%-kans om ook dié soort kanker te ontwikkel.
      • Indien jy 'n familiegeskiedenis het van poliepvorming in die dikderm, is dit goed om bedag te wees op tiroïednodules.
      • 'n Dieet laag in jodium. Dit is seldsaam, veral by mense wat gejodeerde tafelsout gebruik.
      • Vroue het 'n twee tot drie keer groter kans om tiroïedkanker op te doen as mans.
      • Vroue wat met hul eerste swangerskap ouer as 30 was, het 'n groter risiko op tiroïedkanker.
      • Oor die algemeen kom tiroïedkanker meer by jong volwassenes voor.
      • Dit is algemener onder wit as swart mense.

      (mhudson@health24.co.za, Januarie 2005)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE