Share

Migraine se moses

'n Johannesburgse chirurg en pynspesialis sê al lank dat 'n mens migraine sonder medisyne kan genees. Nou het 'n belangrike buitelandse studie gewys hy was die hele tyd reg…
Deur NATANYA HOLLAND

Die oorsaak lê nie in die brein nie, dit lê daarbuite. So sê dr. Elliot Shevel graag wanneer hy gesels oor migraine, daardie hoofpynplaag wat so baie mense se lewe versuur. Elliot is mediese direkteur van The Headache Clinic in Johannesburg en 'n chirurg wat spesialiseer in die gesig en kakebeen. Hy raak skoon opgewonde wanneer hy vertel van sy baanbrekende migrainebehandeling wat toenemend internasionale erkenning kry as die doeltreffendste manier om chroniese migraine te verlig.

Hy is passievol oor wat hy sy lewenstaak noem. "Ons staan op die rand van 'n heel nuwe era van begrip oor wat presies migraine veroorsaak," sê hy. "En dis danksy 'n onlangse studie deur 'n Nederlandse neuroloog wat bewys dat wat ek al die afgelope 15 jaar sê, waar is: dat migraine nie van binne die brein kom nie, maar eerder van buite die brein – van spiere, oppervlakkige kopvelslagare en die senustelsel."

Die studie, wat in die neurologiejoernaal Brain in Brittanje gepubliseer is, is deur dr. G.G. Schoonman van die Universiteit van Leiden in Nederland gelei. Hy het 'n tegnologies gevorderde skandeerder gebruik om die slagare in die brein te meet. Sy gevolgtrekking? Dat daar in teenstelling met lank aanvaarde opvattings geen uitsetting van die slagare binne die brein plaasvind tydens 'n migraine nie. Presies wat Elliot al jare lank sê...

Sy bevinding het 'n reuse opskudding in migrainenavorsing veroorsaak omdat migrainepasiënte die afgelope 60 jaar al met middels soos ergotamine en triptaan behandel is, medisynes wat spesifiek ontwerp is om bloedvate te laat saamtrek en so die veronderstelde abnormal uitsetting van slagare in die brein teen te werk.

"Geen wonder die medisyne lewer sulke swak resultate nie," sê Elliot. "Meer as 'n halfeeu al en sonder enige bewyse het die mediese en wetenskaplike gemeenskap blindelings vasgeklou aan die foutiewe opvatting dat die slagare in die brein uitsit tydens 'n migraine.

Miljoene migrainelyers sal daarby baat as hierdie verouderde siening uiteindelik verwerp word.

"Schoonman se studie, wat bewys dat ek op die regte pad is, het skokgolwe deur die ou garde van hoofpynspesialiste gestuur. Baie van hulle vind dit moeilik om hul diepgewortelde idees te laat vaar, óf omdat hulle deur farmaseutiese reuse gefinansier word, óf omdat hulle dit nie kan hanteer dat hul lewe se werk verkeerd bewys word nie."

Met ’n plastiekskedel met geverfde rooi strepies om die verskillende slag-are voor te stel, verduidelik Elliot hoe sy begrip van migraine gegroei het. Hy behandel lyers al die afgelope 15 jaar, en is die enigste chirurg ter wêreld wat 'n suksesvolle behandelingsprosedure toepas waarin hy slagare buite die brein afbind om migrainelyers se pyn te verlig.

Deur sy fokus te verskuif na die strukture buite die brein het hy agtergekom dat hierdie hoofpyne grootliks veroorsaak word deur slagaarpyn, spierspanning, of in die meeste gevalle 'n kombinasie van die twee.

Gevolglik het hy en sy span nuwe behandelingsopsies sonder medikasie ontwikkel. Een aspek is die postuurwysigingstoestel wat hy ontwerp en in die vroeë 90's in Suid-Afrika en Amerika gepatenteer het. Dit is 'n verhemelteplaatjie wat die posisie van die kakebeen regstel om spierspanning in die gesig, nek en kop te verminder, en veral om spanning van die kakebeen en nekspiere te verlig.

Elkeen word individueel vir die draer ontwerp. Maar Elliot se grootste baanbrekersbehandeling is slagaarchirurgie, iets wat hy toevallig in 1995 ontdek het toe 'n pasiënt op wie hy ’n mondoperasie wou uitvoer, begin kla het van kwaai hoofpyn.

"Ek het opgelet dat daar 'n polsende bloedvat aan die kant van haar kop was. Toe ek daarop druk, het die pyn verdwyn. Toe ek my vinger oplig, het dit teruggekeer. Ek het besef die slagaar was die oorsaak van die pyn en het geweet dat dit nie 'n groot risiko sou wees om dit af te bind nie."

Hy het die prosedure uitgevoer en sy pasiënt se migraines het verdwyn. Elliot het sedertdien al meer as 500 lyers van chroniese migraine met slagaarchirurgie behandel. Sy benaderde sukseskoers is 85%.

Hoofpynspesialiste oor die wêreld heen toon ál meer belangstelling in sy tegniek, en op aanbeveling van Suid-Afrikaanse dokters en voormalige pasiënte wat nou in die buiteland woon, stroom migrainelyers uit alle uithoeke van die planeet na Johannesburg om hierdie operasie te ondergaan.

Dis 'n teaterprosedure wat 30 tot 90 minute duur en tussen R3,000 en R30,000 kos na gelang van die aantal bloedvate wat betrokke is. Dit wissel gewoonlik van een tot agt are. Elliot se nuutste navorsing gaan oor kriochirurgie, waar 'n yskoue taster gebruik word om die betrokke slagare toe te vries eerder as om dit te sny of af te bind. Hierdie verfyning kan die prosedure byna heeltemal sonder bloeding maak.

Elliot se pionierswerk laat die wêreld regop sit. Twee jaar gelede is 'n verslag oor sy baanbrekerchirurgie in die internasionale joernaal Therapy gepubliseer. Dit was vergesel van 'n studie deur Elliot wat toon dat 55 pasiënte wat die operasie ondergaan het, agterna van 'n noemenswaardige verbetering in hul lewensgehalte kon getuig. Die paar pasiënte wat steeds migraines gekry het, het gesê dis minder intens en kom minder gereeld voor.

Internasionale opslae

Benewens dié studie het Elliot ook saam met prof. Giel Spierings van die Harvard-universiteit in Amerika 'n verslag geskryf wat in die Amerikaanse joernaal Cranio verskyn het. Dit het gehandel oor sy bevinding dat die slagare aan die buitekant van die skedel, wat geen verbinding met die brein het nie, migraine veroorsaak.

As deel van sy voortgesette poging om die "migrainekode" neer te pen, het Elliot ook 'n nuwe navorsingsprojek saam met die Italiaanse migrainedeskundige prof. Carlo Cianchetti van die Universiteit van Cagliari begin. Hulle wil die uitslae later vanjaar publiseer.

Elke nuwe studie neem modern migrainekennis nog 'n stappie verder weg van uitgediende beginsels en praktyke – en hopelik 'n stappie nader aan verligting vir migrainelyers.

Die soektog na nuwe antwoorde kry ál meer momentum met die intense debat tussen migrainepraktisyns en -lyers wat desperaat op soek is na verligting vir hul pynlike toestand.

"Die opsie om 'n veilige en doeltreffende prosedure by 'n dagkliniek te ondergaan, sal baie mense se lewe verander," sê Elliot. "Dit is een van die eerste uitvoerbare, getoetste alternatiewe vir medikasie.

"As jy in ag neem dat medikasie vir baie mense grootliks ondoeltreffend is en dat die probleem vererger word deur die sogenaamde reaktiewe hoofpyntoestand – waar dit in werklikheid die medisyne is wat die migrainepyn veroorsaak – verskaf dié chirurgie 'n veilige en permanente oplossing vir miljoene lyers."

Elliot het reeds sy vaardighede aan belangstellende chirurge in Italië begin oordra, en was verlede jaar by 'n  internasionale hoofpynkonferensie in Praag waar hy sy saak vir slagaarchirurgie voor die groot name van die hoofpynwêreld gestel het.

Hy's 66, maar hy lag wanneer 'n mens vra wanneer hy gaan aftree. "Ek voel asof ek nou eers regtig aan die gang kom," skerts hy. "Dit is my missie om die waarheid openbaar te maak. Die farmaseutiese maatskappye sal dalk nie daarvan hou nie, maar die mense moet weet dat daar 'n manier is om die pyn stop te sit."

Die monster in my kop

'Mamma, my kop is seer'

Is dit meer as net 'n hoofpyn?

Hoe om 'n hoofpyn te hanteer

Dr Elliot Shevel se goue reëls

Kry hier hulp

www.health24.com

www.mymigraine.co.za

www.headacheclinic.co.za

Die Suid-Afrikaanse Hoofpynvereniging 0861-678-911

Migraine deur Oliver Sacks (Vintage Books)

Managing Migraines deur Claire Houlding (Authorhouse)

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE