Share

Hoe gevaarlik is slaappille?

Die neiging is om slaaploosheid so ver moontlik sonder die hulp van slaappille en spesifiek sonder bensodiasepien-slaappille te behandel.

Baie Suid-Afrikaners steun op slaappille, al behoort 'n ieder en elk dit nie ligtelik te sluk nie. Alle slaappille is nie dieselfde nie en sommige is beslis meer verslawend en gevaarlik as ander.

Slaappille kan dodelik wees in groot doserings – veral as dit saam met ander middels wat jou lomerig maak of alkohol gedrink word. Bensodiasepien-pille is verslawend en potensieel gevaarlik: hulle kan geboorte-afwykings veroorsaak en pasgebore babas met groot asemhalings- en ander probleme laat as die ma dit tydens swangerskap gedrink het. Kinders moenie slaappille gebruik nie, want dit kan breinontwikkeling en fisieke groei vertraag.

Omdat bensodiasepiene 'n onderdrukkende uitwerking het, kan dit gevaarlik wees vir mense met asemhalingsprobleme, depressie, 'n psigiatriese siekte, 'n spiersiekte, porfirie, slaapapnee, epilepsie, gloukoom, nier- of lewerprobleme of 'n alkohol- of dwelmprobleem.

Moet in geen omstandighede slaappille drink as dit nie deur jou eie dokter aan jou voorgeskryf is nie – en as dit is, dan presies volgens die dosis wat voorgeskryf is.

Soorte slaappille
Daar is hoofsaaklik twee groepe slaappille, die bekende bensodiasepiene (soos Halcion, Normison, Loramet, Dormicum, Dormonoct en Hypnor) en die nuwergenerasie nie-bensodiasepiene (soos Stilnox en Imovane).

Bensodiasepiene help teen angstigheid en slaaploosheid, maar dit word ook gebruik as slaappil voor narkose, vir ligte narkose, in die behandeling van alkoholmisbruik en as spierverslapper.

Sommige bensodiasepiene laat jou byna onmiddellik slaap, maar hul uitwerking duur net 'n paar uur. Ander se uitwerking duur langer as twaalf uur. Hoe vinniger en korter dit werk, hoe makliker raak ’n mens afhanklik. Dormicum, Dormonoct en Halcion kan so vinnig werk dat jy aan die slaap raak voor jy die bed haal.

Jy kan binne 'n paar weke dat jy dié pille of enige kortwerkende slaappil gebruik, afhanklik word en kwaai onttrekkingsimptome kry. Van die slaappille, soos Rohypnol en Dormicum, se geheueverlieseienskappe is so erg dat dit vir afspraakverkragting misbruik word.

As jy weke lank slaappille gebruik het, moet jy dit nie skielik staak nie, maar geleidelik en met die hulp van jou dokter.

Stilnox en soortgelyke middels is nie bensodiasepiene nie en jy het 'n kleiner kans om van dié pille afhanklik te raak as van ander slaappille. Dit word meestal gebruik om makliker in te sluimer.

Werk enige ander produkte?
Navorsing wys die kruiemiddel Valerian het 'n kalmerende uitwerking, maar die newe-effekte is onseker. Swanger vroue, kinders en lewerpasiënte moet dit liefs nie neem nie, en dit moet ook nie geneem word saam met ander middels wat jou lomerig maak nie.

Middels wat volgens oorlewering kan help, sluit in avena sativa (wildehawer), laventel en kamille. Nytol bevat 'n antihistamien wat jou lomerig maak. Dit moenie vir babas, kinders en swanger vroue gegee word nie, en nie geneem word saam met enige ander medisyne wat jou lomerig maak nie.

(Hierdie is 'n uittreksel uit 'n artikel deur Elise-Marie Tancred wat oorspronlik in Huisgenoot-POLS / YOU Pulse verskyn het. Die jongste uitgawe is nou op die rakke.)

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE