Share

Kuberdok V&A

V:  Puisies
Ek kry nie sommer puisies in my gesig nie, maar as ek 'n koppie koffie drink af en toe dan kry ek so paar puisies in my gesig. Ek drink gewoonlik rooibostee. So drie weke gelede het ek by 'n koffiewinkel koffie gedrink en het een puisie gekry en toe nog een daarna en nou het ek vier lelike groot rooi dik puisies in my gesig. Dit is seer en meeste van dit kry nie 'n wit koppie nie, dit bly dik en rooi en maak merke wat baie lank vat om weg te gaan. My dieet is nog dieselfde, en ek kan nie dink aan iets wat verander het die afgelope maand nie. Kan dit my bloed wees wat vuil is? Indien wel, wat doen ek om dit skoon te kry? Dankie.

A: Nee dis nie jou bloed wat vuil is nie - dis baie keer hormoon verwant en word veroorsaak deur 'n bakteriele infeksie van 'n talgkliertjie in die vel. Probeer Bactroban room op vir die infeksie (antibakterieel) en Oxy 10 om dit uit te droog. Kaffein kan dalk stress hormone verhoog en aknee uitbrake veroorsaak.

V:  Bednatmaak
My seuntjie is drie-en-'n-half en heeltemal "potty trained" gedurende die dag, maar ek is raadop in die nag. Hy mag van 7-uur in die aand niks drink nie, en ek neem hom 10-uur, 12-uur en 4-uur gedurende die nag toilet toe. Gedurende hierdie tyd drink hy niks. Hy staan egter nog elke oggend met 'n nat doek op. Ek het al die doek afgehaal, maar dan maak hy die bed nat. Ek is raadop en weet nie meer wat om te doen nie. Ek is al so moeg en raadop. Enige raad is welkom. Dankie.

A: Seuntjies mag langer as dogtertjies neem om heeltemal droog te bly, veral in die nag. Daar is sekere senuwee bane in die brein wat moet groei voordat hulle fisies in staat is om te reageer op die sein dat die blasie vol is. Hy word dalk net nog nie wakker as hy moet piepie nie. Dit is algemeen dat kinders tot op 6 jaar nog soms in die nag glipse kry. Ek stel voor dat jy voortgaan met die beperking van vloeistowwe na 7, laat hom toilet toe gaan voor jy gaan slaap, maar laat hom maar met 'n broekie tipe "huggie" doek slaap. Ek sou nie in die middel van die nag opstaan om hom toilet toe te neem as dit nie tot nou toe al gehelp het nie. Laat 'n nagliggie brand dat hy jou kan kom roep as hy wel wakker word en 'n nood het, en as hy dit regkry om een nag droog te slaap, maak 'n groot ophef daarvan. Ek dink nie jy moet te bekommerd wees nie, en hom ook nie angstig maak daaroor nie, bitter min kinders het regtig 'n blaas probleem. Gee nog bietjie tyd vir ontwikkeling om plaas te vind.
Sien http://familydoctor.org/online/famdocen/home/children/parents/toilet/366.html

V:  MRI en operasie
Dit gaan baie goed met my. Ek en my man het verlede week terug gekom van ons besoek aan Australië. Ons het 'n skool vir die kinders gaan kies, huise gekyk en my man het sy konrak geteken! So nou is dit net 'n kwessie van aansoek doen vir 457 Visa, dan sal ons Aussieland toe trek met die kinders.

Ek het gister 'n ortopeed gaan sien want ek het van Januarie af  'n baie seer en stywe nek gehad. Die ortopeed het my gestuur vir MRI en dis nie goeie nuus nie: C5/6 en C6/7 diskusdegenerasie, posterior ruptuur en herniasie van diskus.

Nou wil die ortopeed opereer om diskusse te vervang - en sommer binnekort ook.

Moet ek gaan vir die operasie? Wat sal gebeur as ek dit nie laat doen nie - sal dit daar anderkant net vir my meer probleme veroorsaak? Hoe sal dit my Visa beinvloed as ek gaan vir die operasie?

A:  As jy enige drukking op jou senuwee wortels het wat simptome in jou arms af gee is dit dalk nodig om dit te doen voor julle trek. Hoe lank gaan dit neem om 'n visa te kry? Australië het baie goeie mediese dienste maar ek weet mens wag nogal lank op die waglys vir operasies en so aan. As dit nie krities is nie kan jy seker dit daar ook laat doen - hoor wat sê die ortopeed? Jy kan ook vir Dr Willie Conradie kontak en vra - hy doen mediese ondersoeke vir Australië immigrasie Telephone: +27 12 807 0385/0239.

V:  Blaaskanker
Ek het bloed in my urine van 2+ gehad. Toe neem ek Cybrobay 3x500mg en nou het ek 1+ bloed in my urine. Ek het geen pyn al wat my pla is dat ek baie in die nag sowel as in die dag toilet toe gaan. Wat kan dit wees en hoekom bly daar bloed in my urine.

A: Bloed in die uriene is baie keer 'n teken van infeksie of inflammasie in die blaas. Dit kan ook partykeer gebeur as mens hard oefen. As dit nie weggaan nie, moet jou dokter ook net seker maak dat daar nie ander oorsake is nie, soos nierstene, of niersiekte. Die feit dat jy nog baie toilet toe moet gaan kan dui daarop dat die infeksie nog nie heeltemal opgeklaar het nie.

V:  Yuppie-griep
Kan u dalk in 'n neutedop vir my sê  wat die simptome van yuppie-griep is en wat veroorsaak dit. My man kla van spierpyne in sy bene en arms en hy het 'n tipe van 'n uitslag op sy arms wat nou ook op sy bene en nek uitkom. Dit is donker van kleur en lyk soos blasies, maar dit is nie seer en en jeuk ook nie.

A:  Yuppie-griep is 'n ander naam vir fibromialgie. Dit is 'n toestand wat baie keer ontwikkel na 'n erge infeksie of besering en is in kort 'n abnormale reaksie van die brein op pyn impulse, gepaard met moegheid en psigiatriese/neurologiese simptome soos depressie en konsentrasie probleme. Dit gee nie 'n uitslag nie. Dit klink eerder vir my of jou man 'n onderliggende virus infeksie kan he, so miskien is dit beter dat hy julle dokter sien vir bloedtoetse sodat die regte behandeling gegee kan word.

V:  Maag bly brand
My maag brand alewig onder my naeltjie. Soms is dit so erg dat ek my eetlus verloor. Dit kom en gaan, en is nie konstant nie.

A: Jy het dalk gastritis (maag slymvlies ontsteking) of 'n peptiese ulcus. Probeer Mucaine as dit brand en seer is , maar ek dink jy moet jou dokter vra om te kyk of 'n gastroskopie nodig is en jy het dalk 'n kursus suur onderdrukkende medisyne nodig.

V: Bloedsuiker siek?
Kan u asseblief vir my se wat my kanse is om NIE suikersiek te kry nie - my ma is 'n diabeet. My bloedsuikervlak is 4.4 en ek is gereeld dors, drink baie rooibostee met suiker en so nou en dan groentee bitter.Ek is 43 jaar oud, probeer gereeld oefen - my gewig is 76kg en is 1.62 lank. Ek eet meer gevriesde as vars groente. Ek probeer so veel as ek wat ek kan bekostig vrugte eet, gewoonlik die eerste 2 weke eet ek baie vrugte (3-4 per dag). Ek eet nie baie rooivleis nie en eet hoender sonder vel. Ek hoop dit is genoeg inligting. Baie dankie.

A:  Alhoewel diabetes in families loop is dit nie 'n gegewe dat jy diabetes sal kry as jou ma dit het nie. Maar mens moet maar gereeld toets daarvoor (ten minste een keer per jaar) met 'n vastende bloedsuiker en insulien toets. Jy eet gesond, en oefen, en dit help al klaar baie om jou te beskerm teen diabetes. Jy is op die regte pad!

V:  Brandpyn na operasie
Ek het onlangs 'n historektomie gehad. Nou ondervind ek  'n brandpyn op twee plekke langs die operasieletsel. My een kant van my buik is ook van die begin af baie seerder as die ander kant. Wat kan die rede hiervoor wees?

A:  Met die genesing van die wonde, is dit moontlik dat daar oormatige wondgenesing was. Konsulteer die dokter wat die operasie uitgevoer het vir n moontlike laparoskopie. Die spesiale ondersoek, kan lig werp op jou huidige toestand.

V: Skouer
Ek het al vir drie dae 'n pyn in my linkerskouer. Ek het niks swaar opgetel. Dit voel of my nek ook half seer kan wees. Die pyn is bo in die skouerknop.

A:  Konsulteer n fisioterapeut, aangesien dit moontlik net spierspasma van die nek en skouer kan wees. Indien daar geen verbetering daarna is nie, moet jy jou dokter vir x-strale konsulteer.

V:  Suiker
Goeiemôre dokter. Wat kan ek doen om my ''craving'' vir suiker te genees? Ek drink verskriklik baie koffie met suiker en wil weet of daar nie iets is wat ek kan gebruik om my ''cravings'' minder erg te maak nie?

A:  Ek stel voor dat jy jou suiker inname sistematies verminder en kos soorte met 'n hoe GI vermy. Moet asseblief nie die suiker met produkte soos Canderel vervang nie. Die produkte kan jou liggaam vir meer suiker laat vra.

Het jy 'n mediese vraag? Vra vir Kuberdok.

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE