Share

Hou op rook en ruik die rose

Die regering is vasbeslote om die rookgewoonte in Suid-Afrika hok te slaan. Dr. Manto Tshabalala-Msimang het pas op Internasionale Nie-rookdag nóg strenger teenrook-regulasies aangekondig.

Alles om rokers aan te moedig om die rookgewoonte te laat vaar. Min rokers besef egter dat hul gesondheid binne enkele minute en dae ná rookstaking kan begin verbeter.

Rookgewoonte groot probleem in SA
Die rookgewoonte is inderdaad 'n groot probleem in Suid-Afrika.Volgens die Hartstigting van SuiderAfrika rook sowat sewe miljoen Suid-Afrikaners. Meer as 90% van die rokers het voor die ouderdom van 18 begin rook. Dis nie al nie. Die aantal rokers neem sedert 1992 met 3% per jaar toe.

Hoewel die rookgewoonte die vinnigste toeneem in ontwikkelende lande, is dit steeds 'n groot probleem in ontwikkelde lande. Al neem die voorkoms vanrook in byvoorbeeld Amerika af, het rookverwante sterftes pas epidemiese afmetings begin aanneem.

Die longkankersterftesyfer het tussen 1930 en 1997 met 600% onder Amerikaanse vroue toegeneem, en volg presies dieselfde kurwes as die rookgrafieke - net 20 tot 30 jaar later. Verlede jaar het sowat 70 000 Amerikaanse vroue aan longkanker gesterf - meer as aan borskanker en alle vrouekankers tesame.

Dié toename in rooksterftes wag ook op Suid-Afrikaanse rokers.

Rook doen skade aan elke orgaan
Rook berokken skade aan feitlik elke orgaan en stelsel in die liggaam, waarvan impotensie en onvrugbaarheid omtrent die minste is.

Dat rook skadelik is, is te verstane. 'n Sigaret bevat meer as 4 000 giftige chemiese stowwe, waaronder kadmium (wat in batterye gebruik word), bensien en formaldehied ('n preserveermiddel in verf).

Passiewe rook is ook skadelik, veral vir babas en kinders jonger as tien, en word verbind met asma en verskeie longsiektes by kinders.

'n Kind wat grootword in 'n huis met ouers wat rook, het teen sy vyfde verjaardag die ekwivalent van 105 pakkies sigarette se rook ingeasem al rook die ouers nooit in die teenwoordigheid van die kind nie.

Ja, ja. Rook is 'n nare en ongesonde gewoonte. Wat sal dit help om op te hou rook? Prof. Chis Bolliger, pulmonoloog van die Universiteit van Stellenbosch, sê rook is baie verslawender as wat navorsers gereken het, en die rookstaakproses moenie onderskat word nie. Die gesondheidsvoordele van rookstaking maak egter die stryd die moeite werd.

Jou gesondheid begin byna onmiddellik verbeter nadat jy ophou rook het. Só gebeur dit:

  • Binne 20 minute begin jou bloeddruk -wat deur elke sigaretteug verhoog word - tot normaal terugkeer. Ook die spoed van jou hartklop, wat telkens toeneem wanneer jy 'n sigaret rook, word binne 20 minute weer normal.
  • Ná agt uur begin die suurstofvlakke, wat met die rook van 'n sigaret verlaag word, tot normale vlakke terugkeer. Danksy die verbeterde suurstofvlakke in jou bloed begin jou kanse op 'n hartaanval - twee tot drie keer so hoog onder rokers as nie-rokers - weer stadig daal.
  • Oog-irritasie begin binne enkele ure ná jou laaste sigaret verminder.
  • Voortdurende keelseer wat deur sommige rokers ondervind word, begin ook binne ure ná die laaste sigaret verbeter.
  • Slaappatrone begin die nag nadat jy jou laaste sigaret gerook het, verbeter omdat nikotienvlakke in jou bloed begin daal. Jy kan tot 'n uur gouer aan die slaap raak.
  • Binne 24 uur ná jou laaste sigaret is jou liggaam van alle opgeboude koolstofmonoksied ontslae.
  • Binne 24 uur begin die verlammende uitwerking van die gifstowwe in rook op die sweephaartjies binne-in die longpype verminder. Die haartjies begin stadigaan die eerste keer weer beweeg om die opgehoopte slym in die longe los tewoel. Dit kan tot drie weke vir die verlamde sweephaartjies duur om weer goed te funksioneer. Baie rokers begin twee tot drie weke ná rookstaking slym hoes, danksy die sweephaartjies wat weer funksioneer om afvalstowwe uit die longe te verwyder.
  • Binne 48 uur ná rookstaking kan geen nikotien meer in die liggaam opgespoor word nie. Jou reuk- en smaaksintuie begin dan verbeter. Jy sal kos beter proe en blomme begin ruik. Jy begin ook beter ruik vir die mense om jou. Jy kon tot dusver nie jouself ruik nie, maar enige nie-roker kan daarvan getuig dat dit nie aangenaam is nie.
  • Binne 72 uur sal jy ook makliker begin asemhaal omdat jou lugpype begin ontspan. Die verslapping van kringspiere om die lugpype bring mee dat lugpype wyer oop is.
  • Jou energievlakke begin ook binne 72 uur styg. Hoewel baie mense sigarette rook omdat die nikotien hulle opkikker, is rokers se energievlakke in der waarheid baie laer as dié van nie-rokers.
  • Bloedsirkulasie verbeter binne 14 dae ná rookstaking. Dit geld vir sirkulasie na die hartspier, brein en spiere, asook na ander belangrike organe. Mans se ereksie is binne 14 dae ná rookstaking fermer en langduriger.
  • Die voorkoms van impotensie neem binne die volgende maande skerp af. Sowat 80% van alle impotensiegevalle hou verband met die rookgewoonte. Binne maande kan 'n oud roker se spermtelling met 15% toeneem.

Binne drie maande ná rookstaking verminder 'n oud roker se gehoes. Kortasemigheid verminder en longkapasiteit kan met 10% verbeter. Binne 'n jaar kan die gevaar van hartsiektes by 'n oud roker met sowat die helfte verminder.

Vyf jaar ná rookstaking is jou kans op hartsiektes dieselfde as dié van iemand wat nooit gerook het nie. Jou kans op longkanker is ook laer as dié van rokers, mits jy nooit weer rook nie.

Die gesondheid van mense wat minstens drie keer per week minstens 30 minute lank oefen, verbeter die meeste.

(mhudson@health24.co.za, Junie 2004)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE