Share

Medisyne op die net

Onwettige apteke gebruik jou rekenaar as winkel en voorskrifmedisyne is nou teen afslag te koop. Maar dit gaan om meer as net 'n aanbod vir goedkoop Viagra in jou inbus.
Deur ROBERT WHITAKER vir Huisgenoot-POLS

Steek jou hand op as dit nie minstens een keer per dag met jou gebeur nie. Jy maak Outlook oop, en jou posbus loop oor van e-posse wat jou vertel hoe jy 75% afslag op Viagra kan kry. Of op ander voorskrifmedisyne.

Kyk 'n bietjie dieper as dié ongenooide e-posse en jy kom gou af op 'n probleem wat steeds ernstiger afmetings aanneem en 'n toenemende gesondheidsgevaar is.

Die internet is besig om die grootste medisynesmous van die 21ste eeu te word.

Alles is aanlyn beskikbaar: van pille wat seksdrif aanwakker, aknee genees of jou help om gewig af te skud tot die hoogste kategorie skedule-middels soos ketamien, opium-derivate soos metadoon en die berugte Rohypnol, wat vir afspraakverkragting gebruik word.

Al wat jy nodig het, is 'n kredietkaart en 'n muis, en met 'n klik of twee kan jy kies en keur uit die A – Z van sterk voorskrifmedisyne. En dít sonder 'n voorskrif.

Gerieflik en goedkoop
Desmond* (28), 'n liggaamsbouer van Centurion, erken dat hy gereeld anaboliese steroïede op die net bestel om spiere te bou. Hy weet dit het dalk perdehormone in, maar gee nie om nie. En Erik* (53) van Pietermaritzburg het al male sonder tal Viagra oor die net bestel. Niemand weet daarvan nie. En niemand het hom voor sy aankope oor enige gevare gewaarsku nie.

In 2002 het Liam Brackell, 'n 24-jarige Brit met 'n geskiedenis van depressie, hom om die lewe gebring met pille wat hy deur 'n aanlynapteek gekoop het. Volgens sy ma het Liam in een stadium elke dag 300 antidepressante by sy huis laat aflewer. Teen die tyd dat hy dood is, het hy altesaam 23 verskillende soorte antidepressante aanlyn gekoop.

Veral in ontwikkelde lande, en ook in Suid-Afrika, gebruik miljoene mense reeds die internet om voorskrifmiddels by aanlynapteke te koop. Dit is gerieflik omdat jy nie uit jou huis hoef te gaan nie, dikwels heelwat goedkoper omdat jy die beste prys kan uitsnuffel, en dit gun jou meer privaatheid. Te goed om waar te wees? Soos alles in die newels van die kuberruimte, is wat jy sien nie noodwendig wat jy kry nie...

Die besigheid floreer. In 2007, het verbruikers 'n beraamde $13,2 biljoen (ongeveer R106 biljoen) daaraan bestee om voorskrifmedisyne aanlyn te bestel. En as 'n mens die deskundiges kan glo, was dit meestal sonder voorskrif.

Ondersoeke na aanlynapteke wat beheerde medikasie vrylik verkoop, wys dat die bedryf die afgelope drie jaar bestendig gegroei het. Daar word vooraf geen persoonlike konsultasie of mediese ondersoek gedoen nie. Mediese rekords word nie vereis nie en daar is geen laboratoriumtoetse of opvolgondersoeke nie.

Oneties, onwettig en lewensgevaarlik
Maar is dit wettig? Beslis nie in die lewe buite die kuberruimte nie. Net soos dit onwettig is vir ’n dokter om medisyne voor te skryf aan pasiënte wat hy nog nooit gesien het nie, is dit onwettig vir 'n apteek om 'n voorskrifmiddel sonder 'n geldige voorskrif te verkoop.

Die apteker sou sy lisensie verloor en jy sou waarskynlik vir die onwettige besit van dwelms in hegtenis geneem word.

Volgens Marc Blockman, professor van kliniese farmakologie aan die Universiteit van Kaapstad en Groote Schuur-hospitaal, sou jy jou ook aan iets anders skuldig maak: "Dis hoogs onwettig om [sonder 'n invoerlisensie] medikasie ons land in te bring, maar dis wat gebeur as jy dit aanlyn bestel."

Dr. Vanessa Steenkamp, sekretaris- generaal van die Suid-Afrikaanse Genootskap van Basiese en Kliniese Farmakologie en dosent by die departement van kliniese farmakologie aan die Universiteit van Pretoria, is baie bekommerd: "Dit is nie net onwettig nie, dis oneties en moontlik lewensgevaarlik."

Maar op die internet is alles nie so eenvoudig nie, en talle farmaseutiese organisasies beywer hulle vir die een of ander vorm van beheer om die stortvloed bedenklike aanlynapteke te stuit.

Om te sê dat die owerhede tot dusver nog nie veel sukses met die regulering daarvan gehad het nie, is om dit sagkens te stel. Of dit nou dobbel, pornografie of dwelmhandel is: wanneer dit in die kuberruimte plaasvind, is dit 'n regstameletjie.

Dit hang af van die land, maar daar is oor die algemeen geen rede waarom aanlynapteke nie mag bestaan nie. Volgens wet mag 'n aanlynapteek net medisyne aan 'n pasiënt met 'n geldige voorskrif verkoop, en slegs wanneer die verbruiker in dieselfde land as die apteek is – dieselfde regulasies wat vir jou plaaslike apteek geld.

Die skuiwergat wat deur onwettige aanlynapteke uitgebuit word, is dat dié wette nie noodwendig in die kuberruimte geldig is nie.

Aanlynapteke kan baie van die wette omseil deur hul webtuiste in 'n land met 'n lakse farmaseutiese beleid te registreer, selfs al is hul besigheid nie daar gebaseer nie.

Die ander struikelblok is dat skelm apteke nie juis gretig is om besonderhede oor kontakpersone of hul fisieke adres te verskaf nie. Dit is ook maklik om 'n webtuiste te sluit en dit net weer onder 'n ander webadres oop te maak.

Voorskrifte sonder ondersoeke
Daar is baie geldige redes waarom jy slegs ná ’n ondersoek deur jou dokter ’n voorskrif behoort te kry. Dink maar aan medikasie soos die eetlusdemper Reductil, Viagra vir ereksieprobleme, of Zyban vir rook.

Jou dokter sal jou eers ná ’n deeglike ondersoek 'n voorskrif gee. Hy sal na jou mediese geskiedenis kyk en bepaal of jy dié medikasie behoort te gebruik. Hoe sal die middel reageer saam met ander medikasie wat jy neem? Sal jy die kursus voltooi?

Om hul veiligheid te verseker, word pasiënte gewoonlik aangeraai om ná 'n paar weke terug te kom. Hulle word in kennis gestel van enige newe-effekte of voorsorgmaatreëls wat hulle moet tref.

Die vrye beskikbaarheid van medikasie op die internet sonder 'n doktersondersoek omseil dié belangrike beheermaatreëls.

Dit is hoekom party aanlynapteke vereis dat kliënte 'n vraelys invul voor hulle enige voorskrifmedisyne aan hulle sal verkoop.

Party webtuistes bied ook 'n gratis "konsultasie" aan of verwys pasiënte na hul eie mediese konsultante, maar dit is waarskynlik net 'n verkoopsfoefie. Deskundiges meen dat daar in die meeste gevalle glad nie eens 'n mediese konsultant is nie.

Dis waarskynlik 'n rekenaarprogram wat verbruikers se antwoorde vergelyk met vrae wat op 'n matriks gebaseer is, en dan die medikasie volgens dié kriteria beskikbaar stel. Dis nie juis 'n baie betroubare stelsel nie!

In een eksperiment het 'n aanlynapteek ná so 'n aanlynkonsultasie 'n voorskrif vir Viagra toegestaan, al het dit met die pasiënt se hartmedikasie gebots.

Deur die stelsel op so 'n manier te omseil, word die weg gebaan vir probleme wat deur gevaarlike middelinteraksies en skade deur besmette of vervalste medikasie of middels verby hul vervaldatum veroorsaak word.

Volgens Marc dobbel mense wat voorskrifmedisyne oor die internet koop met hul gesondheid en het hulle geen benul van wat hulle eintlik koop en die risiko's wat daaraan verbonde is nie.

"Bo en behalwe die feit dat mense waarskynlik swartmarkmiddels koop, is daar geen manier om vas te stel of dit vervals is of nie. Selfs al is dit die ware Jakob, het dit dalk verval of is dit nie korrek vervaardig of hanteer nie," sê Marc.

"As 'n middel nie na behore geberg of verpak word nie, kan die aktiewe bestanddele ondoeltreffend of selfs giftig word."

Naamgenote
Dít wat jy bestel, kan iets heeltemal anders wees as wat uiteindelik in jou posbus beland. Verwarring met handelsname van middels kan daartoe lei dat mense per ongeluk die verkeerde medikasie gebruik.

Baie middels, selfs al word dit onder dieselfde of 'n soortgelyke naam bemark, kan aansienlik van land tot land verskil, waarsku Vanessa.

Selfs as die naam van 'n medisyne wat elders gekoop word identies of soortgelyk aan die naam op die voorskrif is, kan "die aktiewe bestanddeel in die middel iets heeltemal anders wees of 'n ander dosis kan nodig wees, alles dinge wat die middel ondoeltreffend kan maak".

In die VSA is Flomax byvoorbeeld die naam van 'n middel wat vir 'n vergrote prostaatklier gebruik word. In Italië is die produk wat Flomax genoem word 'n anti-inflammatoriese middel. In Spanje word Norpramin gebruik om maagsere te behandel, terwyl dit in die VSA 'n antidepressant is.

In al dié gevalle verskil die aktiewe bestanddele radikaal van mekaar. Nog 'n goeie voorbeeld is die Britse middel Amyben, wat gebruik word om abnormale hartritme te behandel.

Dit kan maklik verwar word met Ambien, ’n Amerikaanse naam vir 'n slaappil, een van die voorskrifmedisynes wat waarskynlik 'n rol gespeel het by die vroeë dood van die akteur Heath Ledger.

'n Ondersoek deur die Amerikaanse Food and Drug Administration het bevind dat daar in Amerika 105 handelsname bestaan wat so na aan dié van sekere buitelandse medikasie is dat verbruikers wat hul voorskrifte in die buiteland inhandig maklik 'n middel met die verkeerde aktiewe bestanddeel kan kry.

Te koop: wondermiddels (ongetoets)
Nog nie oortuig nie? Wat van die aanlynapteke wat blatant teer op die pyne en skete van verbruikers deur aan hulle "wondermiddels" en "gewaarborgde resultate" te belowe?

Wonderkure wat al jare gelede belaglik was, het klaarblyklik 'n nuwe afsetpunt gevind, en miljoene verbruikers trap nou in dieselfde strik en bestee miljoene aan produkte wat slinks bemark word.

En nog erger: baie van die middels is nog nooit getoets nie.

Die BBC het onlangs berig oor pasiënte wat 'n eksperimentele kankermiddel op die internet koop.

Hoewel studies met rotte bewys het dat die medikasie gewasse kan laat krimp, is verdere navorsing nodig en toetse op mense lê nog ver in die toekoms. Tog het 200 terminale pasiënte die medikasie aanlyn gekoop.

Daar is geen navorsing wat aandui watter moontlike newe-effekte die gebruik van die middel kan hê nie.

Boonop is deskundiges bekommerd dat enige belofte wat dit inhou, gesmoor kan word en dat negatiewe beriggewing hul pogings om kliniese proewe te laat plaasvind kan ondermyn.

Wat word gedoen om hierdie transaksies stop te sit? Die internet is vol skuiwergate en omdat dit so 'n nuwe ding is, is daar min wetgewing of bewaking om te reguleer wat in die kuberruimte gebeur.

Gelukkig het die FDA en die Drug Enforcement Agency (DEA) in die VSA saamgewerk en dit reggekry om die skandaligste aanlynkartelle te sluit. Hulle het op miljoene in kontant, bankrekeninge en bates beslag gelê – slegs 'n druppel aan 'n multimiljoendollar bedryf se emmer.

Die DEA het ook reeds begin saamwerk met maatskappye soos Google en Yahoo om mense te waarsku oor die gevare van aanlynmedisyne. Net verlede jaar het daardie waarskuwing byna 80 miljoen keer verskyn terwyl mense onwettige aanlynapteke besoek het.

Dit sou naïef wees om te dink aanlynapteke sal verdwyn. Tog is daar wel 'n paar met die korrekte akkreditasie van professionele farmaseutiese organisasies wat voorskrifmedisyne wettiglik verkoop.

Hoewel hulle nog nie vir Suid-Afrikaanse verbruikers toeganklik is nie en dit dus nog steeds onwettig is om by hulle te koop, sal dit miskien nie lank wees voor ons ons eie betroubare aanlynapteek het nie.

Tot dit egter gebeur, is dit beter om deskundiges se raad te volg en nee te klik vir aanlynmedisyne.

* Skuilname

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE