Share

Lewensbloed

'n Druppel bloed. So op die oog af is dit net 'n rooi spatsel. Maar van binne is dit 'n miniatuurwêreld tot oorlopens toe vol supersterk selle en die ware kern van die menslike lewe. Dis hoekom die wetenskap nog altyd so hard probeer om die geheime daarvan te ontsluit...
Deur ROB WHITAKER

Kan koeibloed dalk eendag jou lewe red? Gaan dit selfs moontlik wees om bloed in 'n proefbuis te kweek? En wat van die kans dat bloedtoetse gedoen kan word sonder dat 'n naald naby jou lyf kom?

Dit klink merkwaardig, maar ewe merkwaardig is iets wat elke liewe dag gebeur en waaroor ons nie eens twee keer dink nie: die wonder van die bloedtoets. Wanneer bloed uit 'n aar in jou arm getrek en na die patologie-laboratorium gestuur word, is dit 'n feitesending van geen geringe formaat nie.

Vir die patoloog is 'n paar milliliter rooi vloeistof in 'n snaakse buisie soos jou liggaam se identiteitsdokument. Of soos 'n vliegtuig se vlugopnemer – jou eie klein "swart boks".

Die patoloog het nie 'n skalpel, X-straalmasjien of sonartoerusting nodig nie. Met net 'n paar tegniese hulpmiddels stel hy vas hoe goed jou immuunstelsel en verskillende organe werk. Hy kan jou stresvlak meet, sien watter soorte kos jy geëet het, watter dwelms of medisyne jy gesluk het, die soort kieme wat in jou liggaam rondbeweeg en of daar enige kankerselle in versteekte hoekies skuil. Hy kan ook agterkom of jy die gevaar loop om artritis te kry, op die rand van menopouse staan, of jy swanger is en wat jou vrugbaarheidstatus is. Hy kan selfs vasstel of jy onlangs 'n hartaanval gehad het.

'n Eenvoudige bloedtoets kan 'n indrukwekkende en uitgebreide hoeveelheid mediese inligting oplewer – en binnekort gaan dit nie eens meer nodig wees om 'n naald te gebruik om bloed te trek nie. (Is dít nou nie troos vir dié wat wil omkap as hulle net ’n naald sien nie!) Alles te danke aan die ruimtevaart.

Navorsers in die ruimte moet bloed vir mediese studies toets en nou kyk die Amerikaanse National Space Biomedical Research Institute of hulle nie 'n bloedmonster kan neem deur bloot 'n spesiale lig (familie van infrarooi) oor jou lyf te laat gly nie. Klink so gevorderd soos Star Trek en na 'n baie bruikbaarder benadering as om gate in jou lyf te steek.

Toekomsvloeistof

Bloed is 'n veelsydige wonderstof en omdat dit so baie lewensnoodsaaklike funksies verrig en so baie inligting oor 'n mens se gesondheid bevat, probeer navorsers verbete om die laaste geheime daarvan te ontsyfer. Daar is 'n paar moontlike deurbrake waaroor medici op die oomblik gaande is.

MIV/vigs is tans natuurlik heel boaan die lys van toestande wat deur bloed (en liggaamsvloeistowwe) oorgedra word. Dié virus val sekere witbloedselle genadeloos aan (die helper-T-selle wat die liggaam se immuunreaksie koördineer) en wetenskaplikes werk dag en nag om die geheime van bloed te ontrafel sodat hulle MIV/vigs kan hokslaan.

In Maart verlede jaar het navorsing aan die Universiteit van Montreal in Kanada gewys dat 'n uiters sterk witbloedsel-proteïen jou teen MIV kan beskerm omdat dit soos 'n skild teen virusaanvalle werk. Dié belangrike ontdekking behoort die ontwikkeling van 'n MIV-entstof aan te help.

Ander nuwe en belowende navorsing fokus op naelstring-bloed as 'n bron van stamselle. Dit kan uiteindelik gebruik word om verskeie toestande te beveg, 'n paar soorte kanker inkluis.

Ál meer ouers belê deesdae in hul pasgebore babas se toekomstige gesondheid deur die naelstring-bloed te laat vries en in 'n naelstring- bloedbank te laat bewaar. So maak hulle seker hul kind kry later maklik toegang tot gesonde stamselle wat in sy liggaam oorgeplant kan word. Die selle kan ook soms suksesvol op broers en susters en ander familielede oorgeplant word.

Dié proses is tans nog in sy kinderskoene en party navorsers dink daar lê nog 'n lang pad voor. Tog is die berging van naelstringbloed 'n mediese versekeringspolis wat groot dividende kan lewer as wetenskaplikes se drome waar word.

Proefbuisbloed

In Augustus 2008 het navorsers by 'n Amerikaanse biotegnologie-maatskappy aangekondig dat hulle dit reggekry het om mensbloed in proefbuise te kweek – deur by die begin te begin. Die span het embrio-stamselle gebruik (wat tot byna enige weefseltipe kan ontwikkel) om tussen 10 en 100 biljoen bloedselle op 'n slag te vervaardig.

Dié tegniek kan bloedoortapping-tegnologie op sy kop draai omdat dit 'n onuitputlike voorraad onbesmette bloed van elke bloedgroep sou kon skep. Vir dokters is bloedoortappings 'n voortdurende uitdaging.

Skenkerbloed moet altyd by die ontvanger s'n pas, anders verwerp die liggaam dit. Dit veroorsaak 'n eindelose soektog na genoeg van die regte skenkers – veral na dié met skaars bloedgroepe. Minstens die helfte van die sterfgevalle wat met bloedoortappings verband hou, is die gevolg van die verkeerde bloedsoort wat toegedien is. Dit is hoekom navorsers probeer om oortappingstegnologie te verbeter.

'n Amerikaanse maatskappy werk al sedert die einde van die jare negentig aan 'n "universele bloedmasjien" wat A-, B en AB-bloed verander in die universele O-groep, wat met veiligheid aan alle mense toegedien kan word. Verlede jaar het die maatskappy se Deense navorsingspan dit reggekry om die ensieme te bepaal wat die A- en B-bloedgroep in O verander. Die gevolg? Ons is moontlik op pad na 'n onbeperkte voorraad universele skenkerbloed.

Wat skuil alles in ’n enkele druppel bloed?

Verstaan jy jou bloedtoets-vorm?

Bloedskenking

Op heterdaad betrap

Kan koeibloed straks jou lewe red?

 (Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE