Share

Hospitaalplan versus mediese skema

Jou mediese skema se lidmaatskapfooie is al weer verhoog. Is dit nog die moeite werd, of moet jy dit oorweeg om liewer 'n hospitaalplan uit te neem?

Dit is 'n vraag wat baie jonger, gesonde mense deesdae vra, veral dié wat gebuk gaan onder verband- en motor-terugbetalings, bo en behalwe alle ander uitgawes. Of diegene wie se Mediese Spaarrekening teen die middel van die jaar reeds opgedroog het.

So, wat is die hoofverskille tussen 'n hospitaalplan en 'n volledige mediese skema?

"Daar is twee hoofverskille," sê Johan van Tonder, onafhanklike mediese skema navorser. "Die eerste is dat jy in die geval van 'n hospitaalplan byna al jou dag-tot-dag, buite-die-hospitaal kostes self moet betaal (afhangende van die plan), en die tweede is dat hospitaalplanne heelwat minder as mediese skemas kos."

Die wet vereis dat die medikasie vir 25 chroniese toestande deur alle mediese planne, insluitende hospitaalplanne, gedek moet word. Jou skema mag aandring dat jy die medikasie van 'n aangewese voorsiener kry. As jy dit nie doen nie, mag jy geld moet bybetaal.

Daar is egter 'n paar ander dinge wat jy in ag moet neem vóór jy oorskakel.

Wat is jou mediese behoeftes?

"Jou mediese behoeftes is die belangrikste faktor wat oorweeg moet word," sê van Tonder. "As jy gesond is, en dit onwaarskynlik is dat jy hoë, langtermyn dag-tot-dag kostes sal hê, is 'n hospitaalplan miskien voldoende. As jy egter ouer is, of as jy langtermyn mediese probleme het, mag die buite-die-hospitaal uitgawes jou finansieel kelder."

Hoekom nie net by 'n mediese skema aansluit wanneer jy siek word nie?

Neem jou familie se mediese geskiedenis in ag wanneer jy hierdie besluit neem. Hou ook in gedagte dat 'n skielike chroniese toestand jou bankrot kan maak. Om later eers by 'n mediese skema aan te sluit, kan jou meer kos, aangesien jy dalk meer sal moet betaal as gevolg van jou ouderdom. Jy kan volgens wet ook vir tot 12 maande van behandeling vir 'n spesifieke toestand uitgesluit word. As almal net by 'n mediese skema kon aansluit wanneer hulle siek word, sou alle skemas gou bankrot wees.

Besoek die webwerf van die Raad vir Mediese Skemas.

Hoekom die hoë mediese inflasie?

Baie mediese skemas is nadelig geraak deur die uittog van jonger en gesonder lede van volledige mediese dekking na lae-koste hospitaalplanne. Hierdie uittog het beteken dat die kruissubsidiëring van ouer, sieker lede deur jonger, gesonder lede verminder is. Dit het gelei tot 'n verhoging in lidmaatskapfooie. Ander redes vir mediese inflasie sluit in die regering se regulasies aangaande die reserwes van mediese skemas, die lys van Voorgeskrewe Minimum Voordele en die feit dat mediese skemas nie meer nuwe aansoekers mag afkeur nie. Die koste van invoere van mediese toerusting word ook deur valutaskommelinge beïnvloed. Al hierdie regulasies is daarop gemik om lede van mediese skemas te beskerm, maar 'n paar daarvan het tot hoë mediese inflasie bygedra.

Hoeveel hospitaal-dekking kry jy?

Die dae toe die feit dat jy 'n lid van 'n mediese skema of was of 'n hospitaalplan gehad het, beteken het dat jou hospitaalkostes ten volle gedek was, is verby. Baie skemas en hospitaalplanne het spesifieke regulasies oor onder andere orgaanoorplantings, kankerbehandeling, ambulans- en nooddienste, tandartsdienste, mediese toestelle, MIV/vigs-behandeling en kunsmatige ledemate.

Jy mag halfpad deur jou kankerbehandeling vind dat jou voordele opgedroog het – kyk mooi na die regulasies oor die algehele limiete en behandelings wat nie gedek word nie. Dit is absoluut noodsaaklik dat jy hierdie dinge weet. Praat met jou mediese makelaar as jy meer inligting wil hê.

Besoek Health24 se Medical Scheme Centre.

Lees die fyndruk

Dit is ook belangrik, wanneer jy hierdie besluit neem, dat jy uitvind of daar 'n verkose diensleweraar is vir die spesifieke plan of skema wat jy in gedagte het. Mediese skemas het dikwels onderhandelde ooreenkomste met sekere hospitaalgroepe, wat kostes verlaag, maar ook jou keuse beperk. Die verkose diensleweraar kan ook 'n staatshospitaal wees – iets waarvan jy dalk nie bewus mag wees wanneer jy op die stippellyn teken nie.

Hospitaalplanne en mediese skemas val almal onder die outoriteit van die Raad vir Mediese Skemas. Versekeringsmaatskappye het altyd hospitaalplanne verkoop, maar dit is nie meer wettig nie en hulle aanvaar geen nuwe lede nie. Die mening was dat hierdie planne op die gebied van mediese skemas oortree het.

Selfs hospitaalvoordele op volledige mediese skemas het sekere beperkings – nog iets wat in ag geneem moet word voor jy aansluit. Party skemas het lae hospitaallimiete – onvoldoende dekking indien 'n lid en drie afhanklikes by dieselfde ongeluk betrokke sou wees.

Is dit werklik 'n besparing?

As jy finansieel noustrop trek en jy het 'n keuse tussen óf 'n hospitaalplan óf heeltemal geen mediese dekking nie, is die hospitaalplan 'n duidelike keuse. Maar as jy in 'n posisie is om 'n volledige mediese skema te kan bekostig, gee dit beslis vir jou gemoedsrus, aangesien baie van jou dag-tot-dag uitgawes ook gedek word. Baie mense met hospitaalplanne vind dat wanneer hulle bymekaartel wat hulle op dag-tot-dag mediese uitgawes uitgee, dit die prysverskil tussen die hospitaalplan en volledige mediese hulp-lidmaatskap uitkanselleer.

Goedkoper opsies

Baie maatskappye het gereageer op 'n behoefte in die mark vir meer bekostigbare hospitaalplanne. Die premies van party van hierdie planne is redelik laag, maar die voordele ongelukkig ook. Dit is egter beter as om heeltemal geen dekking te hê nie. Party planne stipuleer dat jy 'n spesifieke hospitaalnetwerk moet gebruik, wat in die haak is as daar so 'n hospitaal in jou omgewing is. Praat met 'n makelaar. Jy mag dalk aangenaam verras wees.

Vergelyk bydraes en voordele van verskillende skemas.

Gewilde vrae oor mediese skemas

(Susan Erasmus, Health24, hersien Julie 2010)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE