Share

Maak jou laaste dampie

Elke minuut word 10 miljoen sigarette wêreldwyd verkoop. Gelukkig is daar deesdae 'n allemintige aantal programme en produkte op die mark as jy nie langer tot dié skoksyfer wil bydra nie en wil ophou rook. Ons bekyk nege hulpmiddels.
Deur LUCIA SWART-WALTERS

Vir die meeste rokers is dit sekerlik boaan hul lysie Nuwejaarsvoornemens: Volgende jaar sál ek ophou rook, beslis en sowaar, die hemel hoor my...

Maar ophou is nie vir sissies nie.

Dis meer as net nikotien-verslawing wat dit so moeilik maak om die gewoonte te laat staan, sê prof. Chris Bolliger, 'n longspesialis aan die Universiteit Stellenbosch se fakulteit gesondheidswetenskappe. "Dit kos jou liggaam maar twee tot drie dae om van die nikotien ontslae te raak. Dit is egter die gewoonte wat moeilik is om af te leer en navorsing wys hoogstens 30 persent van mense kry dit reg."

Die belangrikste, sê Chris, is dat jy moet wíl ophou. Eers dan kan een van die vele ophou-rook-planne werklik vir jou werk. En jy moet 'n metode soek wat by jou leefstyl pas. " 'n Mens kan self ophou, maar die beste is om hulp in te roep."

Huisgenoot-Pols het gaan aanklop by mense wat dit kon regkry om op te hou rook om te hoor wat hul geheim is.

1. Smokenders

Die Smokenders-program het die bekende TVaktrise Franci Swanepoel gehelp om ná 20 jaar op te hou rook. "Ek is uiteindelik verlos van sigarette," sê die vrou wat ons ken as Toeks in die sepie Binnelanders.

Smokenders verwyder die assosiasies verbonde aan rook, soos 'n sigaret saam met 'n koppie koffie. "Dis 'n paadjie in jou brein wat jy moet uitvee en Smokenders het my geleer hoe om dit te doen. Ek mis dit nog, maar ek ruik baie beter," spot Franci.

Hoe dit werk: Die program vertel jou nie hoe sleg sigarette is nie, maar fokus op die assosiasies wat jy met sigarette het.

"Dit help jou om te verstaan wanneer en hoekom jy rook," sê Mercia Axon, eienaar van Smokenders.

"Eers met die laaste sessie wys ons vir kursusgangers wat rook aan jou liggaam doen. Ons verstaan dat rokers 'n emosionele band met 'n sigaret het en dit moet gebreek word voor jy suksesvol kan ophou."

Aspirant-nierokers woon sewe weke lank elke week 'n sessie by en die plan is dat hulle in die vyfde week ophou rook.

Voordele: Jy het geen medisyne nodig nie en deur elke week minder te rook, leer jy die gewoonte stadig maar seker af. By Smokenders rook jy die eerste week soos gewoonlik en skaal dit dan af tot jy rookvry is teen die einde van die program.

Nadeel: Omdat daar geen fisieke hulpmiddels is nie, kos dit wilskrag om die program te deurloop. As jy nie vasbeslote is om op te hou nie, sal dit nie noodwendig help nie.

Koste R2 100, maar sommige mediese fondse betaal 'n deel.

2. Oorterapie

Die woordvoerder van die gewilde sepie Generations, Constance Makhoantle, het haar tot oorterapie gewend nadat sy meer as nege jaar lank gerook het. "Dit het wonderlik gewerk. Dit neem net die nikotien-verslawing weg en jy moet self die gewoonte verbreek, maar dit was baie doeltreffend. Ek het sommer in die oggend begin stryk pleks van te rook," vertel sy.

Hoe dit werk: Dr. Gavin Zipp van die Auriculotherapy Smoking Cessation Clinic in Randburg sê dis 'n betreklik nuwe manier om op te hou rook wat deur 'n neuroloog in Frankryk ontwikkel is.

"Dis 'n alternatiewe vorm van geneeskunde wat op die beginsel berus dat die oor 'n mikrostelsel is. Dit beteken die hele liggaam word in die senuweepunte op die buitenste deel van die oor verteenwoordig.

"Dit berus dus op dieselfde beginsel as refleksologie omdat die hele liggaam behandel kan word deur sekere punte op die oor te stimuleer."

In die loop van 'n uur lange sessie word reseptors in die oor geplaas. Dit prikkel sowat vyf drukpunte op jou oorskulp om jou verslawing aan nikotien te genees en jou te help ontspan.

"Dis werklik 'n doeltreffende manier om op te hou," sê Gavin.

Voordele: Dis betreklik goedkoop en vinnig en jy hoef geen chemiese produk te gebruik nie.

Nadele: Dit neem nie jou assosiasies met rook weg nie. Al sal jy nie meer lus wees vir nikotien nie, sal jy steeds wilskrag moet toepas om nie uit gewoonte 'n sigaret aan te steek nadat jy byvoorbeeld geëet het of as jy iets drink nie.

Koste R500.

3. Elektroniese sigarette

Vir Gerda du Preez van Alberton, wat meer as 40 sigarette per dag gerook het, was ophou 'n noodsaaklikheid toe sy in September 'n heupvervanging moes ondergaan. Sy het haar tot 'n elektroniese sigaret, iSmoke, gewend.

"Ek kon nie in die hospitaal rook nie en was desperaat lus vir 'n sigaret. Ek het dadelik 'n elektroniese sigaret gekry en kon toe in my hospitaalbed lê en rook," vertel sy. Dit is reeds in sommige apteke en tabakwinkels beskikbaar en sal ook eersdaags by kettingwinkels soos Dis-Chem en Clicks te koop wees.

"Ek rook nou glad nie meer gewone sigarette nie, net die elektroniese een, en dit gebruik ek net so sewe keer per dag. Die beste is dat ek nie eens gewig aangesit het nie omdat ek steeds 'rook'," vertel Gerda.

Ander elektroniese sigarette op die mark is Njoy, Twisp en Fabcig.

Hoe dit werk: Tessa Holmes, 'n iSmokeverskaffer, verduidelik dat 'n elektroniese sigaret wel 'n klein bietjie nikotien bevat. "Daar is verskillende sigarette van verskillende sterktes, van so lig soos Dunhill Infinite tot so sterk soos Camel. En by elkeen kan jy kies tussen 'n lae-, medium- en hoëtabakopsie."

Die sigaret bestaan uit 'n deel wat lyk soos 'n sigaret, met 'n knoppie op. Dié deel is ook die battery wat herlaai kan word. Aan die sigaretdeel skroef jy 'n verstuiwer vas wat warm word wanneer jy die knoppie druk. Laasgenoemde is oop aan die een kant en daar druk jy jou filter in.

Die filter lyk soos 'n mondstuk en is gevul met 'n stukkie watte waarop jy 'n geurmiddel soos vanielje of pynappel drup, en dit bevat 'n bietjie nikotien. Wanneer jy die knoppie op die sigaret druk, maak dit die stukkie watte warm en stel die geur vry soos jy inasem. Die elektroniese sigaret maak nie as nie en jy blaas skoon stoom uit.

Voordele: Die sigaret is veral goed vir mense wat sukkel met die gewoonte eerder as vir mense wat die nikotien mis.

Hoewel dit steeds nikotien bevat, is dit minder skadelik omdat dit nie vol chemikalieë soos die teer in gewone sigarette is nie. Jy kan ook die sigaret binnenshuis rook omdat dit geen reuk afgee nie.

Wat die mense by die tafel langs jou in die nierokersafdeling gaan sê as jy die "sigaret" in jou mond druk, is nie so seker nie, maar die goeie nuus is dat jy nie rook uitblaas wat skadelik is vir jou bure nie.

Nadele: Dit bevat steeds nikotien, wat beteken jy kan steeds long- en ander kankers asook hartsiektes kry. En as jy 'n swaar roker is, sal die idee van 'n elektroniese pypie wat jy nie hoef aan te steek nie, dalk nie die knoop deurhak nie.

Koste: Die iSmoke-beginnerspak kos R789, wat geurmiddels insluit. As dit eers op is hoef jy bloot nuwe geurmiddels te koop teen R50 per pak. Die sigaret kan twee tot drie uur lank gebruik word voor jy dit moet herlaai.

4. Zyban

Die pil Zyban het dit vir Liesching Rademeyr van Kroonstad makliker gemaak om op te hou rook.

"Ek het 47 jaar lank gerook. Ek het Zyban ses weke lank gebruik en elke dag minder sigarette gerook tot ek uiteindelik op 4 November 2003 heeltemal opgehou het. Daar lê nou nog 'n pakkie sigarette in die huis waaraan ek nie raak nie. Dit is wonderlik om te weet ek is 'n sigaret se baas."

Hoe dit werk: Zyban is aanvanklik as 'n antidepressant ontwikkel, maar dokters het later agtergekom dit help rokers om die gewoonte af te skud. Dit bevat die chemise middel bupropion, wat die vlakke van die goedvoel-hormone dopamien en noradrenalien in die brein verhoog. Dit gee aanleiding tot 'n gevoel van euforie en laat jou minder angstig voel wanneer jy die sigarette vir altyd wegbêre.

Zyban word voorgeskryf terwyl jy nog rook en jy rook dan geleidelik minder terwyl jy dit gebruik, tot jy uiteindelik jou laaste sigaret dooddruk. Dit gebeur so twee weke voor jy jou laaste dosis Zyban drink.

Voordeel: Omdat dit 'n voorskrifmiddel is, betaal jou mediese fonds 'n deel daarvan.

Nadele: Al kla sommige mense oor neweeffekte soos slapeloosheid, sê Chris dis veilig om te gebruik. "Dit het 'n goeie suksessyfer. Dis moeilik om newe-effekte van die gewone onttrekkingsimptome te onderskei, maar dit is 'n baie veilige opsie."

Nie almal kan Zyban met veiligheid gebruik nie. Vermy dit as jy: 'n epilepsielyer is; allergies is vir bupropion; bulimie of anoreksie het; aan bipolêre gemoedsversteuring ly; 'n lewerafwyking, nierprobleme of hartprobleme het; of ooit 'n oogbesering of brein- of ruggraatgewas gehad het. Dit is ook nie geskik vir diabete en mense wat gereeld alkohol en slaappille met bensodiasepien drink nie.

Koste: Sowat R360 per maand.

5. Akupunktuur

Dit het die Johannesburger Teresa Desmet slegs drie sessies akupunktuur oor drie weke gekos om finaal op te hou rook.

"Die afgelope ruk het ek 10 tot 15 sigarette per dag gerook," sê Teresa, "maar dit was maklik om op te hou. My kop was reg en ek was baie minder gespanne. Die akupunktuur help beslis."

Akupunktuur verrig wondere om 'n mens te laat ontspan in die begindae wanneer jy ophou rook, bevestig dr. Graham Yutar, 'n Johannesburgse spesialis in akupunktuur en homeopatie. "Dit maak die onttrekkingsimptone minder en help met die ontgiftingsproses," sê hy.

Hoe dit werk: Die akupunktuurnaalde plaas druk op sekere senuweepunte wat verband hou met jou rooklus en dit verminder die drang en nikotienverslawing.

Die sessies kan op opeenvolgende dae wees of 'n week uit mekaar.

Voordeel: Dis besonder ontspannend.

Nadeel: Dit sal nie die gewoonte genees nie; daaraan sal jy self iets moet doen.

Koste: Sowat R1 000 vir drie sessies.

6. Nikotienvervangingsterapie (NVT)

Chris sê nikotienvervangers soos plakkers en kougom is 'n goeie manier om jou oor die eerste hekkies te help wanneer jy wil ophou rook. "Die beste is om met jou dokter te gesels oor 'n dosis wat sterk genoeg is vir jou behoeftes," sê hy.

Darren Bergman, 'n politikus van Johannesburg, het twee jaar gelede opgehou rook deur Nicorette-kougom te eet. "Ek het voorheen 'n pakkie per dag gerook. Ek het al 'n paar keer probeer ophou – ek is baie goed met ophou! Dit is moeiliker om nie weer te begin nie," skerts hy.

Hy het uiteindelik besef hy het iets nodig om hom oor die aanvanklike nikotienonttrekkingsimptome te help en besluit op Nicorette. "Ek het dit sowat 'n maand lank gebruik. Ek het begin met so 20 stukkies kougom per dag tot ek uiteindelik opgehou het. Die kougom het dit beslis makliker gemaak."

Hoe dit werk: Nicorette-kougom bevat 'n bietjie nikotien en is beskikbaar in dosisse van 2mg en 4mg. Die plakkers is verkrygbaar in dosisse van 5mg, 10mg en 15mg. Die kougom gee eenmalig nikotien af terwyl jy dit kou, terwyl die plakkers die nikotien geleidelik deur die dag vrystel.

Jy begin met die sterkste dosis en hou vir 'n paar weke daarmee vol voor jy na die ligter dosis oorskakel. So genees jy jou geleidelik van jou nikotienverslawing.

Voordele: Kougom gee jou die bevrediging dat jou mond besig is, terwyl die plakkers deurlopend jou nikotienbehoefte bevredig. Dit help jou om die aanvanklike onttrekkingsimptome hok te slaan. En al bevat dit nikotien, bevat dit nie die ander skadelike chemikalieë wat jy in sigaretrook kry nie.

Nadeel: Jy kry steeds nikotien in.

Koste: Pryse wissel, maar vir 'n pak kougom van 30 stukkies sal jy min of meer R50 betaal, terwyl 'n pak van sewe plakkers jou sowat R100 sal kos. Een kougom is min of meer gelykstaande aan 'n sigaret terwyl een plakker tot 16 uur kan werk.

7. Hipnose

Rokers het 'n diepliggende drang het om te rook, daarom is hipnose 'n goeie manier om die gewoonte te beveg.

Ingrid Squara van Johannesburg het 16 jaar lank gerook voor sy in Maart verlede jaar danksy hipnose opgehou het.

"Tussen my en my man, Trevor, het ons elke drie dae 'n hele boks sigarette gerook," sê sy.

Hoe dit werk: Linda Clark, 'n hipnoterapeut van Johannesburg, verduidelik dat sy 'n mens onder hipnose terugneem tot wanneer jy die eerste keer gerook het. "Ek probeer dan die assosiasie met plesier wegneem en hulle laat onthou hoe sleg dit die eerste keer was."

Tydens hipnose fokus sy ook op die positiewe – wat jy gaan wen as jy ophou rook. "Ek laat mense visualiseer hoe dit sal wees om byvoorbeeld koffie te drink sonder om te rook en leer hulle hoe om situasies te hanteer waarin hulle sou wou rook."

Voordeel: Daar is geen medikasie betrokke nie en dit help jou ook ontspan.

Nadele: Dit help nie om jou nikotienlus te verdoof nie en jy moet wil ophou rook. Linda waarsku ook dat nie almal in 'n diep hipnose geplaas kan word nie. Voor hipnose kan werk moet jy oorgehaal wees om 'n sukses van die terapie te maak.

Koste: Sowat R1,000 vir drie sessies. Dis die minimum wat nodig is om op te hou rook, meen Linda.

8. Allen Carr se EasyWay Clinics

Dié klinieke maak daarop aanspraak dat mense 'n enkele vyf uur lange sessie bywoon en dat die meeste daarna nooit weer rook nie. Hulle bied ook twee opvolgsessies aan as jy wel sukkel om op te hou.

Dié metode het gewerk vir Solly Venter (48) van Durban, wat sedert sy skooldae sporadies gerook het.

"Ek het besef al sê die nikotienmonster in my lyf ek het dit nodig, is dit bloot 'n sielkundige ding. Dit was gewoontes wat ek moes afleer en ek is baie trots dat ek dit kon regkry."

Hoe dit werk: Jy leer om jou assosiasies met rook te verbreek. In die loop van die eerste paar uur van die sessie moet jy gereeld rook.

"Ons hanteer die hoofoorsaak van rook, die sielkundige rede," verduidelik Laura Pankey, korporatiewe bemarkingsbeampte van die klinieke. "Terwyl die rokers aan die rook is, word hul drang om te rook verwyder. As die drang weg is, is die angs oor ophou rook ook weg en kan jy maklik die onttrekkingsimptome hanteer. Dit beteken rokers voel nie dat hulle iets ontneem word nie."

Voordele: Dit kos net vyf uur uit jou dag en omdat daar 'n waarborg is dat jy jou geld terugkry as dit nie werk nie, is dit sekerlik die tyd werd.

Nadele: Dit help nie met onttrekkingsimptome nie en vir sommige mense wat al jare lank probeer ophou, sal vyf uur dalk nie genoeg wees om hulle van die gewoonte te genees nie.

Koste: R1,995, maar sommige mediese fondse betaal 'n deel. Pleks van die kursus by te woon kan jy ook die boek Allen Carr's Easy Way to Stop Smoking lees. Dis

te koop teen R200.

9. Neuro-elektriese terapie (NET)

Neuro-elektriese terapie is 'n nuwe metode waar die brein regstreeks gestimuleer word om jou te help om op te hou rook. Alex Hamlyn, direkteur van die Houghton House-behandelingsentrums, het meer as 30 jaar lank sowat 45 sigarette per dag gerook.

"Ek het meer as 25 keer probeer ophou en alles probeer, tot ek in Augustus twee dae lank NET-terapie ontvang het.

"Dit het die smagting na 'n sigaret in die eerste 24 uur aansienlik verminder en toe heeltemal verwyder. Dit het dit uiteindelik vir my moontlik gemaak om op te hou rook.

"En 48 uur ná die behandeling was ek glad nie meer lus vir rook nie. Ek voel soos 'n nuwe mens."

Hoe dit werk: Die NET Device is 'n klein boksie met twee elektrodes wat agter die roker se ore vasgeplak word en ligte impulse na die brein stuur. Jy loop dan drie dae rond met die sakpas-boksie terwyl die elektrodes agter jou ore vasgeplak bly. "Dit neem die fisieke drang na rook weg deur die deel van die brein te stimuleer wat verslaaf is, en dit herprogrammeer jou brein as't ware asof jy nooit gerook het nie," verduidelik Johan Nothnagel, verskaffer van die NET Device. "Dit help jou dus om dadelik op te hou."

Voordeel: Omdat dit jou fisieke lus vir rook verwyder is dit makliker om die gewoonte te laat vaar.

Nadeel: Dis duur.

Koste R5,000 vir drie dae. Daar word tans met mediese skemas onderhandel om minstens 'n deel van die koste te dek.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE