Share

Hou nóú op snork

Goeie nuus: Daar's hope hulp vir mense wat snags balke saag. Hier is 10 maniere waarop jy die volume sagter kan stel.
Deur JONO LE FEUVRE

Byna die helfte van alle volwassenes snork. Dit beteken as jy nie self snags lê en balke saag nie, word jy waarskynlik deur 'n snorker wakker gehou. As jy die gelukkige een is wat deurslaap, is die snorkery miskien nie vir jou 'n groot probleem nie – maar vir die mense om jou is dit wel.

"Mense wat snags nie ordentlik slaap nie kan sukkel met hoofpyn, hoë bloeddruk en aanhoudende lomerigheid," sê dr. Nadir Kana, 'n oor-neus-en-keel-spesialis van die Milpark-hospitaal in Johannesburg. "Hulle kan ook ongeluksvoëls word omdat hulle nie behoorlik kan konsentreer nie."

Dié gebrek aan konsentrasie kan stresvlakke die hoogte laat inskiet, sê die Health24-sielkundige Ilse Pauw. "Selfs alledaagse take word dan moeilik," verduidelik sy. "Daarby bou wrokkigheid op en dit plaas druk op die verhouding."

Op sy ergste kan 'n slaaptekort tot vetsug lei. Hoekom? Omdat mense wat bedags lomerig is, geneig is om meer te eet ten einde meer energie te kry. Op die lang duur kan 'n mens dus gewig aansit en selfs vetsugtig word. In 'n neutedop: Jou snorkery kan jou bedmaat vet maak.

En dis nie al nie. "Oorgewig kan jou meer laat snork," sê Nadir. Kort voor lank het jy, die snorker wat so lekker slaap, dalk 'n snorkende bedmaat...

Waar lê die probleem?

Snork is in werklikheid net 'n vibrasie van die sagte weefsel op enige plek van jou neus tot laag in jou keel, sê Nadir.

"Lug moet van buite jou liggaam deur jou keel tot in jou longe kom. Maar as daar iewers in dié deurgang versperrings is, word die lugvloei stamperig en lei dit tot vibrasies wat ons as 'n gesnork hoor."

Dit beteken die oorsaak kan op verskeie plekke in die lugweg lê. 'n Toe neus kan byvoorbeeld 'n versperring veroorsaak, so ook die sagte verhemelte of die basis van die tong.

By oorgewig mense kan vetweefsel om die basis van die keel opbou wat die lugvloei kan belemmer en selfs asemhaling kan laat ophou. Die gevolg is dat die vlak van koolstofdioksied (CO©ü) in die bloed gevaarlik hoog word en indirek spanning op die hart plaas. Die CO©ü-vlak kan so hoog word dat die liggaam moet wakker word om te keer dat jy in jou slaap versmoor. Dit word slaapapnee genoem en waar gewone snorkers hul bedmaats wakker hou, hou hierdie toestand die snorker wakker. Dit veroorsaak dieselfde simptome van slaaploosheid as by die bedmaat.

"Mense met slaapapnee ly ook aan hoofpyn, hoë bloeddruk en lomerigheid bedags," sê Nadir. "Dis 'n bose kringloop, waar oorgewig slaapapnee veroorsaak en die slaapapnee jou nog meer oorgewig maak. Mense moet hierdie kringloop verstaan sodat hulle die patron kan breek."

Volg dié stappe

"Mense kom spreek my dikwels in 'n laaste poging om hul verhouding te red," sê die kenner dr. Nadir Kana. "In dié stadium slaap hulle reeds in aparte slaapkamers en is hulle oor veel meer as net slaaploosheid ontsteld – hulle is ook vies dat hul bedmaat weier om iets aan die saak te doen."

Maar die gerusstellende werklikheid is dat baie mense se snorkprobleme letterlik oornag opgelos kan word. Hier is 10 stappe tot 'n goeie nagrus, verskaf deur van ons land se voorste oor-neus-en-keel-spesialiste.

1. Moenie drink en dommel nie

Alkohol kan veroorsaak dat die sagte verhemelte swel en die lugvloei versper. "Drankies met 'n hoë alkoholinhoud soos whisky en brandewyn is van die grootste sondaars, en rooiwyn ook," sê die Johannesburgse oor-neus-en-keel-spesialis dr. Neil Scott. Die oplossing? Hou op drink drie uur voor jy gaan slaap.

2. Waar daar 'n rokie is, is daar 'n snorker

Sigaretrook is vol chemikalieë soos formaldehied, ammoniak en swaelwaterstof wat die vliese in jou keel kan irriteer en laat swel – en jou laat snork. Verminder die irritasie vir jou keel én jou bedmaat en raak liewer ontslae van daardie pakkie sigarette. Of rook e-sigarette wat nikotien verskaf, maar nie die skadelike chemikalieë bevat nie.

3. Bring die bra

'n Matige snorker kan dikwels tjoepstil gehou word deur net te voorkom dat hy op sy rug slaap. Hier's 'n plan: Dra 'n bra verkeerdom met tennisballe in die keëls. As jy nie daarvoor kans sien nie, kan jy 'n snorkfrokkie aanlyn bestel – tik net "snore vest" op Google in. 'n Stuk skuimrubber is aan die agterkant van die frokkie ingestik en dit keer dat jy op jou rug slaap.

4. Hou jou kop hoog

'n Ekstra kussing is dalk al wat jy nodig het om jou lugweg oop te hou – veral as jy sukkel met 'n toe neus of verstopte sinusse. As jou kop gelig word, is daar beter dreinering en dus minder versperrings.

5. Bevogtig die lug

Jou neus werk soos 'n vogsproeier vir jou lugweë, sê Nadir. In droë klimate moet dit harder werk om die inkomende lug vogtig te hou. Al dié ekstra werk kan die vliese in die neus laat ontsteek.

Dis eintlik eenvoudig. Die neusontsteking word veroorsaak deur verhoogde bloedvloei na die area – wat veronderstel is om meer vog te bring, maar wat ook die bloedvaatjies laat vergroot. Die gevolg: swelling en versperring. 'n Bevogtiger in die vertrek bevogtig jou oorwerkte neus en verminder die gevaar van ontsteking en 'n daaropvolgende snorkery.

6. Hoe groter jy is, hoe harder snork jy

Hoe vetter jy is, hoe meer snork jy, sê Nadir. "Die ekstra weefsel verhoog die druk op jou lugweë en laat dit soos 'n papierkoeldrankstrooitjie platval. As dit gebeur, kan jou asemhaling heeltemal ophou."

Dis bewys dat daar 'n verband tussen gewig en snork is, dus kan jy verseker wees van 'n beter nagrus as jy meer oefening kry en minder kalorieë inneem.

Dis nie 'n kitsoplossing nie, maar die langtermynvoordele vir jou en jou bedmaat se liggaam maak die harde werk die moeite werd.

7. Kry 'n mondskerm

Dokters kan 'n spesiale mond- of tandvleisskerm voorskryf wat snork voorkom. Dit lyk baie soos die skerms wat rugbyspelers dra, behalwe dat dié een jou tong vorentoe hou terwyl jy slaap sodat die lugweë nie versper word nie.

8. Skaf 'n neusknip aan

Soms lê die snorkprobleem binne-in jou neus weens 'n ontsteking of omdat die septum (die skeidingswand in die middel van die neus) skeef is. In dié geval kan 'n neusknip help. Dit pas in die neusgate en help om die lugweë oop te hou. As die neusknip geen verskil maak nie, lê die versperring waarskynlik laer af in die keel en is 'n ander oplossing nodig.

9. Laat sny

"Soos die res van die lyf word die sagte verhemelte met die ouderdom ook oud en pap," sê Neil. "Dit veroorsaak 'n versperring in die pad van die lugvloei, met 'n gesnork die gevolg."

As dit jou probleem is, kan 'n oor-neus-en-keel-spesialis 'n klein snytjie in jou sagte verhemelte maak en 'n klein metaalstiffie daar indruk. Die litteken wat dit op die sagte verhemelte laat vorm, maak die verhemelte weer stewiger en keer dat dit rondflap. Dit klink erger as wat dit is; jy hoef nie in die hospitaal te gaan lê vir die prosedure nie.

'n Moderner alternatief is laserbehandeling wat die sagte verhemelte verkort.

10. Laat maak 'n keelgaatjie

Hoewel 'n mens chirurgie wil vermy, kan ernstige gevalle deur operasies opgelos word, sê Nadir.

As 'n mens se slaapapnee so erg is dat dit jou lewe in gevaar stel, kan jy 'n trageotomie kry: 'n Klein gaatjie word in die basis van die keel gesny en dan haal jy ongehinderd daardeur asem pleks van deur jou mond.

Hoe snork jy?

Die manier waarop 'n mens snork, wys hoekom jy snork. Gaan kyk gerus op die internet by Helpguide.org waarom mense spesifieke snorkgeluide maak.

As jy dit weet, is dit makliker om die oorsaak van jou gesnork vas te vat.

  • As jy met jou mond toe snork, is jou tong heel moontlik die probleem. Beproef stap 7 op ons lys hierbo.
  • As jy met 'n oop mond snork, is die probleem moontlik jou keelweefsel of sagte verhemelte. Beproef stappe 8 of 9.
  • As jy op jou rug snork, is die tennisbal-bra jou voorland (stap 3).
  • As jy in enige posisie snork en jy doen dit aanhoudend, maar met stil tye tussenin, ly jy dalk aan slaapapnee. Spreek 'n dokter of besoek 'n slaaplaboratorium vir 'n behoorlike diagnose.

(Hierdie is 'n geredigeerde weergawe van 'n artikel wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.) – Herfs 2010

Lees meer:
Sleep Centre

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE