Share

Help! My kop is verstop

Almal met sinusitus weet hoe lastig en seer dit kan wees: kloppende hoofpyn, 'n alewige loopneus, moegheid, beduiwelde vakansies... Onbehandelde sinusinfeksie kan soms selfs tot die dood lei. Ons spesialiste vertel jou hoe om dié nagmerrie te tem.

Deur DIE HEALTH24-SPAN EN MARINDA LOUW

Eers is dit die hoofpyn in jou wange en bo jou oë en die drukking agter jou gesig as jy vooroor buk of met jou vingers op jou gesig druk. Dan kom die toe neus, die drup agter in jou keel. En later ontaard dit in 'n gesigpyn wat so erg kan wees dat dit voel asof elke tand in jou mond seer is...

Louise van der Merwe (40) van Onrus ken dié pyne maar te goed. Sy is een van meer as 16 miljoen Suid-Afrikaners, oftewel 30 persent van die bevolking, wat aan sinusitis ly. Die voorkoms van sinusitus het, net soos allergieë, die afgelope 20 jaar minstens verdubbel, dalk selfs verdriedubbel.

Louise onthou goed hoe sy as kind gedurig hooikoors gehad het: die toe neus, oë wat traan, 'n dowwe kop en as kleuter selfs gebarste oordromme. Soos in die meeste gevalle was allergieë en die gevolglike hooikoors die oorsaak van haar sinusitus.

Haar hoofpyn was dikwels so erg dat sy Deep Heat aan haar gesig gesmeer het om verligting te probeer kry, en 'n gevaarlik hoë dosis van tot twaalf Panado's per dag gedrink het om die pyn te verlig.

"Ek het alles probeer: kortisoon, antibiotika, akupunktuur, kruie, homeopatie en feitlik elke neussproei op die mark," vertel sy.

Louise kry hooikoors van stuifmeel, sekere skoonmaakmiddels en kathare, en sedert dit beter onder beheer is danksy 'n sout-en-koeksoda-neussproei wat sy by die apteek koop, is haar sinusitus ook beter. "Dié eenvoudige raad het my lewe met 70 persent verbeter," sê sy.

Andrea Taylor* (42) van Roodepoort was een van die ongelukkiges wat seldsame, maar uiters gevaarlike komplikasies weens haar sinusitus ontwikkel het. Toe sy vier jaar gelede byna bewusteloos met ernstige breininfeksie in die hospitaal opgeneem is, moes dokters veg om haar lewe te red. Agterna het hulle vasgestel dat alles met 'n chroniese infeksie in die sinuses begin het.

Vir Hardie Mills (35) van Plettenbergbaai was 'n operasie al uitweg. Sy problem was poliepe (groeisels wat waarskynlik weens inflammasie ontwikkel) in die sinusholtes.

Dié is uiteindelik in 'n operasie verwyder en nou gebruik hy net gereeld 'n steroïed-neussproei om te help keer dat sy probleme terugkeer.

Wat is sinusitus?

Sinusontsteking is die inflammasie – met of sonder infeksie – van die slymvliese in die sinusholtes in die neus, agter die oë en in die voorkop, verduidelik dr. Martin Young, 'n oor-neus-keel-spesialis van Knysna.

Daar is tussen 14 en 16 luggevulde sinusholtes in die skedelbeen: weerskante van die neus, agter en tussen die oë, in die voorkop en selfs een dieper na agter. Die holtes maak die been ligter, verbeter stemresonansie en absorbeer heelwat van die impak sou jy 'n harde hou teen die kop kry.

Lug bereik die sinusse deur klein gaatjies in die skedelbeen waarin die sinusholtes geleë is. Die slymvliese wat die sinusholtes uitvoer, skei slym af om die lug wat jy inasem en die lug in jou sinusholtes warm en vogtig te maak. En dis waar die probleem lê.

In die gewone gang van sake dien die bietjie slym wat afgeskei word as filter en beweeg dit amper soos 'n vervoerband oor die klein, fyn borselhaartjies in die neusgange om slym na die keel af te voer, waar dit ingesluk word. "Maar as swelling die klein luggaatjies in die gesigbene verstop, kan die lug nie die holtes binnegaan en die slym kan nie dreineer nie.

"Dan hoop die slym op en verdik dit, en is die kans groot dat bakterieë, virusse of swamme daarin kan groei," sê Martin.

Die vier sondaars

1. Hooikoors is die hoofoorsaak van sinusitus, sê dr. Harris Steinman, allergiekenner van die Allergievereniging van Suid-Afrika (Allsa). Stof, stuifmeel, dierehare, huismyte, sommige oor-die-toonbank-neussproeie en sigaretrook irriteer die slymvliese en lei tot hooikoors. Droë lug kan ook die slymvliese irriteer, asook uitlaatgasse, petrol- en verfdampe, parfuum, insekdoders en huishoudelike skoonmaakmiddels.

Hooikoors kom veral voor in gebiede waar mense aan baie stuifmeel van gras en bome en ook rook en besoedeling blootgestel is, maar mense oor die land heen ly aan sinusitus.

Dit kom toenemend en dwarsdeur die jaar voor, sê dr. Poens van der Merwe, 'n oor-neus-keel-spesialis by die Panorama Medi-Clinic in Kaapstad.

2. Die tweede grootste oorsaak van sinusitus is 'n mens se neusvorm en die bou van die gesigbene. As openinge en gangetjies in dié dele te nou is, kan dit makliker verstop raak – al het jy geen allergie nie. In die verlede is dié probleem dikwels opgelos deur 'n sinusoperasie, waar die verbindingsopeninge tussen die sinusholtes groter geboor is sodat die slym makliker daardeur kan dreineer.

Deesdae is sinusoperasies egter omstrede en meen kenners dit word te veel gedoen. Anatomiese probleme is nie so 'n groot oorsaak van sinusitus as wat in die verlede gemeen is nie en daarby is daar 'n gevaar van komplikasies: In uitsonderlike gevalle kan 'n mens breinvliesontsteking kry of blind word omdat die infeksie deur die oopgeboorde been na die brein of oë kan versprei.

Boonop het sowat een uit vyf mense ná die operasie steeds probleme.

"Sinusoperasies behoort net oorweeg te word as geen ander behandeling help nie," sê Martin.

3. 'n Derde oorsaak van sinusitus is neuspoliepe en ander gewasse in die neus en sinusholtes wat blokkasies kan veroorsaak, soos wat met Hardie gebeur het.

Sommige mense is meer geneig as ander om neuspoliepe te ontwikkel en as hulle boonop gereeld te veel aspirien drink, is die kans vir poliepe groter.

4. 'n Vierde maar minder algemene oorsaak van sinusitus is immuniteitsprobleme. "As jy voortdurend met sinusinfeksies sukkel, laat gerus jou immuniteitstelsel deur 'n allergiespesialis

ondersoek – veral as 'n operasie ter sprake is," sê Harris. Dikwels is die operasie nie nodig nie en kan die immuniteitsprobleem met minder ingrypende behandeling opgelos word.

Die beste medisyne teen sinusitus

Hoofpyn is die algemeenste en eerste simptoom van sinusitus, sê Harris. Dit kan ontstaan omdat die gaatjies in die neusbeen verstop is en lug nie die sinusholtes kan bereik nie. Dit veroorsaak 'n lugleegte in die sinusholte en lei tot pyn.

'n Sinushoofpyn duur gewoonlik 'n paar uur lank en verdwyn sodra die gaatjies in die been weer oop is. Pille soos Sinutab wat 'n ontstuwingsmiddel bevat, is oor die toonbank te koop.

As dit nie help nie, gebruik aspirien (maar nooit vir kinders nie), parasetamol of ibuprofeen, altyd volgens die voorgeskrewe dosis.

Die tweede fase is wanneer oormatige slym afgeskei word, gewoonlik as 'n reaksie op 'n irritasie in die lugweë of omdat die gaatjies in die been verstop is. Ontstuwingsneussproeie soos Dristan, Drixine, Iliadin en Nazene wat ook oor die toonbank beskikbaar is, kan tydelike verligting vir 'n toe neus bring, maar moenie langer as drie dae gebruik word nie.

As hooikoors die onderliggende oorsaak is, word antihistamiene soos Rhinolast ingespan, wat ook oor die toonbank beskikbaar is. Steroïedneussproeie wat kortisoon bevat, soos Inflanaze, Nasonex en Avamys, is die belangrikste behandeling vir hooikoors en om infeksies te keer. Dis slegs op doktersvoorskrif beskikbaar.

Die derde fase is die ernstigste en gaan gepaard met 'n sinusinfeksie. Dit gebeur wanneer die slym nie dreineer nie, begin verdik en 'n ideale broeiplek vir virusse en bakterieë skep, wat dan die weefsel in en om die sinusholtes laat opswel en ook gewoonlik gepaard gaan met koors.

As bakterieë eers 'n vastrapplek in jou sinusholtes gekry het, sal jy waarskynlik dik, geelgroen neusslym ontwikkel. Dan het jy antibiotika nodig wat jy minstens 10 tot 14 dae lank moet gebruik, en in sommige gevalle selfs tot agt weke lank, omdat die antibiotika baie moeilik tot in die sinusholtes dring.

Gewoonlik word 'n steroïed-neussproei soos Inflanaze saam met die antibiotika voorgeskryf om die swelling en inflammasie van die slymvliese te verminder en die gaatjies in die been weer oop te kry. Moet nooit jou voorgeskrewe antibiotika of steroïed-neussproei staak voor jy dit so lank gebruik het as wat voorgeskryf is nie. "Vroeë staking van dié middels is die algemeenste rede waarom mense aanhoudende sinusinfeksies ontwikkel," sê Harris.

*Skuilnaam

 Lees meer:

Stuit sinusontsteking – op die natuurlike manier

Is dit sinusitis of verkoue?

Keer so dat jy weer sinusitus kry

Sinus flitsfeite

Sinusitis Condition Centre
Home treatment for sinusitis

We live in a world where facts and fiction get blurred
Who we choose to trust can have a profound impact on our lives. Join thousands of devoted South Africans who look to News24 to bring them news they can trust every day. As we celebrate 25 years, become a News24 subscriber as we strive to keep you informed, inspired and empowered.
Join News24 today
heading
description
username
Show Comments ()
Editorial feedback and complaints

Contact the public editor with feedback for our journalists, complaints, queries or suggestions about articles on News24.

LEARN MORE