Share

Kweek jy gif in jou tuin?

Party plante en bessies kan jou lelik siek maak of laat jeuk as jy hulle kou. Mense raak ál meer bewus van gevaarlike tuinplante, maar weet nie altyd wat is wat nie. Hier is die plante waarvoor jy moet ligloop
Deur BETINA LOUW vir Huisgenoot-POLS

Vyftien blare van die selonsroos, 'n beker maanblomtee, 'n hand vol pitjies van die stinkblaar, 'n hap van 'n varkoorblaar en tien seringbessies...

Die eerste kan jou doodmaak, die tweede en derde kan jou so mal soos 'n haas maak, die vierde kan jou mond laat brand – en die laaste sal niks aan jou doen nie.

Dat Suid-Afrikaners besorg is oor giftige tuinplante, is nie altemit nie. Gifinligtingsentrums kry weekliks navrae hieroor.

Daar is baie verwarring oor watter plante giftig is – dis duidelik uit dié navrae, want die meeste mense is bekommerd oor die gifstowwe van die seringboombessie.

Maar al is dié bessiepitte giftig, is dit so hard dat jy hulle skaars met 'n voorhamer kan stukkend slaan. Al sluk jy een, sal dit heel deur jou liggaam beweeg sonder dat 'n kriesel gif uit die harde dop ontsnap. Dit is al keer op keer bewys, sê dr. Gerbus Müller, kliniese toksikoloog by die Tygerberg-gifinligtingsentrum.

Hy meen plantvergiftiging word dikwels oorbeklemtoon en die meeste mense jaag te vinnig spoke op.

Plante se name is ook verwarrend. Baie mense dink byvoorbeeld die gewilde klimop wat so baie mure vol rank, is giftig – maar hulle verwar dié rankplant uit Europa met die gif-klimop (poison ivy) wat glad nie in Suid- Afrika voorkom nie. Selfs in Noord- en Suid-Amerika, waar die gif-klimop inheems is, sal mense nie doodgaan as die blare teen hulle skuur nie. Hulle sal wel blase daarvan kry.

Ons lysie van agt plante wat die afgelope twintig jaar die grootste probleme in Suid-Afrika veroorsaak het, sluit gewilde tuinplante in. Dié bêregids bevat inligting oor hul uitwerking en watter behandeling nodig is.

Plante wat gifstowwe bevat

1. STINKBLAAR of MALPITTE
(Datura stramonium)
Waar kom dit voor?
Die plant is inheems in Noord-Amerika, maar word oral in Suid-Afrika aangetref.

Watter deel van die plant?
Die sade bevat hoë konsentrasies chemiese stowwe wat soortgelyk is aan atropien, 'n opkikker wat jou mond droog maak en jou laat hallusineer.

Hoe gevaarlik is dit?
Dit is 'n baie giftige plant. As jy net vier van die klein pitjies eet, kan dit al tekens van vergiftiging veroorsaak – en 'n hand vol maak mense regtig so mal soos 'n haas.

'n Koppie daarvan kan noodlottig wees. As 'n baba 'n paar pitte inkry, moet jy die kind hospitaal toe neem. Al die gevalle van ernstige malpittevergiftiging wat die afgelope tien jaar in Suid-Afrika behandel is, was tieners wat dit op die proef gestel het.

Hoe sal jy voel?
Jou mond en vel voel droog, jou pupille vergroot, jy voel koorsig en jou pols is vinniger. Jy kan versteurde visie en hallusinasies ervaar. In uitsonderlike gevalle kan epileptiese aanvalle, nierversaking en die dood volg.

Wat kan jy doen?
Die meeste mense wat dié pitte inkry, moet hospitaal toe gaan omdat hulle beheer oor hul optrede verloor en dom dinge aanvang. Tieners wat daarmee eksperimenteer weens die hallusinasies wat dit veroorsaak, moet baie goed opgepas word omdat hulle sommer voor 'n motor kan inhardloop of by 'n venster kan uitval. Mense word vir 'n dag of wat in die hospitaal opgeneem tot die gif uitgewerk is.

2. SELONSROOS
(Nerium oleander)
Waar kom dit voor?
Dié Asiatiese plant word oral in die land aangetref, byvoorbeeld in tuine en langs snelweë soos die N1 in die Wes-Kaap. Die selonsroos met sy kenmerkende pienk, geel of wit blomme pas goed aan in droë gebiede en is daarom 'n gewilde tuinplant.

Watter deel van die plant?
Alle dele is uiters giftig. Dit bevat die hartverlammende en dodelike gifstof oleandrien. Die bitter smaak van die blare keer gelukkig dat mense groot hoeveelhede inneem.

Hoe gevaarlik is dit?
Die giftige stof in die selonsroos se blare, sade en takke kan die hart aantas en jou dood veroorsaak. Meer as vyftig mense het die afgelope tien jaar dele van die selonsroos ingekry, maar gelukkig te min om vergiftig te word. Sowat 4g of vyftien blare is genoeg om die dood te veroorsaak. In Sri Lanka maak mense wat wil selfmoord pleeg, soms 'n tee van die geel selonsroos se blare en sade.

Hoe sal jy voel?
Naar, verward en swak. As jou hartspiere aangetas word, kan hulle so verswak dat jou hart kan gaan staan omdat die ritme versteur is. Dié simptome kan eers ure of 'n dag later ontwikkel.

Wat kan jy doen?
As daar 'n verandering in jou hart se ritme is, moet jy vinnig by 'n dokter of hospitaal kom.

3. MAANBLOM
(Brugmansia candida)
Waar kom dit voor?
Dit is gewilde tuinblomme oral in Suid-Afrika, maar is oorspronklik van Suid-Amerika.

Watter deel van die plant?
Net soos met malpitte, bevat die blare, blomme en sade stowwe wat soos atropien werk.

Hoe gevaarlik is dit?
Die stof het die kwaaiste uitwerking wanneer jy tee van die blare en blomme maak en dié konkoksie drink. Dit veroorsaak hallusinasies en aggressiewe gedrag, sodat gebruikers stapelgek en onverantwoordelik kan optree.

Die uitwerking is minder ernstig as jy bloot die plant se blare of blomme eet. Al die gevalle van maanblom-vergiftiging wat die afgelope tien jaar in ons hospitale voorgekom het, was tieners wat dit op die proef wou stel. Gelukkig sal iemand nie baie siek word as hy net een blaar of pit eet nie.

Hoe sal jy voel?
Maak jou reg vir versteurde visie, hallusinasies, aggressiewe gedrag, koors, 'n droë vel, droë mond, vergrote pupille, vinnige polsslag, gedisoriënteerdheid en selfs epileptiese aanvalle, nierversaking en die dood.

Wat kan jy doen?
Pasiënte moet 24 uur lank in die hospitaal bly tot die simptome uitgewerk het.

4. GEVLEKTE STOMRIET
(Dieff enbachia)

5. OLIFANTSOOR
(Colocasia esculenta)

6. GERAAMTEPLANT
(Monstera deliciosa, algemeen bekend as delicious monster)

7. VARKOOR
(Zantedeschia aethiopica)
Waar kom dit voor?
Al vier dié plante kom oral in Suid-Afrika voor. Die varkoor is inheems, terwyl die ander plante oorspronklik van Noord- en Suid-Amerika is.

Watter deel van die plant?
Die blare, en soms ook die blomme en vrugte, bevat kalsium-oksalaatkristalle wat die mond se slymvlies kan beskadig.

Hoe gevaarlik is dit?
Die skerp, langwerpige en onoplosbare oksalaatkristalle in die blare se sap is soos 'n klomp fyn spelde wat die mond se slymvlies stukkend steek, sodat jou mond kwaai begin brand.

Kinders is geneig om die plante te kou, maar hulle hou gewoonlik gou op as hul mond begin brand. Daar is byna elke maand 'n kind wat aan een van dié plante kou, maar die meeste gevalle is nie ernstig nie.

Hoe sal jy voel?
Jy sal dadelik 'n brandgevoel in jou mond kry. As jy nog daarvan inkry, kan jou keel toeswel sodat jy moeilik asemhaal. Hoewel dié simptome in handboeke beskryf word, het Gerbus se span nog nooit asemhalingsprobleme gesien nie.

Wat kan jy doen?
Suig aan ys of eet roomys vir die brandgevoel. As jou keel ook brand, gaan dokter toe om seker te maak dit is nie geswel nie.

8. SERINGBOOM
(Melia azedarach)
Waar kom dit voor?
Dié boom is inheems in Asië, maar kom oral in Suid-Afrika voor.

Watter deel van die plant?
Die ryp bessies se pitte bevat meliatoksiene, wat giftige stowwe is.

Hoe gevaarlik is dit?
Die seringbessie veroorsaak byna nooit vergiftiging nie omdat die pit binne-in die bessie so hard is dat jy selfs sal sukkel om dit met 'n hamer oop te kap. Die pit word gewoonlik heel ingesluk en beweeg amper altyd heel deur die liggaam. Die afgelope dertig jaar was daar net een geval waar diarree dalk deur seringbessie-vergiftiging veroorsaak is.

Hoe sal jy voel?
In uitsonderlike gevalle kan naarheid, braking en diarree binne 'n uur voorkom.

Wat kan jy doen?
Behandel die simptome met middels teen naarheid en diarree. Stel die pasiënt gerus en hou sy toestand dop.

Plant inheems en veilig
Dit is interessant dat die meeste plantsoorte wat giftig is of lastige reaksies veroorsaak, uitheems is. Ernst van Jaarsveld, kurator en plantkundige van die Kirstenbosch- botaniese tuin se konservatorium in Kaapstad, het vir ons 'n lys opgestel van die toptien inheemse blomme, struike, klimplante en bome wat nie lastige reaksies uitlok nie, maklik in ons klimaat groei en boonop mooi is:

  1. Malva (Pelargonium spp.)
  2. Spekboom (Portulacaria afra)
  3. Vallende sterretjies (Crocosmia aurea)
  4. Pers haselaar of lintbos (Hypoestes aristata)
  5. Wit katjiepiering (Gardenia thunbergia)
  6. Ligblou salie (Salvia chamelaeagnea)
  7. Clematis-klimop (Clematis brachiata)
  8. Soetdoringboom (Acacia karroo)
  9. Hen-en-kuikens (Cholorophytum comosum)
  10. Persbesem (Polygala virgata)

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

Click here for more on poisoning

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE