Share

Joost ondergaan stamsel-terapie

Suid-Afrikaanse rugbyheld, Joost van der Westhuizen, ondergaan tans eksperimentele stamsel-terapie om beskadigde weefsel te regenereer en herstel, en om te help met gestremde spierfunksie. Dit is die eerste keer dat hierdie soort behandeling in Suid-Afrika toegepas word.

Van der Westhuizen is meer as twee maande gelede met ALS, 'n vorm van Motor Neuron Siekte (MNS) gediagnoseer. ALS is 'n lewensbedreigende neurodegeneratiewe toestand met 'n sterftesyfer van 80% oor 'n periode van twee tot vyf jaar.

Volgens sy spesialis, Dr. Jody Pearl, is Van der Westhuizen se diagnose van ALS by die Cleveland Clinic se Neuromuskulêre Eenheid in Ohio, VSA,  in Julie 2011, deur een van die wêreld se toonaangewende deskundiges oor hierdie toestand bevestig.

Pearl sê: "Op hierdie stadium is behandelingsopsies beperk en bestaan basies uit versagtende en ondersteunende terapie. Daarom het Joost, met die onderskraging van sy dokters en die president van die Suid-Afrikaanse Rugby Legendes Organisasie, Gavin Varejes, besluit om stamsel-behandeling te kies."

Die doel van die terapie is om beskadigde spierweefsel op te bou en te herstel en hopelik verdere verlies van sy spierfunksie te vertraag.

Die begin van Joost se behandeling

Van der Westhuizen het onlangs 'n klein chirurgiese prosedure ondergaan waartydens van sy vetweefsel deur Dr. Vernon Ching en Dr. Tim Christofides by die Netcare Waterfall City Hospitaal in Midrand verwyder is. Die mediese span het 'n gespesialiseerde tegniek gebruik om te verseker dat die vet die maksimum hoeveelheid stamselle bevat.

Hierdie vet is na die stamsel-laboratorium by Netcells Cryogenics gestuur, waar die mensenchymale stamselle versigtig geïsoleer is.

'n Terapeutiese produk is met behulp van 'n gepatenteerde tegniek daaruit voorberei. Dr. Ching en Dr. Christofides het dit later binneaars en in sy spierweefsel aan Van der Westhuizen toegedien.

Dit is 'n volkome veilige prosedure, aangesien Van der Westhuizen se eie stamselle gebruik is om die middel voor te berei, en daar geen kunsmatige bymiddels in die proses gebruik is nie. Dit is bekend as selvrye terapie omdat die hele stamsel nie oorgeplant word nie.

Die tegnieke wat deur Netcells gebruik is, is deur Dr. Steve Ray, 'n neurowetenskaplike wat al langer as 20 jaar lank navorsing oor stamselle doen, ontwikkel.

Die eerste van sy soort in SA

Kim Hulett, Besturende Direkteur van Netcells, sê dat dit die eerste behandeling van sy soort in Suid-Afrika is. "Ons trots dat ons hierdie splinternuwe soort tegnologie aan Joost kan bied en dat hy, alhoewel hy vir die nuutste MND toetse en navorsing na Amerika moes reis, die behandeling hier in sy eie land kan ontvang. Joost is bly dat hy mense bewus kan maak van neurodegeneratiewe siektes en die potensiële behandelingsopsies."

Netcells se Mediese Direkteur, Dr. Yvonne Holt sê dat mesenchymale stamselle gebruik word in beide navorsings- en kliniese omgewings vir 'n verskeidenheid estetiese en mediese toestande wat velregenerasie (wondheling, litteken-hervorming en velpigmentasie-afwykings); neurologie (senu-regenerasie en -herstel); ortopedie (kraakbeen- en been-herstel); sportbeserings (sening- en ligament-herstel); kardiologie (hartspier-regenerasie); rekonstruktiewe chirurgie (vet-outo-oorplantings); en baie ander kliniese areas insluit.

Dr. Holt beklemtoon dat die gebruik van mesenchymale stamselle in die behandeling van Van der Westhuizen eksperimenteel is. "Die doeltreffendheid van Joost se behandeling sal deeglik deur sy mediese span gemoniteer word, met behulp van 'n reeks kliniese toetse, saam met soortgelyke gevalle in Europa." - (Netcells Cryogenics, Augustus 2011)

Lees verder:

Wat is Motor Neuron Siekte?

 

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE