Share

Is jou gesondheidsorg-makelaar sy sout werd?

Hier is wat ’n gesondheidsorg-makelaar veronderstel is om te doen om bevredigende diens te lewer. As joune nie die paal haal nie, is dit miskien tyd om uit te kyk vir iemand wat sy sout werd is.

Skema-seleksie. Of jy nou ’n indiwidu of ’n korporatiewe kliënt is, dit is noodsaaklik dat jou mediese skema-situasie gereeld hersien word. Jou behoeftes verander en skemas pas gewoonlik elke jaar hulle ontwerp en voordele aan. ’n Hersiening van jou situasie behoort elke jaar gedoen te word, of wanneer daar iets groots in jou lewe plaasvind soos die geboorte van ’n kind. Dit moet met behulp van ’n gedetailleerde analise, om enige verandering in jou gesondheidstoestand of lewe vas te stel, gedoen word. 

Lae koste. Op die oomblik word mediese skemas nie toegelaat om meer as 3% (maksimum R60.70) van jou premie aan jou gesondheidsmakelaar te betaal nie. As ’n mens dit met enige ander vorm van professionele advies vergelyk, is dit baie goedkoop en om toegang tot ’n gesondheidsorg-makelaar te hê, kan jou moontlik op die lang termyn duisende Rande spaar. Die betaling van hierdie fooi sal nie jou premie enigsins affekteer nie, en dus is hierdie diens eintlik ‘gratis’.

Onafhanklike raad. Baie gesondheidsorg-makelaars werk onafhanklik van die mediese skemas en die meeste van hulle sal in staat wees om jou ’n keuse van ten minste drie skemas te gee (as hulle nie kan nie, moet jy liewer iemand anders kry). Baie skemas doen bemarking via belsentrums en gee dus nie werklik onafhanklike raad nie.

Leiding en verduideliking. Het jy al ooit probeer om jou mediese skema ten volle te verstaan? As jy, soos die meeste mense, die terminologie en verduidelikings verwarrend vind, dan het jy iemand nodig wat hierdie aspekte aan jou kan verduidelik in eenvoudige, verstaanbare leketaal. Dit gebeur dikwels dat lede nie eis nie omdat hulle nie die komplekse terme en frases verstaan nie.

Probleem-oplossing. Terwyl baie mediese skema-belsentrums jou oproep doeltreffend beantwoord, word hulle dikwels deur jonger personeel beman wat, alhoewel hulle die voordele van die skema verstaan, beperkte ondervinding van gesondheidskwessies het. Ten spyte van hulle goeie bedoelings het hulle ook dikwels nie ’n volledige begrip van wat die skema volgens wet verplig is om te betaal nie. Goeie gesondheidsorg-makelaars ken die Wet op Mediese Skemas, asook die prosesse en prosedures wat binne die mediese skema gevolg word, en is dus in ’n posisie om te verseker dat jou eis-navrae doeltreffend en effektief hanteer word.  

Dispute. ’n Gesondheidsorg-makelaar is verplig om enige dispuut wat jy met die skema mag hê, op te volg. Die gesondheidsorg-makelaar sal weet hoe om met die skema te onderhandel om die beste uitkoms te verseker. As hierdie proses nie bevredigend is nie, kan die gesondheidsorg-makelaar ook raad gee oor die wetlike aspekte en die klagte-prosedure soos dit in die Wet op Mediese Skemas uiteengesit is.

’n Vroeë waarskuwingstelsel. Die Suid-Afrikaanse mediese skema-mark is uiters dinamies. Daar is baie veranderinge wat plaasvind en die skemas verkeer onder toenemende finansiële druk. Bo en behalwe die risiko van sluiting of kuratorskap, soos onlangs deur party skemas ondervind, is baie skemas in gesprek met mekaar oor samesmelting. Hierdie samesmeltings neem toe en mag dalk nie in jou beste belang wees nie. ’n Goeie gesondheidsorg-makelaar moniteer die jaarlikse prestasie van die verskillende mediese skemas, asook samesmeltings. Die gesondheidsorg-makelaar sal in staat wees om jou betyds te waarsku as jou skema onder erge finansiële druk gebuk gaan, en indien nodig, jou help om na ’n meer volhoubare skema oor te skakel.  

Jou langtermyn belange. Met die bekendstelling van baie produkte wat voorgee dat hulle die werk van ’n mediese skema doen en hulself as sodanig bemark, is dit maklik om mislei te word en te dink dat jy ’n lid van ’n mediese skema is. Alhoewel hierdie produkte op die oog af voldoende dekking bied, is daar dikwels gevare en komplikasies wanneer ’n mens probeer om te eis. Daar kan ook later in ’n mens se lewe probleme opduik wanneer jy probeer om by ’n mediese skema aan te sluit wat volgens die Wet op Mediese Skemas geregistreer is. Hierdie risiko kan hoër bydraes as gevolg van penalisering weens laat aansluiting, wagperiodes en uitsluitings insluit.

Gesondheid as ’n prioriteit. ’n Goeie gesondheidsorg-makelaar sal op jou gesondheidsbehoeftes fokus. Dit is ’n hartseer feit dat baie makelaars aan jou ’n mediese skema sal verkoop, bloot met die doel om ’n verhouding met jou op te bou sodat hulle dan later aan jou die meer lonende (hoër kommissie) lewens- en uitkeerpolisse kan aanbied. In bemarkingskringe is dit bekend as ‘Bait and Switch’ (met ander woorde ’n produk aan jou verkoop en dan ander produkte aanbied – soos baie selfoon-aanbiedings) en word dikwels aggressief deur makelaars gebruik wat aanvoer dat hulle geregistreerde gesondheidsorg-spesialiste is.

’n Veranderende omgewing. Ons het alreeds gemeld dat die gesondheidsorg-industrie konstant verander. ’n Mens hoef net te kyk na die manifeste van politieke partye om te besef dat daar baie veranderings aan die gebeur is. Om op hoogte van hierdie veranderinge te bly, is vir die leek bykans onmoontlik, en om ’n deskundige aan jou kant te hê, sal verseker dat jou gesondheidsorg-belange, ongeag wat gebeur, ’n prioriteit sal wees en dat jy nie onkant gevang sal word nie.

(Victor Crouser vir Health24, Mei 2009)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE